Friday, May 27, 2011

KNIBBEL No.4 - ONS VERANTWOORDELIKHEID AS OUERS

Dis eenvoudig verbysterend as mens daaraan dink dat God in Sy geheimenisvolle wysheid en raad ouers verordineer het om lewe voort te bring - so te sê vanuit niks nie. 'n Nuwe wese - lewend, rasioneel, onsterflik! Kan enigiets wat ons hier op aarde vermag meer gewigtig en meer verhewe wees? Niks lig die mens tot 'n hoër vlak nie. Niks wat deur 'n skepsel verrig word, is grootser as dit nie - nie op aarde nie, nie in die hemel nie. Niks bring ons nader aan die status van ons almagtige Skepper as dit nie.
Die grootsheid van 'n baba se ontvangenis en geboorte word nie bloot gesien in die wondere van sy of haar liggaampie nie, verbysterend soos dit is. Die nog meer oorweldigende lê in die feit dat 'n unieke individu voortgebring is wat vir ewig sal lewe. As jong ouers na hulle baba kyk, moet hulle besef dis 'n onsterflike lewe wat hulle verwek het. Dis 'n vlam wat nooit weer geblus kan word nie, ongeag waardeur so 'n lewe in die jare wat voorlê ook al sal moet gaan. Dink daaraan, die een oomblik was daar niks nie; die volgende 'n wese wat persoonlik en bewustelik tot in alle ewigheid sal leef! In hierdie skepping is daar geen krag wat dit ongedaan kan maak nie. Die ouers het 'n lamp aangesteek wat lank nadat die son tot as verval het, steeds sal bly brand - óf met die heerlikheid van gelykvormigheid aan Christus, óf met die rokende vlam van uitsiglose wanhoop en ellende.
Dis die feit van hierdie twee eindbestemmings wat so 'n enorme verantwoordelikheid op ouers laai. Enersyds was hulle die instrumente wat aan elkeen van hulle kinders die gawe van ewige bestaan gegee het. Andersyds is dit húlle wat hul kinders vergiftig het met die erfsonde - die erfskuld wat 'n mens van die eerste lewensoomblik af onder God se toorn plaas, en die erfsmet wat jou van kleins af tot sonde laat neig. Kan daar dus 'n groter verantwoordelikheid op ons rus as om deur verkondiging, voorbeeld en voorbidding die Here se reddende ingrype in ons kinders se lewens te soek?
In Spr 22:6 word die ouer beveel om aan sy kind leiding te gee oor hoe hy of sy moet leef. Maar hoe móét 'n mens leef? Volgens Ef 6:4 moet ons ons kinders grootmaak in die weë van die Here. Maar wat ís die regte pad?
Wat ook al die antwoord, dít staan vas: vir die grootste gedeelte van 'n kind se opvoedingstyd is hy of sy totaal onbekwaam om hierdie vraag te antwoord. Hy kan trouens nie eers begin om dit te doen nie. Dis gevolglik onontkombaar: die ouer moet vir hom of haar besluit! Natuurlik moet ouers hulle kinders toelaat om selfstandig en individueel te ontwikkel. Natuurlik kan ons nie hulle persoonlikhede en voorkeure soos lood in ons eie groefies giet nie. Maar dat God in Sy soewereine wysheid besluit het om aan ons 'n ontsaglik belangrike rol toe te ken in die vorming van ons kinders, staan so vas soos die berge! En elke ouer mag en moet alles wat die Here tot sy beskikking stel in die proses gebruik. Hy moet elke geleentheid gebruik, hy moet die tyd uitkoop. Hy moet die voorbeeld stel, hy moet lering gee, hy moet die roede gebruik. Sonder huiwering moet hy sy meerdere kennis, ervaring en vermoëns gebruik om die waarheid, asook dit wat reg en verkeerd is, in die jong gemoed te vestig. Hy moet die kind alles leer wat hý geleer het. In die proses sal hy hom noodwendig oortuig, of probeer oortuig, waarvan hý oortuig is.
Hoe kragtig is hierdie invloed nie! Vir alle praktiese doeleindes lewer dit die kind aan sy ouers uit. En hy is - in elk geval aanvanklik - totaal onmagtig om dit te weerstaan. Dis hoekom appels na aan bome val. En dit het nie net met genetika te doen nie; dit het net soveel met opvoeding te doen.
Nêrens anders gee God aan die mens soveel mag nie. Wat is meer verreikend? Wat raak 'n medemens meer ingrypend? Wat dra meer langtermyn-gewig? Wat het meer ewigheidsbetekenis? En presies hier lê die rede vir die skrikwekkende verantwoordelikheid wat op elke ouerpaar rus! As die Here dan vir jou en my as ouers 'n bykans goddelike rol gegee het in die voortbring en vorming van ons kinders - selfs wat hulle ewige lot betref - durf ons hierdie roeping verwaarloos? O, mag die Here ons help!
As ons dan so 'n belangrike rol in ons kinders se lewens speel, kom staan 'n vraag vierkantig voor ons: wat is die heel belangrikste inset wat ek in hulle lewens kan en moet maak? Wat moet ek meer as enigiets anders by hulle tuisbring? Baie sal antwoord: morele waardes - die verskil tussen reg en verkeerd! Gewis is dit van die allergrootste belang. Sonder twyfel lê dit aan die hart van opvoeding. En tog is dit nié die heel belangrikste nie. Moraliteit op sigself sal immers aan niemand die ewige lewe besorg nie. Wat is dan die summum bonum? Waarheid! Waarheid! Waarheid!
En wat is die hoekpilare van die waarheid waarsonder ons nie ons kinders die wêreld mag instuur nie? God - Sy heilige karakter en volmaakte standaarde soos Hy dit aan ons geopenbaar het. Die mens - sy onontkombare rentmeesterskap en gepaardgaande aanspreeklikheid voor sy Skepper, maar ook sy mislukking in hierdie verhewe roeping. Jesus Christus - God se enigste maar volmaakte oplossing vir ons verskriklike dilemma.
Nou lê dit voor die hand dat hierdie elemente van die waarheid wat tot in alle ewigheid saak maak, bloot akademiese inligting vir ons kinders sal wees as hulle nie elke dag sien hoe dit óns lewens beheers nie. Ons moet dit as 't ware modelleer. En hulle moet nóg mense sien in wie se lewens dit 'n ingrypende verskil maak. En hulle moet die onmiskenbare verskil sien tussen diegene vir wie Christus die weg, die waarheid en die lewe is, en diegene wat maar gewoon afdryf in die stroom van hierdie wêreld se beheptheid met selfhandhawing, selfbevoordeling en selfbevrediging.
Die diepste essensie van ons opvoedingstaak as ouers is om dag na dag die waarheid by hulle in te prent deur 'n lewe van dissipelskap voor hulle oë. Dis om hulle geduldig te leer en te laat leer. Dis om hulle gewetens te slyp op die steen van God se wet. Dis om sonder ophou vir hulle te bid - dat die Here Sy waarheid diep in hulle harte sal ingrafeer. Dis om by 'n gemeente in te skakel waar die volle raad van God twee-en-vyftig Sondae per jaar gepreek word - en waar die lidmate in Jesus se voetspore stap en God die Vader in gees en waarheid aanbid. Dis om jou kinders te leer dat daar 'n verskil is tussen waarheid en leuen, tussen egtheid en skynheiligheid, tussen lig en duisternis.
Laat ons in 'n duisend ander dinge misluk, maar nie hierin nie! En wat van dié van ons wie se mislukking 'n onomkeerbare feit is? By God is daar altyd vergiffenis vir die ootmoedige. En wanneer 'n ootmoedige bid, is amper niks onomkeerbaar nie!
Nico van der Walt

KNIBBEL No.3 - POSTMODERNISME - Filosofie van twyfel

Die gees van ons tyd

'n Nuwe begrip het die afgelope paar jaar verskyn en kry al hoe meer aandag in die media. Die koerante is vol daarvan. Postmodernisme is die gees van die tyd!
Dat dit iets is waarvan ons deeglik moet kennis neem, is gewis. Moenie dink dis net 'n vinnig-verbygaande gier in filosofiese kringe nie. Nee, Postmodernisme is met ons. Ons kinders kry dit by die skole in, TV en tydskrifte drup daarvan, dis besig om ons samelewing onherroeplik te verander. En Postmodernisme het homself arrogant in die gestoeltes van kerk en teologie kom sitmaak.
Waaroor gaan dit, as ons praat van Postmodernisme?

Die aufklärung

Voordat mens na Postmodernisme kan kyk, moet jy sekerlik eers verstaan wat die Modernisme is waarvan Postmodernisme die post is. Die moderne wêreld is tydens die Aufklärung, oftewel die Verligting van die vroeë agtiende eeu gebore. Die uitstaande filosoof van hierdie tyd was 'n Duitse professor aan die Universiteit van Königsberg, Immanuel Kant (1724-1804). Geen ander denker het die lewens- en wêreldbeskouing van die negentiende en twintigste eeue meer ingrypend beïnvloed as hierdie man nie. In 1784 skryf hy 'n artikel waarin hy die vraag vra, wat is die Aufklärung? Eenvoudig gestel kom sy antwoord hierop neer: dis die mens se mondigwording! Uiteindelik, sê hy, het die mens geleer om vir homself te dink ‒ onafhanklik van die Bybel, of die kerk, of die staat se voorskrifte.
Kant het geleer dat alle kennis slegs gebaseer is op sintuiglike waarneming (empirisisme), maar dat die rede dit dan moet vertolk, verwerk en orden (rasionalisme). Dit het gelei tot die wydverspreide mite van totaal objektiewe wetenskap en 'n diep vooroordeel teen die bonatuurlike. Groot dele van die Bybel, soos die maagdelike geboorte van Christus, wonderwerke, Christus se opstanding, ensovoorts, is dus onaanvaarbaar. En, natuurlik, die Goddelike oorsprong en gesag van die Woord het Kant se toets ook nie geslaag nie.
Die Modernisme beskou die rede dus as outonoom. Dis nie onderworpe aan 'n gesag wat van buite af kom nie ‒ daarom ook nie aan God se Woord nie.

Modernistiese teologie

Soos maar altyd was daar destyds ook 'n klomp teoloë wat in hulle sug om iets nuuts te sê agter die gees van die tyd aangedraf het. Liberale teologie steek dus kort na Kant se dood sy kop in Duitsland uit. Gou-gou is dit mode om die Bybel aan allerlei wetenskaplike en historiese ondersoeke te onderwerp. Navorsing poog om die sogenaamde historiese Jesus op te diep uit die Nuwe Testament se verpakkingsmateriaal ‒ subjektiewe belewinge, volkslegendes, aandikkings en naakte leuens. Die evangelie moet gedemitologiseer word. Talle en talle navorsingstukke sien die lig. Daar is egter één probleem ‒ nie een stem met 'n ander saam nie.

Reaksiestrominge

Reaksie teen teologiese Liberalisme bly nie uit nie.
Bekendste hiervan is seker die Neo-Ortodoksie ‒ met teoloë soos Karl Barth (1886-1968) en Emil Brunner (1889-1966) aan die spits. Een van Barth se beskouinge is dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit die Woord van God word ‒ wanneer dit subjektief tot jou spreek. Openbaring is dus 'n gebeurtenis, 'n ontmoeting. Hierdie reaksie teen rasionalisme maak natuurlik opnuut voorsiening vir godsdienstige verinniging en belewing. Probleem is net dat dit die objektiewe waarheid van die Bybel by die agterdeur uitvee. Barth verwerp dan ook die idee dat die Christelike geloof 'n reeks proposisionele waarhede is. Vir hom is teologie nie 'n ondersoek van vasgelegde openbaring nie, maar 'n gesprek, 'n proses, 'n aktiewe stryd. Die Christelike geloof, sê hy, is die dinamika wat ontstaan as mens deur die evangelie gegryp word, aan die een kant, en gekonfronteer word met 'n sondige wêreld waarin jy dit moet uitleef, aan die ander kant. Hoewel Barthianisme sy waarheidsmomente het, maak dit helaas die deur wyd oop vir individualisme ("dit gaan oor mý wandel met die Here!"), subjektivisme ("in my Christenskap is niks belangriker as belewing nie!") en relativisme ("dis OK as jy dit nie kan aanvaar nie, maar vir mý is dit waarheid!").
'n Ander invloedryke reaksie teen Teologiese Liberalisme vind ons in die pragmatisme van sekere sektore van Amerikaanse Evangelicalism ("as dit werk, is dit in orde!"). Die mensgesentreerde argument teen modernisme is dus: "Al kan ons nie die Bybel bewys nie, kyk net watter wonderlike effekte het die evangelie in menselewens. Dit maak van die wêreld 'n beter plek!"
Hand-om-die-lyf hiermee loop natuurlik die wêreldwye Charismatiese Beweging, met sy eiesoortige pragmatisme en belewingsbeheptheid.
En in hulle reaksie teen die teologiese Liberalisme van die Modernisme dra elkeen van hierdie strominge hulle eie klippe aan vir die fondamente van Postmodernisme binne die kerk.

Die sonsondergang van modernisme

Verskeie faktore het in die twintigste eeu bygedra tot ondermyning van die Modernisme.
Eerstens was daar ontwikkelinge in die natuurwetenskappe wat begin toon het dat Immanuel Kant se uitgangspunte nie water hou nie. Belangrikste hiervan is waarskynlik Einstein se relatiwiteitsteorie.
Tweedens is die Modernisme se optimisme oor menslike vooruitgang gestuit deur twee wêreldoorloë, asook tegnologiese ontwikkelinge wat oënskynlik ernstige bedreiging inhou vir ons voortbestaan. Die mens se rede en wetenskap was besig om monsters te skep wat tot sy uitdelging kon lei: die kernbom, industrialisasie, gepaardgaande ekologiese vernietiging, ensovoorts.
Derdens het die groot politieke kragte ‒ Nazisme en Kommunisme ‒ 'n diep wantroue veroorsaak in ideologie en dogmatiese aansprake. Op 'n kleiner skaal is dieselfde dinamika tans in Suid-Afrika sigbaar. Apartheid se ineenstorting het 'n onrusbarende politieke en oortuigingsapatie by veral ons jongmense meegebring. Die Afrikaanse Kerke, wat Apartheid Bybels probeer regverdig het, verkeer in 'n ernstige gesagskrisis. En die dae is verby dat 'n dominee sonder meer geglo word, bloot omdat hy 'n "gesant van die Here" sou wees.
'n Heel nuwe wêreld het dus in die laaste kwart van die twintigste eeu opgedaag, veral die laaste tien jaar. Teenoor die Modernisme se aandrang dat die enigste werklikheid dit is wat ons sintuiglik kan waarneem, het 'n nuwe beheptheid met die religieuse na vore getree. New Age, Oosterse mistisisme en die okkulte is in. 'n Terugkeer na die aarde maak dikwels meer emosies wakker as die ambisie om wetenskaplik en tegnologies te ontwikkel. Mense raak toenemend siek en sat vir die dryf van die kapitalisme. Hordes jongmense het net nie meer ideale nie, om nie eers van sterk oortuigings te praat nie.
Modernisme se beklemtoning van die rede moes oor die afgelope dekade of twee plek maak vir emosie, belewing en gevoel. Mense sê nie meer iets "is" so nie; hulle sê hulle "voel" so of so oor 'n saak.

Filosofiese oorspronge

Postmodernisme is gesneller deur ontwikkelinge in die literatuurkritiek. Daar word só geredeneer: 'n spreker of skrywer se woorde is bloot uitdrukkings van sy innerlike belewinge en beteken baie meer as wat hy bedoel ‒ of selfs kan verstaan. Wie kán in elk geval presies onder woorde bring wat hy wil sê? Die hoorder of leser moet dus maar sy eie betekenis aan die betrokke woorde heg. Eintlik gebeur dit vanself. En dís 'n intens persoonlike en interne saak. Elkeen doen dit op sy eie manier.
Dit bring dus mee dat betekenis in die finale analise in die hoorder of leser lê, nie in die woord self nie. Daar is dus net soveel betekenisse as wat daar vertolkers is. En daar is geen objektiewe standaard om dit aan te meet nie.
Hieruit volg nou die drie pilare van Postmodernisme:

Dekonstruksionisme : alles is relatief
As definisie en waarheid nie absoluut is nie, beteken dit dat dit voortdurend aangepas kan word sonder enige vrees vir teenspraak. En as daar nie so iets soos absolute waarheid is nie, kan daar ook nie iets soos die leuen wees nie. Dit gaan alles oor vertolking.
Vir die postmodernis is waardes soos vaste oortuigings en konsekwentheid fundamentalisties ‒ en dus verkeerd. Dit beteken dat elke mens meer as een "persoonlikheid" kan hê ‒ godsdienstig, seksueel, professioneel, polities, ensovoorts. En nie een hiervan hoef in pas met die ander te wees nie.
Dis waarom van "dekonstruksionisme" gepraat word. Konstruksie is om aan mekaar te sit, dekonstruksie om uit mekaar te haal. En vir die postmodernis maak dit nie saak as dieselfde mens meer as een rol speel nie. As hy Vrydagaand sedeloos optree, kan hy Sondag rustig in die kerk sit sonder gewetenswroeging. Die een kompartement van sy lewe hoef nie betrekking te hê op die ander nie. Wie het gesê daar moet konsekwentheid in sy lewe wees?

Pluralisme : die waarheidsvraag
Pluralisme sê dat absolute waarheid nie kenbaar is nie en dat twyfel normaal is. Daarom is godsdienstige waardes 'n kwessie van eie keuse. Objektiewe, universele en onveranderlike ortodoksie bestaan nie. Dus is daar nie iets soos kettery nie. Die enigste kettery is om enigiets kettery te noem. Geen godsdienstige beskouing durf homself as die enigste legitieme siening aanmatig nie. En nog minder kan dit ander beskouings as verkeerd afmaak.
Persoonlike keuse is dus alles. Ons leef in die era van doen-dit-self godsdiens. Elkeen maak sy eie god op ‒ soos dit hom pas. En niemand hoef een van die bestaande opsies te kies nie. Elkeen kan sy eie filosofiese en godsdienstige sisteem opbou deur waar jy ook al wil 'n handvol te gaan haal. Geïnstitusionaliseerde en vasgelegde ortodoksie is uit; tuisgemaakte, saamgeflanste en persoonlike spiritualiteit is in. Elkeen selekteer na hartelus vanuit die eeu-oue en wêreldwye verskeidenheid.
En terwyl alle opsies ewe legitiem is, is die maatstaf wat saak maak dié van opwinding. Die Postmodernisme is in die eerste instansie 'n kultuur op soek na belewing, eerder as na waarheid (waarin dit in elk geval nie glo nie).

Relativisme : wat is reg en verkeerd?
Wat die etiek betref, het elkeen die reg om sy eie morele standaarde te kies. Aangesien daar geen objektiewe en algemeen geldende norme is nie, moet elkeen in elke betrokke situasie self kies wat vir hóm reg of verkeerd is.
Die postmoderne wêreld het beswaarlik nog 'n samelewingskonsensus oor reg en verkeerd. Weliswaar word baie gedebatteer daaroor. Maar meestal is dit net 'n uitpak van elkeen se gevoelens oor die saak. Jy het jou opinie en ek myne ‒ en dis in orde so. Sélf is die middelpunt van moraliteit; etiek is geprivatiseer. Al wat aanstoot gee, is enige aanspraak op gesagvolle absolutes.
'n Tipiese benadering sal dus só klink: "As dit vir jóú waar en reg is, is dit OK met my. Moet dit net nie op my afdwing nie. Vir mý is dit en dat waar en reg. Ons is elkeen vry om sy eie gevoel oor die saak te hê. En as ons mekaar duld, kan ons in vrede saamleef en saamwerk."

Saamgevat

Volgens Postmodernisme is daar nie regtig iets soos objektiewe, vasstaande en universele waarheid nie ‒ alles is subjektief-persoonlike en relatiewe belewing.
Dus: as iets vir jóú waar is, dan is dit waar. En dis goed so. Aanvaar net dat iets ánders vir jou buurman waar kan wees. Glo dus wat jy wil. Moet net nie dogmaties (of fundamentalisties) daaroor raak nie. Enige oortuiging is dus in orde ‒ solank jy net nie sê dat 'n ander verkeerd is nie. Dís die enigste oortuiging wat verkeerd is.
Met die aandrang op absolute waarheid het Postmodernisme min geduld. Want dit bedreig mense se keusevryheid. Soos in die Modernisme is die mens ook hier die middelpunt en outonoom. Hy is sy eie norm ‒ 'n wet vir homself. Hy is sy eie god! En hier is ons terug by die oer-oue hart van sonde. Vat hieraan, en skielik is Postmodernisme glad nie meer so verdraagsaam nie.

Slotsom

Tot die mate wat kerk en teologie Postmodernisme aan boord neem, sal dit ten minste twee gevolge hê:
Eerstens sal die kerk algaande sy greep op objektiewe, geopenbaarde waarheid verloor; moreel al hoe meer akkommoderend raak; en ophou om die evangelie van Christus as enigste Middelaar uit te dra. Spoedig sal die kerk sy geloof versaak, sy identiteit verloor en sy roeping verbeur.
Tweedens sal die kerk beleef waarvan die Prediker praat. Hierdie filosofie van twyfel, wat alles versubjektiveer en relativeer, moet noodwendig lei tot sinloosheid ‒ en uiteindelik tot agnostisime. As niks vas is nie, waar sal ons uitvind óf daar 'n God is? Hoe sal ons weet wie of wat Hy is? En as ons dit nie weet nie, is alles, letterlik alles, futiel ‒ 'n waardelose gejaag na wind!
Ter plaatse is die aanslag teen die evangelie tans nie vervolging nie, maar relativering. Is Christus die enigste weg tot die Vader? Wie is ons om te sê ander is verkeerd? Maar voor ons ons oë uitvee, kan dit maklik in vervolging omsit ‒ teen diegene wat kompromieloos aandring op die absolute en unieke aard van die Christelike geloof.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.2 - VERBYSTERENDE SOEWEREINITEIT


U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder.
Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
As ek hulle sou wou opnoem, hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
Ps 139:13-18

Dit is God se soewereine prerogatief om te skep - of om nié te skep nie.
Elke geboorte is die gevolg van 'n bepaalde vroulike eiersel wat deur 'n bepaalde manlike spermsel bevrug is.
My genetiese samestelling hang af van wátter spermsel my moeder bevrug het. So 'n bevrugting vind nie elke keer plaas nie, maar as dit wel gebeur, is dit deur een van die miljoene spermselle wat by 'n gegewe geleentheid teenwoordig is en elkeen van hulle sou dit eweneens kon doen. Dink daaraan: as dit 'n ander sperm was, het iemand anders met 'n ander genetika ontstaan!
In 'n proses van ongelooflike presisie word 'n bevrugte eiersel d.m.v. chromosome en gene van 'n chemiese bloudruk voorsien wat die verdere ontwikkeling van daardie mens vorentoe grootliks beheer. Dit bepaal hoe die selle sal verdeel en vermenigvuldig, hoe hulle in weefsel, bene, ledemate, organe en sintuie sal ontwikkel. Dit bepaal of so 'n mens manlik of vroulik sal wees, wit of swart, groot of klein, slim of dom, atleties of lomp. Dit bepaal die persoonlikheidstrekke, besondere aanlegte en temperamentele geneigdhede. Dit maak van so 'n persoon die unieke, unieke, unieke mens wat hy of sy is!
Wat meer is, wie en wat ek is, word nie slegs bepaal deur die fyn en eksakte detail van my bevrugting nie. Dink net aan alles wat dit moes vooraf gaan sodat ek die mens kan wees wat ek is! As groot-oupagrootjie sy verlowing met groot-oumagrootjie verbreek het om met 'n ander jeugliefde te trou, het ék nie vandag bestaan nie. En niemand sou my gemis het nie!
Elke keer as een bepaalde spermsel 'n bepaalde eiersel bevrug, ontstaan 'n mens wat tot in ewigheid sal bestaan. Dit geld nie net die onuitspreeklik bevoorregtes wat die ewige saligheid sal beërf nie; dit geld ook (oorweldigend!) alle ander mense.1 By hierdie skepping van 'n mens is ander mense as medewerkers betrokke - die ouers (en voorouers!). Hoe hierdie menslike medewerking ook al geskied - in heiligheid of in sondige wellus - God regeer onverstoorbaar soewerein bo-oor alles!
Op laasgenoemde werp die Here Jesus se geslagsregister in Matteus 1 insiggewende lig. Slegs vier vrouens (voor Maria) word genoem, en oor elkeen hang 'n vraagteken van behoorlikheid: Tamar; Ragab; Rut; Batseba ("die vrou van Urija", sodat ons nie vergeet nie).2

Waar staan jy? Óf ... Óf
Dit staan so vas soos die berge: óf God is volledig in beheer van alles, tot in die fynste besonderhede; óf Hy moet met krisisbestuur poog om die geskiedenis te stuur volgens Sy wil.
Per definisie kan die verloop van die geskiedenis net vasgelê wees indien één soewerein regeer. Die oomblik as 'n tweede onafhanklik begin werk - wat staan nog miljoene - het selfs God nie absolute beheer oor die verloop van sake nie. En dan kan ook Hy nie presies weet waar en wanneer alles gaan eindig nie.
Baie mense aanvaar dat God inderdaad die groot, histories-bepalende gebeure beheers. Dat Hy egter by die nietige betrokke is, kan hulle nie aanvaar nie. Maar uit bogenoemde volg dit onontkombaar: as God nie die geringe beheers nie, het Hy ook nie volkome beheer oor die groot dinge nie. Iets so infinitesimaals klein soos die bymekaarkom van 'n bepaalde spermsel en 'n bepaalde eiersel kan immers enorme historiese betekenis hê.
Dink net: as in Adolf Hitler se geval 'n ander een van die miljoene spermselle wat teenwoordig was die bepaalde eiersel bevrug het, is Adolfina Hitler dalk gebore. Of as sy ma die betrokke aand hoofpyn gehad het en ontvangenis eers ‘n maand later plaasgevind het, het hiérdie Hitler dalk ‘n balletdanser geword. En dan het ons waarskynlik nie 'n Tweede Wêreldoorlog gehad nie. Hoe anders sou die geskiedenis nie verloop het nie. En miljoene sou veel langer bekeringstyd gehad het!
Nog meer duiselingwekkend: God se verbysterende detail-regering strek terug oor die ontvangenis en lewens van al my voorsate - regdeur tot by Sy uitverkiesende raadsbesluit voor die grondlegging van die aarde!
Waarlik, as ‘n Christenman en sy vrou intieme gemeenskap het, veral as hulle poog om swanger te raak, is dit ‘n heilige saak. Bykans neem dit sakramentele dimensies aan! In die proses is hulle medewerkers van Sy ewige raadsplan!
Watter lig werp hierdie saak nie op die skrikwekkend onheilige praktyk van aborsie nie! Hoe glashelder verlig dit nie die kwelvraag van baie oor wanneer die lewe van ‘n fetus begin nie? Eers op tien weke? Twintig weke?
Nico van der Walt

KNIBBEL No.1 - MR. ETERNITY

Dis 'n koue aand in 1956 as die predikant van Burton Street Baptist Church in Sydney die skimagtige figuur van 'n knielende man raaksien. Dié is besig om iets op die sypaadjie te skryf. "Is jý tog nie Mnr. Ewigheid nie!", roep die pastor uit. Die kerk se skoonmaker kom regop ‒ 'n skraal en besondere kort figuurtjie ‒ en antwoord met 'n sagte stem: "Ja, ek is die skuldige, meneer!"
Na 26 jaar se gissings is die geheim van "Mr. Eternity" uiteindelik opgelos. Deur die dekades heen was die woord "Eternity" gereeld soggens orals op Sydney se sypaadjies geskryf ‒ 'n stuk of 500 000 keer in netjiese groot bordkryt-letters.
Arthur Stace se verhaal is 'n uitstaande getuienis oor God se genade vir 'n sondaar en hoe Hy met die kromste stok die reguitste houe kan slaan.
Arthur is in 1884 in Sydney gebore. Hy, sy twee broers en twee susters, moes dikwels onder sakke buitenshuis slaap om hulle dronk ouers se geweld te ontkom. Die kinders het oorleef deur afgelewerde melk en brood van stoeptrappies af te steel, en deur afvalkos uit vullisdromme op te diep. Van skoolgaan was daar nie eintlik sprake nie en Arthur is die lewe ongeletterd binne. Op veertien begin hy in 'n steenkoolmyn werk (sy susters word prostitute) en kort voor lank is hy 'n volslae alkoholis. Hy steel om vir sy drank te betaal en op vyftien is hy vir die eerste keer tronk toe. Later sou hy vertel: "Ek was voortdurend dronk, altyd platsak, deur en deur sleg en totaal sonder uitsig of hoop."
In 1914 sluit hy by die weermag aan en word 'n voetsoldaat aan die Franse front in die Eerste Wêreldoorlog. Na 1918 se vrede sit hy sy beskonke lewe in Sydney voort. In die aanloop tot die depressie verloor hy sy werk en al wat oorbly, is om bedelaar te word.
Uiteindelik word die ses-en-veertigjarige dronkaard in Augustus 1930 deur God se genade gearresteer. Saam met nog 'n klompie boemelaars is hy een aand na die St. Barnabas Kerk waar kos uitgedeel sou word. Hulle moes egter eers na die besoekende prediker luister. Onder die preek kyk hy na die Christene om hom ‒ en 'n diep begeerte om te kry wat hulle het, pak hom beet. Dan bid hy die eerste keer in sy lewe. Na die diens gaan pleit hy soos die tollenaar van ouds in 'n nabygeleë park om God se vergiffenis. En soos dit altyd gebeur as 'n sondaar hom werklik gebroke en werklik opreg voor God verootmoedig, word hy deur die Here se herskeppende krag oorspoel. Hy het koek en tee gaan soek, maar hy het die Verlosser gekry.
Dit was die einde van Arthur Stace se drinkery. Hy het spoedig weer 'n werk gekry. En sy voete was vasbeslote onderweg na selfrespek, lewenssin, bruikbaarheid en koninkryksnut.
Net meer as 2 jaar na sy bekering gaan woon Arthur 'n diens by in die Burton Street Baptist Church. Die prediker is die vurige evangelis, John Ridley. Tydens sy rede sê Ridley hy wens hy kon die enkele woord "Eternity" in Sydney se strate loop en skreeu ten einde mense te herinner dat daar 'n ewigheid vir elkeen van hulle voorlê en dat jou lewe hier en nou bepaal waar jy dit gaan deurbring. Met díé roep die prediker toe uit volle bors: "Eternity! Eternity! Eternity!"
Eensklaps het die eenvoudige Arthur geweet wat sy lewensroeping is: wat Ridley nie kon doen nie, sou hý doen ‒ so ietwat aangepas. Hoewel ongeletterd, het hy huis toe gegaan en geoefen totdat hy die woord "ETERNITY" netjies in groot blokletters kon skryf.
Onder aanmoediging van sy vrou, Pearl, het hy soggens vieruur opgestaan, met 'n baadjiesak vol bordkryt Sydney se strate ingevaar, en elke paar honderd meter die woord "eternity" op die sypaadjies geskryf. Hy het die Here biddend vertrou om hom daagliks te lei oor watter deel van die stad hy moes dek.
Streng gesproke was Arthur se skrywery teen die wet ‒ en talle kere is hy amper uitgevang ‒ maar wat hom betref, het hy toestemming van die Hoogste Gesag gehad. Die koerante het begin gis oor die geheimsinnige evangelis. Dag na dag is honderde Jan Allemans aan ewigheidsrealiteite herinner. En kort voor lank was "Mr. Eternity" so deel van Sydney soos die hawebrug en Waltzing Mathilda. Hoewel verskeie mense die polisie en media geskakel het met aansprake oor die sypaadjie-profeet se identiteit, het niemand buite Arthur se huiskring geweet wie die skuldige was nie. So het dit vir baie jare aangehou.
Toe "Mr. Eternity" uiteindelik ontmasker is, het sy kollegas onthou hoe hy gereeld met die aanbreek van middagete die werksplek met 'n tas in die hand verlaat het. Hy het die uur gebruik om traktate in die stad uit te deel ‒ veral aan die minderbevoorregtes en boemelaars
Arthur Stace is in 1967 op drie-en-tagtigjarige leeftyd aan beroerte dood. Hy het sy liggaam aan die Universiteit van Sydney bemaak en versoek dat die betaling daarvoor aan liefdadigheid geskenk moes word. Toe sy liggaam 'n paar jaar later ter ruste gelê is, het honderde mense hulde kom betoon aan hierdie nederige dienskneg van Christus.
Dit word vertel ‒ hoe betroubaar weet niemand nie ‒ dat die woord "Eternity" op die klok in die Algemene Poskantoor se toring geskryf is. Die gebou is in 1965 herstel en die klok is blykbaar vir 'n enkele nag op grondvlak gehou voordat dit in die toring teruggehys is. Die volgende oggend egter, so lui die storie, het die voorman ontdek dat iemand gedurende die nag hierdie veelseggende woord daarop gegrafeer het.
Wat wel daar is vir almal om te sien, is 'n gedenkplaat naby die Sydney Operahuis met bloot die woord "Eternity" in koperletters daarop. So word die stad se inwoners herinner aan die merkwaardige mannetjie wat 'n tydlank in hulle midde was ‒ maar veral aan die enkele boodskap wat hy vir dekades lank aan hulle verkondig het. Hierdie eenvoudige maar aangrypende verhaal verskaf ook die antwoord op 'n raaisel wat miljoene mense onlangs stomgeslaan het. Net na middernag op 1 Januarie 2000 het die kleurrykste en duurste vuurwerkvertoning wat Sydney ooit beleef het, bokant die hawebrug afgespeel. Omdat hierdie stad een van die eerstes was om die nuwe millennium binne te gaan, het nie net 'n miljoen Australiërs daarna gekyk nie, maar ook TV-kykers rondom die aardbol. En reg teen die einde, as hoogtepunt, word die grootse skouspel toe só afgesluit: agt reuse vuurletters verskyn voor dermiljoene oë teen die kant van die brug: E-T-E-R-N-I-T-Y. Arthur Stace het baie liefgehad, omdat hy baie vergewe is. Hy het sy baie beperkte gawes voluit gebruik. Hy was getrou en volhardend daarin. Hy het die tyd uitgekoop. En hy het miljoene op sy manier ge-evangeliseer. Mag ook mý lewe ‒ en joune ‒ so 'n rimpeleffek soos syne hê. Mag dit dekades na my dood steeds Godverheerlikende vrug voortbring en baie, baie meer mense ten goede raak as wat ek ooit in hierdie lewe kon bereik.Laat ons die fundamentele waarheid van 2Kor 12:9-10 nooit vergeet nie: Sy (die Here se) antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
Nico van der Walt
Erkenning en bron: Jim Cromarty, Mr. Eternity, Evangelical Times, March 2000

KNIBBEL No.13 - WONDERGENADE IN NUREMBERG

NA DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG is 'n klompie van die Nazi swaargewigte aangekla van massamoord en misdade teen die mensdom. Hulle verhoor voor die Internasionale Militêre Tribunaal in Nuremberg het op 31 Augustus 1946 tot 'n einde gekom. Uitspraak is op 1 Oktober van daardie jaar gelewer. En die teregstelling van 'n aantal van die aangeklaagtes is op 16 Oktober voltrek.
Een-en-twintig Nazis is aangekla. Vyftien het hulleself as Protestante verklaar, en ses as Rooms-Katolieke. Die geallieerdes het vir elkeen van hierdie twee groepe 'n kapelaan aangestel. Vir die Protestante was 'n twee-en-vyftigjarige Amerikaanse Lutheraan, Henry Gerecke, verantwoordelik. Kaptein Gerecke kon vlot Duits praat en was deur en deur evangelies van oortuiging.
Toe dit duidelik geword het dat hulle sonder twyfel die oorlog sou verloor, het van die mees senior Nazis, soos Hitler, Himmler en Goebbels selfmoord gepleeg. Maar onder Gerecke se groep van vyftien was daar ander bekendes, oftewel berugtes, soos Rudolf Hess, Hitler se tweede-in-bevel in die Nazi-party, Hermann Goering, hoof van die Luftwaffe tydens die oorlog, Veldmaarskalk Wilhelm Keitel, opperbevelhebber van die Duitse weermag, en Joachim von Ribbentrop, Hitler se minister van buitelandse sake.
In die tronk is 'n kapelletjie ingerig en Gerecke het elkeen van sy manne na die eerste diens toe uitgenooi. Dertien van die vyftien het opgedaag. Hess en Alfred Rosenberg, nog 'n kabinetslid van Hitler, het van die begin af gesê hulle stel geensins belang in die evangelie nie.
Aan die einde van die diens het Fritz Sauckel, eens Hitler se hoof van arbeidsvoorsiening, gevra om in sy sel met Gerecke te praat. Sauckel was 'n berugte man. Volgens een van die regters was hy die wreedste slawedrywer sedert die Egiptiese Farao's, en inderdaad is miljoene slawe-arbeiders onder sy bevel tot hulle dood gedryf. Maar nou was Sauckel se brawade en hardvogtigheid iets van die verlede. Hy was 'n gebroke man.
In Sauckel se sel aangekom, het die Duitser vir Gerecke oor die evangelie uitgevra en toe na 'n rukkie versoek dat die kapelaan vir hom uit die Bybel lees en saam met hom bid. Weldra het Sauckel self op sy knieë gesak en gebid - en sy gebed afgesluit met die woorde, "O God, wees my, 'n sondaar, asseblief genadig!"
In die volgende dae het die krygsgevangene 'n eie Bybel gekry, sowel as Luther se Kategismus. Spoedig was Gerecke daarvan oortuig dat hierdie Nazi slawedrywer en moordenaar van ontelbaar baie, gebroke was en waarlik gered.
Ongeveer 'n maand na die eerste diens, teen die einde van 1945, het Gerecke agter gekom dat groot veranderinge ook in Fritzsche, Schirach en Speer aan 't plaasvind was. Hy het hulle dieper ingelei in die Christelike geloof, en spoedig het ook hierdie drie, wat sóveel bloed op hulle hande gehad het, saam met Sauckel die nagmaal begin gebruik.
Wilhelm Keitel, voormalige hoof van die Nazi weermag, was volgende om tot geloof te kom. Tydens sy eerste nagmaal het hy die brood en beker op sy knieë gebruik, en onder trane gesê: "Mag Christus, my Verlosser, my enduit begelei. Ek sal Hom só nodig hê!"
In die lente van 1946 het ook Admiraal Raeder laat blyk dat hy 'n Christen wil word. Hy het weliswaar deur baie intellektuele geloofsvrae gewroeg, maar mettertyd 'n ywerige Skrifstudent geword.
Baie bemoedigend vir die Amerikaanse kapelaan was die geleidelike verandering wat hy in Joachim von Ribbentrop se gesindheid waargeneem het. Oor 'n tydperk van etlike maande het sy afsydige en arrogante hovaardigheid plek gemaak vir opregte belangstelling. En algaande het daar 'n nederige gebrokenheid by hom begin intree. Dit was 'n kwessie van tyd voordat ook hy aan die gereelde nagmaalsvierings begin deelneem het. Hierdie eens trotse Nazi magsfiguur het, trouens, by sy vrou gepleit om, sou hy tereggestel word, geen steen onaangeroerd te laat om hulle kinders in die weë van die Here groot te maak nie. En, volgens Lutherse tradisie, het hy ook geen rus of duurte gehad voordat sy kroos gedoop is nie.
Soos reeds gesê, word die verhoor uiteindelik op 31 Augustus 1946 afgesluit. As uitspraak gelewer en vonnisse gefel word, kry ses van die Amerikaanse kapelaan se vyftien manne die doodstraf (Goering, Von Ribbentrop, Keitel, Frick, Sauckel en Rosenberg), 3 lewenslange tronkstraf (Hess, Raeder en Funk), 4 lang vonisse (Schirach, Speer, Von Neurath en Doenitz), terwyl 2 onskuldig bevind word (Fritzsche en Schacht). Van die 6 Rooms-Katolieke kry 5 die doodstraf.
Drie van Gerecke se gemeentetjie van sewe nuwe Christene sou dus gehang word. Nog drie kry lang tronkstraf. En een word vrygespreek.
Die teregstellings vind plaas in die vroeë oggendure. Die vorige aand het Gerecke nog 'n laaste besoek aan Hermann Goering gebring, in die hoop dat daar by hierdie hardvogtige man 'n gesindheidsverandering sou wees. Maar die voormalige hoof van die Nazi lugmag het steeds met beslistheid die evangelie verwerp. Minder as twee uur later, en enkele ure voor sy beplande teregstelling, pleeg hy selfmoord deur kaliumsianied te drink.
Von Ribbentrop word eerste gehang - om eenuur die oggend. Terwyl hy na die galg stap, bely hy nogeens sy geloof. As 'n Amerikaanse offisier hom vra wat sy laaste woorde is, is sy reaksie: "Ek plaas al my vertroue in die Lam wat versoening vir my sonde gedoen het. Mag God my genadig wees!" Dan draai hy na Gerecke: "Ons sal mekaar weer sien!" Die swart mus word oor sy kop getrek, die lus word om sy nek geplaas - en dan ruk die galgtou styf.
Keitel en Sauckel is volgende. Ook hulle bely nogeens hulle geloof openlik en suiwer. Dan volg hulle Von Ribbentrop die ewigheid in.
As dit Frick se beurt is, kry Gerecke 'n verrassing. Hoewel hierdie gewese minister van binnelandse sake - verantwoordelik vir die dood van derduisende - nooit laat blyk het dat hy glo nie, bely hy nou vir die eerste keer sy vertroue in Christus as Middelaar. Dan sluit die laksman se vingers ferm om sy arm. Met sy belydenis wat nog op die omstaanders se oortrommels vibreer, vertrek ook hy om die Here van die here te ontmoet.

Gerecke self het sy broers vyftien jaar later gevolg - 'n hartaanval.
Nico van der Walt
Bron: Don Stephens, War and Grace, Evangelical Press, 2005.

KNIBBEL No.14 - 'N BRIEF AAN 'N GELIEFDE PROFESSOR EN MENTOR

20 November 1999

Prof. J.C. Coetzee
Molenstraat 123
Potchefstroom
2531

Geagte Professor,

U sal verbaas wees oor hierdie brief - indien u my nog kan onthou. Ek dink darem so. Ek het in 1981 graad gekry by die Teologiese Skool, nadat my kandidaatstudie die vorige jaar deur die Kuratorium opgeskort is.
U sal vra waarom ek na amper 2 dekades van my laat hoor. Ek weet nie eintlik nie, behalwe dat ek besef ek moes dit lank, lank gelede reeds gedoen het. Na 'n dol jaar kon ek uiteindelik geleentheid vind om bietjie weg te breek. Ek sit tans soos my vinger iewers in die voetheuwels van die Drakensberg, en soos dit gaan as jy in afsondering is en soggens kan slaap totdat jy vanself wakker word, begin jy spoedig voorraad opneem van jou lewe. Nostalgie is 'n snaakse ding. Vanmôre word ek toe wakker met 'n verlange na die Doppers en na Potchefstroom. En ek wens ek kan 'n teologiese probleem waarmee ek stoei met u bespreek.
Dit daar gelaat. Maar twee dinge wil ek vir u sê:
1. Baie dankie vir die insette wat u destyds - oor jare heen, selfs al van Stellenbosch se dae af - in my lewe, denke en oortuigings gemaak het. Ek was 11 jaar voltyds op universiteit en het baie uitstaande dosente gehad, maar geeneen van hulle se klasse het ek meer geniet en meer waardeer nie. U het kop en skouers bo almal uitgestaan. Tot vandag toe, as ek diep verwondering en genot put uit die oopgrawe van openbarings-historiese verbande, onthou ek by wie ek geleer het hoe om dit te doen.
2. Ek is baie jammer oor die verleentheid - selfs smarte - wat ek u destyds aangedoen het tydens my krisis by die Teologiese Skool. U was immers die Rektor van die TS en moes uiteraard midde-in die hele saak staan - en dit terwyl u nie sonder 'n sekere begrip en empatie was nie (so het ek nog altyd geglo). Ek onthou steeds met ontroering u trane toe u die dag in u kantoor die brief van skorsing vir my gegee het - hoe ons saam staan en huil het aan weerskante van u lessenaar. Maar daar was groter kragte as ons aan die werk. Wat myself betref, kan ek die volgende sê: die Kuratore was sonder twyfel reg - ek sou liederlike skade as Gereformeerde predikant gedoen het! Ek het net eenvoudig baie meer hitte as lig gehad, en as die twee dinge nie in balans is nie, is jy as predikant 'n ramp wat soek om te gebeur in 'n gemeente.
Maar ten spyte van alles was dit die Here se manier om my uit te haal uit 'n sisteem waarin ek sou versmoor het. Ek bedoel dit nie negatief nie; dis ék wat die jukskeibreker was (en is?). Tot vandag toe is ek Hom dankbaar dat Hy my halstarrigheid en dwaasheid geduld het (kan dit wees dat party mense eers in hulle middeljare begin groot word!) toe ek ver en wyd en wild rondgehardloop het. Sekere van ons leer oënskynlik net deur skades en skandes! Hoe ook al, uiteindelik kan ons net alle eer aan ons Hemelse Vader gee, want dis Hý wat alles in Sy uitverkorenes se lewens na die goeie toe laat heenwerk - naamlik gelykvormigheid aan Sy Seun (dit was nog u wat die dinamiek in Rm 8 se Grieks onder my aandag gebring het).
U kan seker aan my trant hoor dat ek geen bitterheid oor destyds se gebeure het nie. Aanvanklik was daar soms iets van 'n bitsigheid (soos die van 'n hond wat onder 'n kar beland het), maar algaande het dit plek gemaak vir 'n diep dankbaarheid oor die Here se goedheid in my en Soniah se lewens. Dit beteken nie dat ek nie dikwels intens terugverlang nie. Dit was immers 'n ingrypende verplanting destyds.
Weliswaar het ek teologies teruggekeer na my wortels. Na 'n klompie ongemaklike jare in die Charismatiese Beweging het ek en my vrou ons uiteindelik in 1990 totaal daarvan losgemaak. Sekere gebeure het ons gedwing om doelbewus te begin vra na die eerste beginsels en ononderhandelbare hoekpenne van ons geloof - na die necessariis. Naas ons aanvanklike bekering was dit die mees lewensveranderende ervaring wat ons ooit gehad het. Na 6 maande se wroeginge was ons deur en deur gereformeerd in ons oortuigings - nee, gewoon Bybels, Godgesentreerd, Christusgefokus! Eintlik was dit tot 'n groot mate al voor die tyd van ons waar - dis waarom ons square pegs in die Charismatiese Beweging was. Maar nou was daar definisie en 'n aangekome klarigheid.
Vérder kan ek helaas nie terugkeer nie. Ek is steeds 'n oortuigde baptis. Baie dink mens kan nie meteen gereformeerd en baptisties wees nie. Dis egter nie waar nie - nie teologies nie, en ook nie histories nie. Vanaf die 1630's vloei daar 'n ononderbroke Reformed Baptist -stroom, veral in die Engelse wêreld (maar ook vandag toenemend in die derde wêreld, oftewel die twee-derdes kerk). Seker die bekendste Reformed Baptist was Charles Haddon Spurgeon. En saam met hom kan ek net van harte sê: "I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, 'It is Jesus Christ!'".
En dan is ek evangelies. Ek glo en preek dus van harte dat álle mense (ook my eie kinders) nodig het om wedergebore te word, en dat die evangelie die krag van God tot redding is. Ek dink nog altyd dat die wydverspreide idee van "verbondskinders se veronderstelde wedergeboorte" 'n vernietigende doodsteek is in Afrikaans-gereformeerde geledere. Nooit kan ek die Here genoeg dank dat Hy ses-en-twintig jaar gelede herskeppend op hiérdie selfgenoegsame en selfgesentreerde huigelaar beslag gelê het nie!
Ek wil u nie verder vermoei met persoonlike besonderhede nie, maar moet net meld dat ek en Soniah, na jare in die Vaaldriehoek, deur daardie gemeente na Pretoria gestuur is met die oog op gemeenteplanting (ja, die Afrikaners is vinnig besig om sendingobjekte te raak). Ons woon nou amper 6 maande hier. Dis 'n voorreg, maar ook 'n enorme uitdaging. Hier is honderde - nee, derduisende - kerklik ontnugterdes. Baie het slegte ervaringe in die Charismatiese Beweging gehad, talle het net moeg geword vir vormgodsdiens, en toenemend baie is totaal verward en bykans sonder geloof te wyte aan die modernistiese en mensgesentreerde teologie wat ook al hoe meer in Afrikaanse kerklike kringe 'n vastrapplek begin kry. Meeste van hierdie mense noem hulleself nog Christene, maar baie behoort nie meer aan gemeentes nie. En hulle kinders raak kerklos, kerkloos en post-christelik groot. Dis 'n tragedie wat mens nie onder woorde kan bring nie. As ons iets kan doen om van hierdie verdwaaldes weer op die pad van die waarheidsevangelie te bring, sal dit óns pad van skade en skande oor en oor die moeite werd maak.
Om Christus die Gekruisigde en die evangelie van God se vrye genade by elke geleentheid te preek, is die grootste voorreg van my lewe. Ek het oneindige vreugde in my roeping!
Ek vertrou dat dit met u en u gesin goed gaan. Mag die Here u ryklik seën - u wat 'n seën vir soveel ander was, en sekerlik steeds is.

Hartlike groete in Jesus Christus,
Nico van der Walt

KNIBBEL No.15 - DIE TRAGEDIE VAN FRANKRYK

DIE LOSBANDIGE EN WELLUSTIGE UITSPATTIGHEID VAN DIE KONINGS HET NA DIE ARISTOKRASIE OORGESPOEL, EN VAN HULLE AF WEER NA DIE GEWONE MENSE. Godsdiensbeoefening het veeleerder 'n massa korrupsie geword. Die kloosters was neste van sedelose onheiligheid. Onkunde was wydverspreid en selfs afstootlik. Net die adel was effens geletterd. Selfs kon baie van die priesters nie lees of skryf nie. Anargie was orals en die verrotting van wellewendheidstandaarde weersinwekkend. Die samelewing het uitmekaar geval. En die kerk was onreformeerbaar. So was Frankryk aan die begin van die 1500's.
Maar toe kom Luther. En protestantse idees het van Duitsland af begin oorspoel. En toe begin Johannes Calvyn in Parys werk. Maar gou-gou moes hy vir sy lewe vlug. Hoewel hy nooit weer na sy vaderland sou terugkeer nie, sou niemand die Franse reformasie méér beïnvloed as hy nie. In die Here se genade was hy die man wat die Hugenote - want so is die Franse Christene genoem - se geloof gerig en onder woorde gebring het. En in Geneve, Calvyn se werksplek, is die Hugenote se predikante opgelei. Hy het altyd vir hulle gesê, "Stuur vir ons stokke, en ons stuur vir julle pyle terug."
Binne enkele jare is 88 predikers uit Geneve na Frankryk gestuur. Hierdie manne moes in die nag reis, dikwels langs obskure paadjies. Bedags moes hulle wegkruip - in solders, agter vals mure, in hooimiedens. Baie het nooit hulle bestemmings bereik nie. Jare se opleiding het meermale, voordat vrugbare werk gedoen kon word, op 'n brandstapel geëindig. Diegene wat wel hulle eindpunte bereik het, het hulle by groepies ondergrondse protestante gevoeg - wat uiteraard maar te dankbaar was vir opgeleide mense wat hulle dieper in God se Woord, waarhede en weë kon inlei. Hierdie gemeentes het onder die seënende hand van die Here verstommend gedy, ten spyte van die feit dat alles teen hulle getel het. Die enkele protestantse gemeentes in 1555 het binne 8 jaar tot 2150 vermeerder. 'n Konserwatiewe skatting wil dat 3 miljoen van Frankryk se 20 miljoen mense vroeg in die 1560's reeds lidmate van hierdie gemeentes was. Sommige historici skat die syfer veel hoër.
Frankryk het begin gloei met die lig en vrymaking en ondernemingsgees wat die Godgesentreerde geloof altyd meebring. Kort voor lank het die Hugenote bekend begin raak vir hulle hardwerkendheid en onkreukbare morele waardes. 'n Spreekwoord het in die samelewing ontstaan: "So eerlik soos 'n Hugenoot." Baie van hulle was vakmanne wat net die beste werk gelewer het en deur almal vertrou is oor hulle integriteit.
Wat die Puriteine in Engeland was, en die Covenanters in Skotland, was die Hugenote in Frankryk. Dat die Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde geloof elke keer hierdie kwaliteit mense voortgebring het, is waarlik 'n getuienis vir die veredelende krag van die ware evangelie.
Maar die vervolging, wat van die begin af fel was, het toegeneem in intensiteit. Sondag, 24 Augustus 1572, staan bekend as St. Bartlomeasdag. Gewetenloos en geslepe is groot getalle protestante in Parys uitgemoor. En in die volgende dae het die slagting in die res van Frankryk voortgeduur. Die bekende historikus, Philip Schaff, skat dat 30 000 protestante in die bloedige paar dae gesterf het.
Dit het meegebring dat 'n paar honderdduisend Franse uit die land gevlug het - tot so ver soos Amerika. Uiteindelik - heelwat later - het 'n klomp van hulle ook aan die Kaap geland en ons volkslewe wonderlik verryk.
Die verlies vir Frankryk was onherstelbaar. Die groot historikus, Lecky, 'n klipharde ongelowige, skryf: "The destruction of the Huguenots ... was the destruction of the most solid, the most modest, the most virtuous, the most generally enlightened element in the French nation, and it prepared the way for the inevitable degradation of the national character, and the last serious bulwark was removed that might have broken the force of that torrent of skepticism and vice which, a century later, laid prostrate, in merited ruin, both the altar and the throne."
Warburton skryf: "The best blood of France deluged the battlefield, the brightest genius of France was suffered to lie neglected and starving in prison, and the noblest characters which France ever possessed were hunted like beasts ...".
Só vinnig het die reformatoriese geloof, voor 1572 en St. Bartlomeasdag, regoor die land gespoel, dat dit begin lyk het of die ganse Franse volk spoedig voor die evangelie en sy verheffende effekte sou swig. Maar helaas ...
Smiles, in sy "Huguenots in France", skryf: "It is curious to speculate on the influence which the religion of Calvin, himself a Frenchman, might have exercised on the history of France, as well as on the individual character of the Frenchman, had the balance of forces carried the nation bodily over to Protestantism, as was very nearly the case ..."
Vandag weet ons dat dit in God se raadsplan anders uitgewerk het. En ons weet dat Frankryk sedertdien net dieper en dieper in 'n blinde heidendom ingesink het. Minder as 1% van die bevolking is vandag min of meer evangeliese gelowiges. Mag die Here in Sy oneindige genade die ontbinding stuit en selfs omkeer - soos Hy al meermale in ander gevalle gedoen het.
In Suid-Afrika beleef ons geen noemenswaardige vervolging nie. Maar die magte van die bose se aanslag teen die ware evangelie is ewe fel, weliswaar op 'n ander manier. Hoe gaan kerkhistorici oor 'n honderd jaar vandag beoordeel? Wat sal hulle van ons sê, ons wat onsself Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde Christene noem? Dat ons heroïes ons staan gestaan het en opgetree het soos ons moes, of dat ons soos paddas was in 'n pot wat op 'n vuur gesit is om te kook? Wat gaan ons kinders en kleinkinders by ons erf?
Nico van der Walt

KNIBBEL No.16 - ENKELE GREPE UIT DIE RUSSIESE KERKGESKIEDENIS

'N SKOT, ENE MELVILLE - IN RUSLAND BEKEND AS VASSILIJ IVANOVITCH - was 'n agent van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. Hy het 60 jaar van sy lewe gewy aan Bybelverspreiding in die omgewing van die Kaukasiese Gebergtes en die suidelike streke van Rusland. Hy het ook boeke versprei en die evangelie-inhoud verduidelik oral waar hy getrek het. Hy het gekies om ongetroud te bly ten einde die uitdra van die evangelie in daardie onbereikte gebiede sy enigste lewenstaak te maak. Verskeie ander kolporteurs het in sy voetspore gevolg en na ander dele van Rusland uitgereik.
    'n Ander sendeling vanaf die Britse Eilande se werk was gans anders, maar nie minder vrugbaar en aangrypend nie. Lord Radstock het Engeland in 1866 verlaat, die evangelie in verskeie lande verkondig, en uiteindelik in St. Petersburg aangekom. Daar het hy Bybelstudies gelei in sommige van die aristokrasie se huise. Die Heilige Gees het dit ryklik geseën en talle vooraanstaandes het tot bekering gekom onder sy eenvoudige en op die man af prediking. Selfs mense in die koninklike familie het tot geloof gekom. Hierdie gelowiges het die Bybel met kinderlike gehoorsaamheid begin uitleef. Hulle het hulle laat doop en gereeld die Nagmaal gevier. En in hulle weelderige wonings het arm, eenvoudige en ongeletterde Christene sy aan sy met van die land se rykste en magtigste mense gesit - saamgebind deur die band van hulle gemeenskaplike lewe in Christus.
    Een van die bekeerlinge was 'n skatryk grondbaron, Kolonel Vassilij Alexandrovitch Paschkov. Hy het die danssaal van sy paleis beskikbaar gestel vir byeenkomste en self die evangelie oral verkondig - in tronke, hospitale en Christelike byeenkomste. Sy rykdom het hy aangewend om die Bybel te versprei, om boeke en traktate te druk, om die armes te help en om die Koninkryk van God op elke denkbare manier te bevorder. Uiteindelik word Paschkov in 1880 deur die Russies Ortodokse Kerk verbied om byeenkomste in sy huis te hou. Hy hou egter daarmee vol en word dan onder invloed van die Heilige Sinode eers uit St. Petersburg verban, en later uit Rusland. Meeste van sy eiendom is gekonfiskeer.
*   *   *

'N KLEINBOER WAT OP DIE PLATTELAND NOORD VAN OMSK GEWOON HET, IS OPGEROEP OM IN DIE JAPANESE OORLOG TE GAAN VEG. Hy kry 'n Nuwe Testament van 'n mede-soldaat en by die lees daarvan kom hy tot bekering. Die eertydse drinker en geweldenaar het 'n nuwe mens geword. Nugterheid, eerlikheid en vrede het sy lewe begin kenmerk.
    Terug by die huis na die oorlog het die veranderinge in hom sy vriende opgeval. Veral verstommend was sy rugdraai op die godsdienstige seremonies van die Ortodokse Kerk. En in sy huis het nie 'n enkele ikoon oorgebly nie. Daarenteen het hy gereeld die Nuwe Testament saam met 'n vriend gelees. Kort voor lank het ook dié tot geloof gekom.
    Die plaaslike priester kon dit nie langer duld nie en onder sy aanmoediging is die nuwe Christen deur sy pa en broers flenters geslaan. As sy vrou hom nie met groot sorg verpleeg het nie, sou hy dit gewis nie oorleef het nie.
    Intussen het nog mense by aanhoor van die Nuwe Testamentiese boodskap Jesus Christus begin volg. By elke moontlike geleentheid het die nuwe dissipels bymekaargekom om uit die Skrif te lees. Een van die dinge wat hulle spoedig raakgesien het, was dat die vroeë kerk sonder uitsondering nuwe gelowiges gedoop het. Die oud-soldaat het gevolglik sy nuwe broers en susters begin doop in die Irtishrivier wat by hulle dorpie verbyloop. 'n Nuwe Testamentiese gemeente het ontstaan. Elkeen het sy mede-gelowiges gedien met die gawes wat die Here gegee het, en spoedig is ouderlinge bevestig. Week na week, op die Dag van die Here, het hulle in eenvoud bymekaargekom - onder meer om die Here se dood te herdenk in die Nagmaal.
    Vervolging het nie uitgebly nie. Die Christene se huise en ander eiendom is verniel. En self is hulle gereeld aangerand. Maar hulle het die vernedering, verwerping en skade met waardigheid en sonder weerwraak verdra. Soos dit altyd gaan, het steeds meer mense egter die Here aangeneem - totdat die helfte van die inwoners naderhand tot geloof gekom het. Die Ortodokse Kerk se weerstand het gekwyn. En in hierdie dorpie was niks ooit weer dieselfde nie.
*   *   *

WAT BEGRYP DIE MEESTE VAN ONS VAN DIE PRYS WAT SOMMIGE VIR HULLE GEHOORSAAMHEID AAN DIE HERE MOET BETAAL? Onderstaande kykie na die lotgevalle van 'n negentiende eeuse Russiese gesin is nie net hartverskeurend nie, maar ook 'n streng aanklag teen die murmureringe wat so maklik oor ons lippe kom.
    'n Arbeider en sy gesin in die suide van Rusland was ywerige lidmate van die Nuwe Testamentiese gemeentetjie in hulle dorp. Die gelowiges het baie gely vir hulle geloof. Een nag het gewapende polisie ook by hierdie man se huisie ingebreek. Nadat hy, sy swanger vrou en hulle kinders mishandel is, is hy in hegtenis geneem. Die vrou het in kraam gegaan en moeder en baba is altwee oorlede. Vier kinders het agter gebly - die oudste 'n dogter van dertien.
    Om hulle pa so gou moontlik op te spoor en weer met hom verenig te raak, het nou vir hierdie kinders 'n obsessie geword. Spoedig het hulle gehoor dat hy verban is na Vladikavkas in die Kaukasiese gebied. Vasbeslote om by hom aan te sluit, het hulle die lang en moeisame tog oor die uitgestrekte steppe aangepak. Soms het hulle gelowiges raakgeloop wat hulle gehelp het, ander kere moes hulle bedel om te oorleef.
    By hulle bestemming aangekom moes hulle verneem dat hulle pa verder aangestuur is na Tiflis. Totdat hulle sterk genoeg was om verder te trek, het die plaaslike gemeente hulle versorg. Uiteindelik kon hulle die lang en steil pad oor die Kaukasiese Gebergtes aanpak. In Tiflis is hulle hartlik deur die Christene ontvang. Maar terselfdertyd moes hulle die hartverskeurende nuus hoor dat hulle hul vader net gemis het en dat hy ver weg gestuur is - na 'n afgeleë gebied digby die Persiese grens. Verder kon hulle eenvoudig nie. Maar hulle ontroosbare hartseer het twee van die broeders so in die hart gegryp dat hulle onderneem om die pa te gaan soek. Hulle sou vir hom proviand neem, asook die nuus dat sy kinders veilig en versorg is.
    Helaas, toe die twee manne na 'n baie lang trek by hulle bestemming aankom, is die verbysterende nuus aan hulle meegedeel dat die man by sy aankoms eenvoudig op sy bed gaan lê het om aan 'n gebroke hart te sterf.
Nico van der Walt
Bron : E.H.Broadbent, The Pilgrim Church, p. 327-334