Tuesday, June 28, 2011

KNIBBEL No.28 - DIE ARBEIDSVERORDENING

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip." (Gn 1:28).
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (Gn 2:15).

DIE ARBEIDSVERORDENING LÊ PER IMPLIKASIE IN DIE SABBATSVERORDENING - en spesifiek in die opdrag om gereeld te rus (Gen2:2-3). Om uit te span het immers geen betekenis as dit nie teen die agtergrond van arbeid verstaan word nie. Maar in die eerste instansie berus die arbeidsinstelling op die uitdruklike opdragte wat Adam ontvang het. Die mens is in die tuin geplaas om te werk.
Volgens Gen 2:15 moes die mens die tuin bewerk en oppas. Laasgenoemde moet verstaan word in die sin van versorg, omsien na, in stand hou - en nie in die sin van bewaak teen bedreigings nie. So iets is tog ondenkbaar in die volmaakte wêreld voor die sondeval. Die NIV se, "to take care of", is in die kol.
Die arbeidsopdrag het volledig by die mens se verhewe status en waardigheid gepas. Dit was nie 'n straf of 'n las nie; inteendeel, dit was deel van God se seën oor die mens. Arbeidadel! Arbeidsgenot!
Hierdie feit moet ons as gelowiges waarsku teen die wêreld se negatiewe instelling met betrekking tot arbeid. Werk is nie gegee as deel van die vloek nie. Dit was en bly 'n skeppingsverordening. Dis deel van die mens se basiese samestelling en roeping om te wil en te kan werk. Daarsonder boet hy lewenskwaliteit in, raak hy die sin van sy bestaan byster, verloor hy sy menswaardigheid.
Dit moet ons ook waarsku teen die veragting van nederige handewerk wat eweneens so voorop is in ons samelewing. Dis 'n onbybelse mentaliteit. Laat ons nie vergeet wat die Here Jesus vir die helfte van Sy lewe hier op aarde gedoen het nie. Vir seker het Hy nie die bleek, maer hande van middeleeuse skilderye gehad nie. Hy het groot, sterk werkershande gehad - skrynwerkershande. En waarskynlik sterk voorarms en skouers - dit was voor die dae van elektriese kraggereedskap.
Die opdrag van Gen 1:28 is baie betekenisvol - veral die opdrag om die aarde te onderwerp (OAV). Sonder twyfel dui dit op die ontwikkeling en benutting van al die basiese grondstowwe en potensialiteite waarvan ons wêreld so oorlopens vol is. Dit impliseer nie net die aanwending van energie nie, maar ook ontdekkende denke en navorsing. Dit impliseer ontleding en samevoeging, verwerking en raffinering, ontwikkeling en kanalisering.
Soos die mens nie vir die Sabbat gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens; so is die mens ook nie vir die aarde gemaak nie, maar die aarde vir die mens. Hy moet daaroor heers en dit - dis vir sy versorging, welsyn, genot en bevrediging gegee!
Daar is natuurlik 'n nog meer verhewe rede waarom die mens die aarde moes (en steeds moet!) verken en onderwerp - die verheerliking van God, die Skepper. Die aarde behoort aan die Here in sy totaliteit, en is vol van Sy heerlikheid. Ontdekking van sy Maker se almag, goedheid en menigvuldige wysheid, was voor die sondeval die ongevalle mens se primêre motivering en aansporing om die skepping te ondersoek en te benut. So is sy dae gevul met oorstelpte lof.
In die volmaakte staat was daar dus geen konflik tussen plig en plesier, geen teenstelling tussen heelhartige spontaniëteit en hardwerkende gehoorsaamheid nie. In gehoorsaamheid lê die mens se hoogste vervulling immers.
Selfs die gevalle mens vind dat daar min dinge is wat hom so fassineer en vasgevang hou as wetenskaplike navorsing. Ongelukkig gaan dit so dikwels gepaard met eiebelang en selfbevrediging. Dit beteken egter nie dat die herskepte mens moet wegbly van die laboratorium, die fabriek en die konstruksieterreinnie nie. Inteendeel. Maar hy moet seker maak hy word deur die regte motivering gedring. Die Christenwetenskaplike en gelowige ondernemer se leuse word in Ps104:24 verwoord: "U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep."
Hoeveel vreugde bring die embrionale realiteite van die nuwe skepping nie nou al vir die gelowige nie! Hoeveel vervulling put ons nie uit dienswerk vir die Here nie! Ps119 is vol van hierdie ekstase: "U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet. Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe." (v.54-56).
Ons herskepping is egter nog onderweg. Teenoor ons hart van harte, beur die vlees steeds weg van plig en gehoorsaamheid af. En dis die oorsaak van soveel van ons pynlikste frustrasies - ons onvermoë om God te behaag soos ons regtig wil. Ons is herskep om inspanningloos te sweef, maar die grawitasiekragte van oorblywende sonde dwing ons weer en weer grond toe. Ek het die hart van 'n arend, maar die vlerke van 'n flap!
Daar kom egter 'n dag van afronding, 'n oomblik van vervolmaking. Dan sal die reste van gevallenheid en die smet van sonde, finaal iets van die verlede wees! En ons sal ons Maker dien met ongebreidelde oorgawe - op 'n nuwe aarde. Ons sal werk en ontdek, ons sal navors en bou - onvermoeid. Tot in ewigheid sal ons nie genoeg kry nie. Want ons sal die Here al hoe meer leer ken. En Sy lof sal ons hoogste vreugde wees.
Nico van der Walt

Thursday, June 23, 2011

KNIBBEL No.27 - 'N STUK LEWENSWYSHEID

DAAR IS TWEE DINGE IN DIE LEWE: DIE VOLMAAKTE EN DIE WERKLIKHEID.
Volwassenheid is om die volmaakte as ideaal te sien,
maar om met die onvolmaakte as werklikheid saam te leef.
Om die werklikheid gelate te aanvaar,
en die volmaakte sinies af te skryf,
is dwaas.
Om net die volmaakte te erken,
en die werklikheid te misken,
is kinderagtig en naïef.
Weier dus om vrede te maak met gebrokenheid,
maar maak vrede met die feit van gebrokenheid
- dit is volwassenheid.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.26 - GEBED - VERLANGE NA 'N HEILIGE LEWE

O HERE, MY GOD,
Vir my is die hoogste goed om U te behaag
en om te wees wat U wil hê ek moet wees.
Ag! As ek maar heilig kon wees soos U heilig is,
vlekkeloos soos Christus,
volmaak soos die Heilige Gees.
Die roeping om heilig te lewe, is waarlik die uitnemendste opdrag in U Woord!
En tog, helaas, breek ek hierdie bevel van U weer en weer.
Moet dit waarlik nog die res van my lewe in hierdie wêreld voortduur?
Is dit regtig nodig? Onontkombaar?
O, ek is 'n sondaar!
Ek bedroef U, die Algoeie God - U wat oneindig is in U goedheid en genade!
As U my maar vir elke oortreding wou straf,
sou dit nie so seergemaak het wanneer ek U beledig nie.
Maar hoewel ek oor en oor sondig,
betoon U oor en oor U goedheid aan my.
Ek sou enige prys betaal om nou al van sonde ontslae te raak - indien dit maar moontlik was.
O, as ek net kon ophou om U, die God van heerlikheid, te onteer!
Wat kan ek tog doen om U, die allerhoogste, allerheerlikste Wese te aanbid soos dit moet?
- om U te verheerlik soos dit hoort?
O, as ek maar myself sonder enige beperkinge volmaak kon toewy aan U diens.
O, as ek myself maar só vir U kon opoffer
dat ek nooit weer eiebelang en selfverheffing sou najaag nie,
dat ek nooit weer begeertes en emosies sou hê wat strydig met U wil is nie!
Maar, helaas, ek kry dit nie reg om te lewe sonder om te sondig nie!
Ten minste verheerlik die éngele U - onophoudelik en vir ewig;
ten minste buig húlle steeds laer voor U, die heerlike Hemelkoning.
En, kort voor lank, sal ook mý stem en lewe suiwer en harmonieus by hulle aanbidding inval!
Die apostel is reg: "Uit genade is julle gered!"
Al sou ek vir ewig alles doen wat ek kan,
sal ek bloot 'n breukdeeltjie van die hulde bring
wat die allerhoogste, algoeie en driemaal heilige God toekom.
Here, verruim tog my kapasiteit om U te ken en U te dien.
O, vul tog my hart steeds meer en meer met U goddelike, hemelse liefde!
AMEN.

Vry vertaal uit "The Valley of Vision - A Collection of Puritan Prayers & Devotions", p.128.

KNIBBEL No.25 - GEORGE WHITEFIELD SE YWER VIR DIE HERE

AS DAAR GESOEK WORD NA 'N VOORBEELD VAN APOSTOLIESE YWER VIR DIE UITDRA VAN DIE EVANGELIE, MOET GEORGE WHITEFIELD (1714-1770) SEKER AS EEN VAN DIE GROOTSTES BESKOU WORD. Hy het gereeld skares van tot 30 000 toegespreek - sonder moderne klanktoerusting! En as ook sy informele prediking in ag geneem word, tel die aantal boodskappe van sy leeftyd tussen 30 000 en 40 000. Sy prediking het 'n baie breë appél gehad - gesofistikeerde Engelse aristokrasie, Kingswood myners, Londen se agterbuurt-bewoners, asook Amerikaanse slawe en Indiane, is almal ewe veel daardeur aangegryp. Sy laaste aand op aarde is 'n treffende voorbeeld van hoe hy homself tot die uiterste toe gegee het vir die evangelie van God se genade in Christus vir sondaars:
Dis 29 September 1770. Hy reis deur die dorpie Exeter onderweg na Boston (Amerika). Hy het nie beplan om daar te preek nie. Daarvoor is hy te gedaan. Almal kan dit sien. Een sê: "Meneer, jy hoort in 'n bed, nie op 'n preekstoel nie!" Maar die mense honger na die woord. Hulle het hom ingewag en 'n platform op 'n oop stuk grond aanmekaar getimmer. Hy preek vir 2 uur met passie en krag oor 2Kor 13:5: "Ondersoek julleself of julle in die geloof is ...". Onder meer sê hy: "Oh, thought divine! I shall soon be in a world where time, age, pain and sorrow are unknown. My body fails, my spirit expands. How willingly would I live to preach Christ! But I die to be with Him."
Daarvandaan reis hy verder en kom teen die aand aan by Jonathan Parsons, Presbiteriaanse predikant in Newburyport. Die gesin eet, maar Whitefield wil reguit bed toe gaan. As hy halfpad teen die trap op is, bars die voordeur oop en 'n klomp mense stroom in. Hy móét eenvoudig vir hulle preek. Net daar, kers in die hand, begin hy dan om Christus te verkondig. Uiteindelik flikker die kers, uitgebrand. Dis simbolies van sy sterwende liggaam.
Twee-uur die oggend word Whitefield wakker. Hy is benoud en papnat gesweet. Hy slaap weer, maar vieruur strompel hy na die venster om vars lug te kry. Hulle laat roep die dokter, maar as hy opdaag is dit duidelik dat die evangelis sterwende is. Sondagoggend, 30 September om 07:00 skei sy liggaam en sy gees. Sy wedloop is verby. Hy betree die land waarvoor God se genade hom oor baie jare voorberei het, die land waarna hy so dikwels verlang het, die land waarheen hy derduisende aangepor het. Ook op hom kan Bunyan se gevleuelde woorde van toepassing gemaak word: "En aan die ander kant is hy met trompetfanfares verwelkom!"
Die Dinsdag is Whitefield vanuit die First Presbyterian Church of Newburyport begrawe. Die graf kan steeds daar op die terrein besoek word. Ook in Engeland was daar 'n gedenkdiens - gelei deur John Wesley, soos Whitefield vooraf versoek het.
Verwerk uit: Arnold Dallimore; George Whitefield -
Evangelist of the 18th-Century Revival; Wakeman; 1990.
(Die lees van hierdie biografie is 'n móét vir elke Christen)
Nico van der Walt

Friday, June 17, 2011

KNIBBEL No.24 - GEBED : AANBIDDINGSVERWONDERING OOR GOD DRIE-ENIG

Drie in een, Een in drie, God van my verlossing;
Hemelse Vader, Ewige Middelaar-Seun, Heilige Gees,
ek bewonder en aanbid U as één Wese, één God - in drie Persone!
O, dat Ú Uself aan sóndaars openbaar en hulle inlyf in U Koninkryk!
Vader, U het my liefgehad en die Here Jesus gestuur om my te verlos.
Here Jesus, U het my liefgehad en my natuur aangeneem;
U het U bloed gestort om my sonde weg te was;
U het alle geregtigheid volbring - ten einde my mislukkings te bedek.
Heilige Gees, U het my liefgehad en in my kom woon;
U het God se saad in my kom plant;
U openbaar die heerlikheid van die Here Jesus toenemend aan my.
O Drie-enige God, ek loof en dank U vir 'n liefde,
so onverdienstelik, onbeskryflik, onpeilbaar,
- so kragtig dat dit verdorwenes red en hulle in heerlikheid in verhoog.
O Vader, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my aan U Seun, die Here Jesus Christus gegee het
om 'n skaap in Sy kudde te wees, 'n kleinood in Sy hand.
O Christus, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my aangeneem het, my as U kosbare rentmeesterskap aanvaar het.
O Heilige Gees, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my blinde oë geopen het om die heil in Christus te sien;
my weerspannige hart oorweldig het;
my trotse eiegeregtigheid in geloof laat ontvlam het;
my vir ewig met die Hoof van die nuwe mensheid verenig het.
O Vader, U heers in 'n ontoeganklike lig; tog hoor en verhoor U my gebede.
O Here Jesus, U hand is uitgestrek om my smekinge aan die Vader deur te gee.
O Heilige Gees, U help my om
in plaas van kleingelowig en traag, vurig en afwagtend te bid;
in plaas van kleinlik kortsigtig, in die lig van die ewigheid te pleit.
O Drie-enige God wat die heelal met U woord tot stand gebring het,
U het my geroep en beveel om ook in gebed U medewerker te wees.
Leer my dus al hoe meer verstaan waarop dit werklik aankom!

[Vry vertaal en verwerk uit "The Valley of Vision", p.3]
Nico van der Walt

Thursday, June 16, 2011

KNIBBEL No.23 - LAAT ONS JESUS CHRISTUS SE EWIGHEIDSGERIGTHEID NAVOLG

VAN DIE HERE JESUS SÊ DIE HEBREËRSKRYWER: "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ... " (Hb 12:2). Ook Hy was dus ingestel op die loon wat na kruis en opstanding op Hom gewag het.
Hierin het Paulus sy Here nagevolg: "Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie" (1Kor 9:25-27). As hy in die voorafgaande vers sê dat net een die prys in 'n gewone wedloop ontvang, en dat ons só moet hardloop dat ons sekerlik die prys sal kry, moet ons hom nie verkeerd verstaan nie. Hy bedoel nie daarmee dat net één van Jesus se dissipels uiteindelik bekroon gaan word nie. Hy bedoel dat ons met dieselfde gesindheid moet hardloop as 'n atleet wat alles in die stryd werp om die prys te kry. In die Comrades-maraton wil die meeste atlete net klaar maak, maar enkeles is amper fanaties daarop ingestel om dalk te wen, of om ten minste 'n goue medalje te kry. Wat Paulus hier sê, is dat elkeen van ons die gesindheid moet hê van iemand wat "gaan vir goud". En inderdaad was die lourierkrans deurgaans in die apostels se visier.
Om in die lig van die ewigheid te leef, is volgens die Nuwe Testament een van die uitstaande kenmerke van 'n ware gelowige se lewe. Matteus 24-25 staan bekend as die Here Jesus se profetiese rede. Onder meer praat Hy oor die wederkoms en hoe ons as Sy dissipels dit moet tegemoet gaan. Wat Hy sterk beklemtoon, is dat niemand vooraf sal weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Daarom moet ons altyd waaksaam en gereed lewe. Hy sluit dan af met vier gelykenisse wat so 'n lewe van waaksaamheid belig. Hoewel elkeen sy eie fokuspunt het, sou mens kon sê dat die oorkoepelende tema dít is: leef in die lig van die ewigheid!
Die groot Amerikaanse prediker en teoloog, Jonathan Edwards, het gereeld gebid: "Lord, please stamp eternity on my eyeballs!"
Nico van der Walt

KNIBBEL No.22 - GOD KAN DIE LOTGEVALLE VAN NASIES VERANDER

HOE BEMOEDIGEND IS DIE BRITSE GESKIEDENIS VAN DIE 18DE EEU NIE VIR ONS NIE! Deur die prediking van mense soos George Whitefield (1714-1770), John Wesley (1703-1791) en talle ander het die Here 'n moreel verdorwe Engeland binne enkele dekades verander tot 'n land wat vir die volgende twee eeue die geestelike toon sou aangee in die wêreld. Wat sending betref, was hulle by verre op die voorpunt. En, onnodig om te sê, die moraliteit van miljoene het ingrypend ten goede verander.
Wat ons nou moet bemoedig, is die feit dat daardie herlewing gekom het ten spyte van verskriklike samelewingsverrotting voor die tyd. 'n Algehele kerklosheid het geheers, asook onbeskryflike losbandigheid en immoraliteit.
Om drankmisbruik te beperk, word 'n verbod geplaas op die invoer van sterk drank. Mense begin gevolglik hulle eie brousels stook. Gou-gou is elke sesde huis in Londen 'n sjebien. Beskonkenheid neem epidemiese afmetings aan. Kinders word in dronkenskap verwek, gebore en grootgemaak.
Daar ontstaan ook 'n geweldige kloof tussen ryk en arm. Te wyte aan luiheid en drankmisbruik verarm al hoe meer mense. Groot dele van Londen word slums - morsig en vol onbeskryflike ellende. Misdaad is deel van elke dag se lewe. Bendes voer 'n skrikbewind. Oorvol tronke is donker, verstikkende rioolputte. In 'n poging om misdaad hok te slaan, word soveel soos 160 oortredings tot halsmisdade verklaar. Beswaarlik gaan 'n dag verby sonder talle teregstellings op die twee publieke galgplatforms in Londen - tot vermaak van jillende skares wat hulleself daarin staan en verlekker.
Intussen baai 'n skatryk adelstand hulleself in weelde. Hulle perversiteit en sedeloosheid steek die een behoorlikheidsgrens na die ander oor.
Dan, in 1737, begin 'n stem onverwags in Engeland soos 'n klok beier!
'n Twee-en-twintigjarige prediker begin in Londen só preek dat geen kerkgebou die skares kan huisves nie - en geen "ordentlike kerkganger" dit kan uithou nie. George Whitefield word 'n brandende fakkel vir die eer van God, die waarheid van die Bybel en die reddende krag van die evangelie. En spoedig sluit John en Charles Wesley, asook talle ander, hulle by hom aan. Vir die volgende halfeeu spoel 'n vloedgolf van reddende genade oor die Britse Eilande.
Binne enkele jare verander die hele geestesgesteldheid van die Engelse samelewing. Die kerk begin weer lewe. Nuwe ywer vir morele waardes ontspring orals. Algemene gedrag en die publikasiewese word gesuiwer. Naasteliefde begin die tronke hervorm, slawehandel word opgeskort, en publieke skole vir een en almal begin oraloor ontstaan."
Laat dit ons bemoedig. Wat eenmaal gebeur het, kan weer gebeur. Moet asseblief nie moeg word om vir herlewing te bid nie.
o0o
Wie meer hieroor wil lees, word verwys na die tweede hoofstuk van Arnold Dallimore se biografie: George Whitefield, The life and times of the great evangelist of the 18th century revival - Vol 1; Banner of Truth Trust.
Nico van der Walt

Wednesday, June 15, 2011

KNIBBEL No.21 - SPURGEON IN DIE OPELUG

MIN BOEKE OP MY RAK GEE MY SOVEEL VREUGDE as die twee outobiografiese volumes van C.H. Spurgeon, The Early Years (Vol. 1) en The Full Harvest (Vol. 2), uitgegee deur The Banner of Truth Trust. As ek bemoediging nodig het, is 'n hoofstuk daaruit sonder uitsondering balsem vir my gees. Jy sal dus een van hierdie volumes - wat ek by Skogheim '93 gekry het - gereeld langs my bed of gemakstoel aantref.
Die afgelope week lees ek toe hierdie kosbare paragraaf in 'n hoofstuk oor Spurgeon se ervaringe as opelug-prediker (Vol. 2, p. 91) - dit nadat ons herlewingsverlange Maandagaand by Henri Marais se kuddegroep ter sprake was:

I preached at Bristol, many years ago, in the open air; and the service was specially interesting to me from the fact that I had a repetition in my own experience of the scene which Whitefield had there witnessed long before. He said, concerning one of his sermons to the colliers at Kingswood: "The first discovery of their being affected was, seeing the white gutters made by their tears, which plentifully fell down their black cheeks, for they had come to the service straight from the coal-pits."
I also had a crowd of sailors and colliers - men with black faces - to listen to me, and when I began to talk to them about Christ's redeeming work, I saw the tears streaming down their cheeks; they put up their hands, as if to brush away something from their faces, but really it was in order to hide their tears. It was an affecting sight to behold those rough men broken down under the preaching of the gospel, and I could fully sympathize with what Whitefield wrote concerning similar services: "The open firmament above me, the prospect of the adjacent fields, with the sight of thousands and thousands of people, some in coaches, some on horseback, and some in the trees, and, often, all melted to tears - to which sometimes was added the solemnity of the approaching evening - this was almost too much for me to bear; and, occasionally, it quite overcame me."

Ag, Here, stuur weer vir ons sulke tye van verkwikking (Hd 3:19-20)!
En gee weer vir ons predikers soos Whitefield en Spurgeon!
Nico van der Walt

Saturday, June 11, 2011

KNIBBEL No.20 - DIE VERWOESTING VAN JERUSALEM IN 70nC

GESSIUS FLORUS HET GELD LIEFGEHAD. EN HY HET JODE GEHAAT. Alhoewel hy Romeinse goewerneur oor Judea was, het hy hom min aan die sterk godsdienstige oortuigings van die Jode gesteur. Na 'n swak belastinginkomste, lê hy eenvoudig in 66 n.C. beslag op die tempel se silwer. Dit kan die Jode nie duld nie, en as Florus troepe na Jerusalem stuur om die opstand te onderdruk, sterf 3 600 burgerlikes. Dis 'n vonk in 'n kruitvat. En skielik is die dreigende Joodse rebellie 'n verskriklike werklikheid.
Masada was 'n feitlik oninneembare bergvesting van die Romeine langs die suid-westelike kus van die Dooie See. Aangevuur deur die veragtelike optrede van Florus, besluit 'n klomp halfmal Selote (oftewel Joodse Yweraars) om dié vesting aan te val. Wonder bo wonder slaag hulle om dit in te neem. Die Romeinse garnisoen word summier van kant gemaak. Jerusalem self ontplof en die Romeinse soldate wat nie sneuwel nie, moet vlug. Asof oornag is die hele Judea in opstand, en kort op hulle hakke Galilea.
Cestius Callus, Romeinse bevelvoerder oor die gebied, ruk vanaf Sirië op met 20 000 troepe. Hy beleër Jerusalem vir 6 maande, maar sonder sukses. Na die dood van 6 000 manskappe en baie wapenverliese, blaas hy noodgedwonge die aftog. Keiser Nero stuur dan vir Vespasianus, een van sy senior generaals, om die Joodse rewolusie te onderdruk. Meedoënloos onderwerp hy gebied na gebied - voordat hy Jerusalem omsingel. Maar dan sterf Nero, en Vespasianus raak in 'n leierskapstryd gewikkel. Uiteindelik word hy keiser en stel sy seun Titus aan om die Joodse oorlog verder te voer.
Op hierdie stadium is Jerusalem reeds afgesny van die res van die nasie. En die stad self word geteister deur faksiegevegte. Soos die beleg voortduur, sterf meer en meer mense van honger en pes - en, helaas, as gevolg van hulle onderlinge bakleiery. Die Hoëpriester se vrou, eens gebaai in weelde, moet soos 'n rondloperhond krummels kos in die strate soek. Josefus vertel selfs van 'n ryk vrou wat haar baba geëet het. Mettertyd is dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe nie. Die enigste oplossing word gevolg - om hulle oor die stadsmure te gooi. Soveel liggame lê uiteindelik om die stad - meeste van hulle dood aan die hand van mede-Jode - dat Titus die gode tot getuies roep dat hierdie massamoord nie sy skuld is nie.
Natuurlik het baie uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier tereggestel. Sóveel is gekruisig dat daar nie genoeg kruise was nie; trouens, nie genoeg plek vir al die kruise nie. Sommige van hierdie vlugtelinge het probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het. Die Romeine het dit egter agtergekom en hulle gevangenes voor die voet begin oopsny. Een bepaalde nag, so word gesê, is 2000 Jode so dood.
Soos die beleg voortduur, word die stad se mure en skanse stukkie vir stukkie afgebreek. Bedags baklei die Joodse verdedigers en snags probeer hulle die mure herstel. Uiteindelik breek die Romeine deur die eerste muur, dan deur die tweede, dan deur die derde. Maar die verdedigers gee nie bes nie. Al vegtende trek hulle terug in hulle laaste loopgraaf - die tempel! Híér sal Jahweh vir seker tot hulle redding kom! Nóóit sal Hy toelaat dat Sy woonplek op aarde aangetas word nie! Min besef hulle egter dat dit ten diepste hulle eie Verbondsgod is wat hulle agressor is!
Die antieke historikus, Josefus, beweer dat Titus die tempel graag behoue wou laat bly, maar dat sy manskappe so woedend was oor hulle opponente se hardnekkige weerstand, dat hulle dit summier aan die brand gesteek en vernietig het. En die Hebreërs binne-in is summier afgemaai. En die wat tog daarin geslaag het om te bly lewe, is soos diere vasgeketting en mettertyd as slawe verkoop.
So breek die einde dan vir die Jode aan, en vir hulle tempel - en vir Ou Testamentiese offerseremonies. So is dit in God se raadsplan vasgelê. Die groot en finale Lam van God is immers reeds geslag. Enige verdere offer sal God ernstige aanstoot gee; Sy Seun, wat Homself ten duurste opgeoffer het, skreiend beledig; en die Heilige Gees, wat nou 'n oop deur het om miljoene der miljoene vanuit alle nasies die ewige saligheid in te veeg, vertoorn soos niks anders nie.
Dit word beraam dat meer as 'n miljoen Jode tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem gesterf het. Waarlik is Jesus se woorde vervul: "... in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie." (Matt 24:21) [1].
In die bergvesting, Masada, het die klompie Joodse Yweraars vir nog drie jaar uitgehou. Op die punt van finale swigting het almal egter selfmoord gepleeg - eerder as om deur die klomp Romeinse heidene verneder te word.
So is die Joodse nasie dan, die van hulle wat oorgebly het, verstrooi. Hulle aanbidding sou as gevolg daarvan drasties verander. Dit was die einde van eeue se tempel- en offerdiens, asook van die Sanhedrin. Nuwe rituele is vir sinagoge en gesin ontwikkel. Na amper twee millennia is daar eers weer die afgelope 50 jaar sprake van Joodse konsolidasie en 'n gepaardgaande Joodse staat. Oor die eskatologiese betekenis hiervan is daar 'n verskil van opinie in Christengeledere, en slegs die toekoms kan finaal hieroor uitspraak lewer.
Waar was die Christene met die val van Jerusalem? Uitstedig! Baie is oor die vorige dekades deur vervolging verdryf. Eusebius skryf dat die oorblywendes met die aanbreek van die beleg en kort daarna die stad verlaat het. Van hulle het ondermeer na Pella, 'n plek oorkant die Jordaan, gevlug. Het hulle Here hulle dan nie meer as dertig jaar vantevore gewaarsku nie: "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid." (Luk 21:20-22)?
So het die swaartepunt van die vroeë kerk finaal na die heidene geskuif. Die remmende effek van Joodse seremoniële beheptheid, so akuut deur Paulus beleef en so uitvoerig deur die Hebreërskrywer verduidelik, het finaal verdwyn. Ook het die Joodse Christene se onbetrokkenheid by die rewolusie 'n wig ingedryf tussen hulle en hulle volksgenote. Gevolglik het hulle steeds nouer met hulle nie-Joodse geloofsgenote saamgeleef. Die nuwe bedeling, deur Pinkster ingelui, het finaal sy beslag kry. Die nuwe Godsvolk sou van nou af uit die nasies kom. Oplaas sou God in gees en in waarheid aanbid word! In elke stam, nasie, volk en taal sou Sy lof voortaan in honderde tale weerklink.
[1] Dit is my oortuiging dat die Here Jesus se eskatologiese rede in Mt 24-25 vooruit kyk na die beëindiging van die Ou Testamentiese bedeling, die finale vernietiging van die Ou Verbond, en die laaste oordeel oor die Jode.
Nico van der Walt

Monday, June 6, 2011

KNIBBEL No.19 - DIE 5 SOLA'S EENVOUDIG GESTEL IN 'N NEUTEDOP

Tota et sola Scriptura

In die menswording van Sy Seun het God Homself by uitnemendheid aan ons geopenbaar. Maar sedert die Seun se hemelvaart en die Heilige Gees se inspirasie van die apostels, het net die Skrif vir ons oorgebly. Daarom glo ons dat die hele Bybel, en net die Bybel, God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens is. As sodanig is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.

Sola gratia

As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel en al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.

Solus Christus

Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur die eeue betoon het, was nog altyd (ook by voorbaat in Ou Testamentiese tye) volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.

Sola fide

God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer dié vanuit sy of haar geestelike bankrotskap volledig op die middelaarskap van Christus staatmaak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie. Galasiërs waarsku dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

Soli Deo gloria

Alles wat God beplan het en in die geskiedenis doen (niks is uitgesluit nie), het een finale doel: om Homself te verheerlik. Die najaag van hierdie doel is dan ook elke mens en die kerk se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, lê aan die hart van sonde.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.18 - DIE STOFFIE IN GOD SE HAND

"As ek U hemel aanskou,
die werk van U vingers,
die maan en die sterre
waaraan U 'n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?"
(Ps 8:4-5)

HOE GROOT IS GOD? WAT IS SY KRAG? WIE IS ONS SKEPPER? Met wie het ons te doen? Aan wie moet ons eendag verantwoording doen - almal van ons?
Hy het Homself aan ons geopenbaar in sowel algemene as besondere openbaring, in sowel natuur as skriftuur.
Natuurlik is Sy Woord vol uitsprake oor Sy almag, maar dikwels raak ons afgestomp daarvoor. Dis dan dat 'n nugtere besinning oor die grootheid van Sy skepping ons weer help om tot ons sinne te kom - om weer ons plek as skepsele te ken. En in ons wandel met God is daar beswaarlik iets belangriker as dit.
Wat meer is, skrywer hiervan het al male sonder tal in sy binnekamer gevind hoe 'n paar oomblikke se bepeinsing oor die algemene openbaring hom help wanneer sy geloof in die besondere openbaring - die Woord - begin dof raak het. Almal van ons beleef God soms as onwerklik wanneer ons in gebed tot Hom moet nader. Dan kan die waarnemings van die wetenskap soos 'n lens dien om ons Skepper weer in geloofsfokus te bring.
Kom ons dink dus vir 'n paar minute na oor die duiselingwekkende grootheid van die heelal om ons - aan die hand van 'n klompie benaderde en afgeronde syfers.

Die aarde

Die wêreld se hoogste berge toring ongeveer 9 000 m (9 km) bo seevlak uit. Op sy diepste is die oseaanbedding 10 000 m (10 km) onder seevlak.
Die aarde se middellyn is 'n stuk of 13 000 km, wat beteken dat die omtrek by die ewenaar so 'n 40 000 km is.
Hierdie bol wat eeu in en eeu uit deur die ruimtes dryf, het 'n massa van 6 000 miljoen miljoen miljoen ton.
Dit bied tans 'n tuiste aan 6 000 miljoen mense (waarskynlik selfs meer) - elkeen met sy eie storie, lewensomstandighede, aktiwiteite, begeertes en ambisies. As hierdie mense sy aan sy in rye van 3 000 sou staan, en elke ry 1 m uitmekaar is, sal die kolom mense van ongeveer 3 km breed vanaf Beitbrug tot in die Kaap strek.

Die son

Sy middellyn is 108 maal dié van die aarde, naamlik 1,4 miljoen km. Dit beteken dat meer as 'n miljoen aardbolletjies in die son ingepak sou kon word.
Die maan beweeg om die aarde in 'n sirkel met 'n middellyn van 774 000 km. As mens die son sou kon uithol, was dit net nodig om vanaf sy middelpunt 'n raps meer as halfpad na die oppervlakte toe te grawe ten einde genoeg spasie vir die aarde én sy maan te maak.
Die son se vlamme bereik hoogtes van 800 000 km. Dis tweemaal die afstand hiervandaan maan toe, en 20 keer rondom die aardbol.
Hierdie ligbron van ons straal soveel energie uit dat dit elke sekonde 4 miljoen ton ligter word. Dis genoeg energie per sekonde om die aarde teen huidige behoeftes vir 'n miljoen jaar te voorsien. Dit laat mens wonder hoe lank die son nog gaan skyn. Maar bekommernis is onnodig, aangesien hy genoeg skop oor het vir nog baie miljoene jare.

Die sonnestelsel

Dit bestaan uit 9 planete wat met hulle stuk of 30 mane om die son roteer. Die aarde is een van die klein planeetjies. Jupiter is die grootste. Mens sou 1 300 aardbolletjies daarin kon pak.
Hoe groot is alles? Naaste aan die son is Mercurius - so ongeveer 60 miljoen km daarvandaan. Die aarde is 150 miljoen km vanaf die son. En die verste planeet, Pluto, dwaal amper 6 000 miljoen km vanaf ons vuurbal rond (deesdae word gewonder of Pluto inderdaad 'n planeet is).
Dis syfers wat mens se denke laat duisel. Kom ons bou dus 'n skaalmodel iewers op 'n groot Vrystaatse vlakte. In die middel parkeer ons 'n groot vragmotor se voorhaker of perd. Laat dit die son verteenwoordig. Tree dan 300 lang eenmeter-treë af, en sit daar 'n albaster-ghoen neer. Dis die aarde. Hou dan aan stap tot jy so 'n 1 500 m van die trok af is. Daar word Jupiter - die grootste van ons planete - dan deur 'n groot strandbal verteenwoordig. Hou verder aan stap en sit 'n ertjie by die 12 km merk neer. Dis Pluto.
Elkeen van hierdie planete beweeg in sy eie wentelbaan teen 'n snelheid veel groter as die van 'n koeël uit 'n geweer. Hulle handhaaf hulle afstande van mekaar en elkeen bly met matematiese akkuraatheid op sy bepaalde skedule. Dit geld natuurlik ook vir die mane wat om die planete wentel.

Snelhede en afstande

Tot nou toe kon ons met kilometers regkom. Maar as ons verder die ruimtes wil in, het ons iets meer nodig - baie meer.
Lig beweeg teen 300 000 km/sekonde. Dis 7½ maal om die aarde elke sekonde. Hieruit het sterrekundiges 'n lengtemaat ontwikkel. 'n Ligsekonde is dan 300 000 km; 'n ligminuut 60 maal verder; en 'n ligjaar gevolglik 10 miljoen miljoen kilometer. Hiervolgens is die maan 1⅓ ligsekondes van ons af; die son 8½ ligminute; en Pluto 5½ ligure. En ons naaste ster? Alfa Centauri is 4⅓ ligjaar van ons af!

Die melkweg

Ons sonnestelsel is deel van 'n groter sterrestelsel of galaksie - die Melkweg. Dis die breë gordel sterre wat mens op 'n helder aand van horison tot horison kan sien strek.
Dit bestaan uit minstens 'n 100 000 miljoen sterre soos ons son (sommige reken daar is baie meer). En ons son is gladnie een van die grotes of warmes nie. Antares is 97 miljoen keer groter as ons ligbron. En Sirus - 9 ligjaar weg - is so warm dat die aarde sou smelt en in damp opgaan indien dit so naby as die son aan ons sou kom.
Hoeveel is 100 000 miljoen? Dis die aantal sekondes in 3 000 jaar, die tyd wat sedert Koning Dawid se lewe tot vandag toe verloop het! Dis die aantal letters in 30 000 Afrikaanse Bybels!
Hoe groot is die Melkweg? Met 100 000 miljoen sterre sou mens dink dat daar nie meer plek vir 'n muis is nie. Allermins. Die gemiddelde afstand tussen die Melkweg se sterre is ongeveer 30 ligjare (300 miljoen miljoen kilometer). Óns sonnestelsel lê so twee derdes na die rant toe - so 'n 33 000 ligjaar vanaf die Melkweg se middelpunt.
Die Melkweg is nie bolvormig nie, maar lyk eerder soos twee pierings wat omgekeerd op mekaar neergesit is. Die deursnit daarvan is 100 000 ligjaar, en die "hoogte" op sy dikste ongeveer 20 000 ligjaar.
Die Melkweg roteer as 'n geheel! Hoe vinnig? As mens van 'n omtreksnelheid sou kon praat, is dit in die orde van 1,5 miljoen km/uur, oftewel 420 km/sekonde. Wie se verstand kan dit verwerk? En waarom slinger ons nie almal hoenderkop op hierdie tollende skyf rond nie? Wel, mens word nie eintlik dronk met 'n omwentelingsperiode van 225 miljoen jaar nie!
Nog is dit nie die einde nie. Galaksies kom tipies in groepe voor. Ons eie Melkweg is deel van 'n tros van ongeveer 30 galaksies. Weliswaar is die Melkweg een van die grootstes - waarskynlik tweede na M31, wat twee maal ons dimensies het, en dubbeld soveel sterre. Die afstand na M31 is in die orde van tweemiljoen ligjaar.
Ons weet nie hoeveel sulke galaksie-trosse in die heelal is nie, maar sterrekundiges meen ons moet in terme van baie miljoene dink!

Die heelal

Hoe groot is die skepping? Geen mens weet nie! Met ons teleskope het ons al ruimtes verken waarin ver meer as 'n 100 000 miljoen melkweë sou kon inpas. Wat ons wel weet is dat die heelal besig is om teen 'n ontsagwekkende tempo groter te word. Dit dy uit soos 'n ballon wat opgeblaas word. Dis moontlik om die spoed te meet waarmee sterrestelsels van ons af wegbeweeg - en in sommige gevalle is dit so hoog soos 80 000 km/sekonde.
Gee die heelal nog steeds geboorte aan nuwe ruimtes? Is God steeds besig om te skep?

Die Hubble-teleskoop

Hierdie teleskoop wat in die ruimte ingestuur is, het oor die afgelope paar jaar talle verbysterende foto's teruggesein aarde toe. Daarvan word van tyd tot tyd gepubliseer. Een van die mees aangegrypende verskyn onder meer op die voorblad van Gideon Joubert se boek, Die Groot Gedagte. Dis 'n foto van M16 (die Arend-newel) in die konstellasie van Serpens (die Slang) - 7 000 ligjaar hiervandaan. Hubble het dit op die eerste April 1995 aarde toe gestuur.
Die foto vertoon drie massiewe pilare gas (glo digte molekulêre waterstof) wat soos geweldige hoë donderwolke lyk. In elkeen van hulle is ontelbaar baie sterre aan 't vorm. Bo-op elke wolk steek klein, klein "vingertjies" uit, wat volgens Joubert elkeen groter as die sonnestelsel is!
Die Beeld van 15 November 1995 sê dat die grootste van hierdie drie sterrewolke ongeveer een ligjaar hoog is. Gestel jy sou van hierdie wolk afval en tuimel teen dieselfde snelheid as wanneer mens hier op aarde uit 'n vliegtuig val, sal dit meer as 5 miljoen jaar duur voor jou liggaam onder aankom. Of as 'n passasierstraler teen togsnelheid van bo na onder sou duik, sal dit hom net meer as 'n miljoen jaar neem.
En dis net die wolk. Hiervandaan soontoe is 7000 maal verder! En anderkant M16? Nog en nog en nog "wolke" - miljoene der miljoene!

Waarlik,
ek is 'n stoffie hier op aarde,
wat 'n stoffie in die sonnestelsel is,
wat 'n stoffie in die Melkweg is,
wat 'n stoffie in die heelal is,
wat 'n stoffie in die palm van God se hand is.
Nico van der Walt

Wednesday, June 1, 2011

KNIBBEL No.12 - GEBED : BEPEINSING OOR DIE EWIGHEID

Ag Here!
So maklik sing ek Newton se woorde sonder om daaroor na te dink:
when we've been there ten thousand years
bright shining as the sun
we've no less days to sing God's praise
than when we've first begun
Tog peins ek wel meermale oor wat dit beteken
dat ek vir ewig lewe
Maar soos klokslag duisel my denke
hang my brein op soos 'n rekenaar wat nie kan bykom nie
Ek onthou hoe dit my aangegryp het
toe ek as seuntjie
gelees het van die ontsaglike groot rots in die see
waarop 'n voëltjie elke duisend jaar sy bekkie gaan slyp
en as daardie rots dan eendag weggeslyt is
sal die eerste dag van die ewigheid verby wees
Waarlik, hierdie lewe is 'n nanosekonde
in vergelyking met die ewigheid van my bestaan hierna
Maar so 'n vergelyking werk nie
want mens kan nie eindigheid en oneindigheid met mekaar vergelyk nie
daar is nie sóveel eindighede in 'n oneindigheid nie
oneindigheid kan nie gekwantifiseer word nie
Ek moet dus maar berus
ons wat vasgevang sit in die dimensie van tyd
kan nie begin om die ewigheid regtig te verstaan nie
En tog praat U met ons daaroor
dit beteken gewoon dat ek nooit sal ophou bestaan nie - nooit nie
Wat my net soveel aangryp
is die feit dat U my in staat gestel het om lewe voort te bring
lewe wat nooit weer gaan ophou nie
En wat my dan laat verkrummel onder die verantwoordelikheid
is dat ek 'n rol te speel het
in die bepaling van wáár daardie lewe vir ewig sal bestaan
- in onbeskryflike heerlikheid by U
- of in ondenkbare smarte weg van U
Waarlik, die verwekking van 'n kind
is meer as 'n oomblik se ekstase
dis so na aan goddelike status
soos wat ek ooit sal kom - in elk geval in hierdie lewe
En die verantwoordelikheid om so 'n kind dan te leer en te lei
is oorweldigend
want daardie vier kilo bondeltjie in die wieg
gaan oor honderdmiljoen jaar
óf die Here loof in liefdesverrukking
óf God vloek in woedewaansin
O Here, vergewe my mislukkings sonder tal
En ek? Waarheen is ek op pad?
Help my onthou
dat daar niks belangriker kan wees
as om elke oomblik in Christus te skuil nie
Want wanneer ek gaan oorstap na die hiernamaals
weet ek gewoon nie
hoevele is daar nie per slot van rekening
wat selfs net vyf minute voor die tyd
nie weet dat hulle op die drumpel van die ewigheid staan nie
Here, Here,
as daar net een ding is wat U asseblief vir my in hierdie lewe moet doen
nee, twee
dan is dit om my gereed te maak en te hou vir U ewige heerlikheid
en om my dan te help
om die implikasies van die feit dat ek vir ewig lewe
hier en nou tot U eer uit te leef
AMEN
Nico van der Walt

KNIBBEL No.11 - DIE WONDER VAN "DIE MESSIAS"

DIE OU MAN SKUIFEL VOORT IN 'N LONDENSE STRAAT. Hy is 56 jaar vantevore in Duitsland gebore as Georg Friederich Händel - die 23ste Februarie 1685. Dis aand, iewers in 1741. Hy is 'n moedelose man. In sy gemoed wissel gevoelens van hoop en wanhoop mekaar af. Dit ten spyte van Ludwig von Beethoven se woorde jare later: "Händel is die grootste komponis wat ooit geleef het. By sy graf sou ek graag my hoed wou afhaal en kniel." Waarom sal sukses hom dus bly ontwyk soos tans? Vir amper vier dekades was die adel en vooraanstaandes van Engeland en Europa gaande oor sy musiek. Maar die afgelope tyd het hulle hom en sy werk die rug gekeer. Hy word beskinder, bespot en verwerp. En hy is brandarm.
Vier jaar vantevore het 'n beroerte sy regterkant verlam. Loop en skryf kon hy nie meer nie. En die dokters het min hoop gehad dat hy ooit sou herstel.
Maar hy het vasgebyt en is na Aix-la-Chapelle se helende waters toe. Medici het hom gewaarsku dat dit noodlottig kon wees om langer as 4 uur in die bytende water te bly, maar hy het dit tot nege uur op 'n slag getrotseer. Geleidelik het sy kragte herstel en uiteindelik kon hy weer normaal funksioneer.
Dit het hom so geïnspireer dat hy fanaties begin komponeer het. Vier operas het kort na mekaar die lig gesien. En weereens was die musiekwêreld aan sy voete.
Maar toe sterf Koningin Caroline. Sy was 'n lojale ondersteuner van Händel. Dadelik het sy aanhang en inkomste drasties begin verminder. Daarbenewens was dit 'n yskoue winter en bywoning van sy konserte het amper opgedroog.
Soos in dryfsand het die befaamde komponis dieper en dieper in skuld in gesink. Hy was amper sestig - oud en afgeleef.
Nou, as hy so deur Londen stap, sien hy 'n kerkgebou voor hom. Hy gaan staan terwyl bitterheid in hom opstoot. "Waarom het God hom van sy beroerte genees en weer musikale sukses gegee - net om hom nou in dieper ellende as ooit te dompel?" En dan, vanuit sy diepste wese kom 'n wanhoopskreet: "My God, my God, waarom het U my verlaat?"
Uitsigloos keer hy terug na sy verwaarloosde blyplek. Daar vind hy 'n pakkie op sy lessenaar. Dis 'n libretto - 'n teks vir 'n dramatiese musiekwerk. "Van daardie tweederangse digter, Charles Jennens," brom hy. Daar is 'n brief by. Die digter soebat Händel om dadelik te begin werk aan die musiek van 'n oratorium - 'n komposisie vir stemme en orkes wat gewoonlik 'n godsdienstige verhaal vertel, sonder om van kostuums, dekor of toneelspel gebruik te maak . "Die Here het vir hom die woorde gegee," sê Jennens.
Händel is nie 'n vroom man nie, en hy stamp hom teen sulke godsdienstige voorbarigheid. Ja, hy help graag die armes. Maar hy het 'n vurige humeur, is baasspelerig, en het baie vyande. Waarom stuur Jennens vir hom so 'n klomp Bybelse dwepery?
Lusteloos blaai die komponis deur die teks. Skielik steek van die woorde by hom vas: "He was despised and rejected of men ... He looked for someone to have pity on Him, but there was no man; neither found He any to comfort Him."
Die woorde gryp hom vas, en hy lees voort: "He trusted in God ... God did not leave his soul in Hell ... He will give you rest." Die woorde begin vir hom lewe. Dis asof dit vol betekenis voor sy oë begin gloei. "Wonderful, Counsellor ... I know that my Redeemer liveth ... Rejoice ... Hallelujah."
Eensklaps brand die vuur van vroeër jare weer in Händel. En in sy kop begin wonderbaarlike melodieë mekaar verdring. Hy gryp 'n pen en begin skryf. Die note vloei asof vanself en bladsy na bladsy word gevul.
Die volgende oggend vind die huisbediende die komponis geboë oor sy lessenaar, onbewus van die ontbyt wat langs hom neergesit word. As hy 'n paar uur later die middagete bring, staan die skinkbord nog net so. En so gaan dit vir meer as drie weke. Wat hy dag na dag in Händel se kamer sien, sal hy nooit vergeet nie.
Vir vier-en-twintig dae eet en slaap die komponis beswaarlik. Hy skryf en skryf - en spring dan op om agter die klavesimbel te gaan sit. Ander kere stap hy op en af in sy kamer, terwyl hy met sy hande in die lug uit volle bors sing - met trane wat oor sy wange stroom: "Halleluja, halleluja!" Dis asof iets van hom besit geneem het.
Uiteindelik syg Händel op sy bed neer. En op sy lessenaar lê die partituur van Die Messias - die grootste oratorium wat tot op hierdie dag gekomponeer is. Niks sou ooit weer in sy lewe dieselfde wees nie.
Aangesien Londen belangstelling in Händel verloor het, neem hy op uitnodiging Die Messias Ierland toe. Hy weier om enige betaling vir sy werk te aanvaar. Die opbrengs moet vir liefdadigheid geskenk word. Was dit nie dié wonderwerk wat hom uit die dieptes van ellende gelig het nie? Laat dit dan nou die wêreld met hoop vervul!
In Dublin voeg Händel twee kore saam. Met groot toewyding kry hulle die grootse musiek onder die knie. En met toenemende afwagting nader hulle die eerste uitvoering. Gou-gou is alle kaartjies uitverkoop. Om meer plek te maak, word die dames versoek om nie hoepelrokke aan te trek nie. En die mans moet hulle swaarde tuis los. Op 13 April 1742 staan skares mense al ure voor die tyd tou om goeie plekke te kry. Wat 'n openingsgeleentheid!
Na Dublin se triomf kan Londen nie wag om ook na Die Messias te luister nie. Tydens die eerste uitvoering gebeur iets dramaties. As die "Halleluja-koor" gesing word, staan Engeland se koning spontaan op, en die ganse gehoor volg sy voorbeeld. Tot vandag toe is dit die gebruik waar Die Messias ook al opgevoer word.
Terwyl Händel nog geleef het, het 'n jaarlikse opvoering van Die Messias reeds 'n tradisie geword. Deurgaans is die opbrengs vir liefdadigheid geskenk.
Soos hy ouer geword het, het baie struikelblokke oor sy pad gekom. Algaande het sy kragte afgeneem en boonop het hy blind geword. Maar nooit weer het hy hom aan moedeloosheid oorgegee nie. Met vaste tred het hy sy heengaan tegemoet gegaan.
Tydens die aand van 6 April 1759 - Händel is 74 jaar oud - is hy teenwoordig by 'n uitvoering van Die Messias. As "The trumpet shall sound" begin, wil hy flou word. Vriende help hom en gaan sit hom in die bed. 'n Paar dae later spreek hy die begeerte uit om op Goeie Vrydag te sterf. En inderdaad, op 13 April - ook die herdenking van Die Messias se eerste uitvoering - gaan Händel na sy ewige erfenis.
Maar ook hier op aarde leef Georg Friederich Händel by wyse van spreke voort. Weer en weer jubel Die Messias oor die triomf van lewe en hoop oor die dood en vertwyfeling. In Londen is Goeie Vrydag se uitvoering van die oratorium in die Royal Albert Hall 'n tradisionele deel van elke jaar se Paasvieringe.
Die Messias is soos 'n fakkel wat Händel aangesteek het om reg rondom die aarde die helder lig van die Christus-evangelie te laat skyn. En so lank as daar stemme is wat kan sing, sal die Here Jesus Christus ook op hierdie wyse verheerlik word. Waarskynlik is daar beswaarlik 'n uur van enige dag waartydens hierdie wonderskone musiek en die heerlike boodskap wat dit dra nie iewers in 'n konsertsaal of in honderde huise weerklink nie. Ontelbaar baie CD's dra hierdie musiek tot in die verste uithoeke van die aarde. Honderde radio- en televisiestasies speel die musiek weer en weer. En oënskynlik raak niemand ooit moeg daarvoor nie.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.10 - WAT IS 'N GEREFORMEERDE BAPTIS?

BAIE GOEIE KERKMENSE HIER IN ONS LAND VRA: "Hoe kan mens 'n Baptis wees én jouself gereformeerd of reformatories noem?"
Baie mense is onder die indruk dat die twee begrippe onderling uitsluitend is. So 'n persepsie is begryplik, omdat min of meer alle gereformeerde kerke hier in Suid-Afrika hulle lidmate se babas doop - en omdat hulle diegene wat die belydenisdoop beoefen, al vir geslagte verdag maak as sektaries. Dit is egter 'n feit dat daar al vir honderde jare gelowiges is, veral in die Engelssprekende wêreld, wat oortuig is dat die konsekwente uitwerk van die Bybels-teologiese beginsels van die Reformasie onontkombaar na die belydenisdoop lei, en alles behalwe na die kinderdoop. Hulle werk dus met méér as die argument dat die Nuwe Testament net van die doop van gelowiges praat - hulle is ook behoorlik openbarings-histories begrond, en is veral stewig in die genadeverbond gewortel.
Dis egter nie die doop waaroor Gereformeerde Baptiste (Eng. Reformed Baptists) in die eerste instansie begaan is nie. Hulle hartstog is die groot, God-gesentreerde beginsels van die evangelie - daardie Bybelse waarhede wat die sestiende eeuse Reformasie opnuut ontdek het. Hulle staan dus so sterk soos enigeen op die vertrekpunte en wekroepe: Slegs die Woord; Slegs Genade; Slegs Christus; Slegs Geloof; Slegs die Eer van God. Dis waarom hulle hulself gereformeerd noem. En enigeen wat hierdie mense ken, sal getuig dat hulle eerste beklemtoning hier lê. Dís hulle vreugde, dís hulle verkondiging.
Maar hierbenewens glo hulle ononderhandelbaar sterk dat die kerk waarlik kerk moet wees. Volgens die Nuwe Testament het die gemeente immers 'n sentrale en wesentlik belangrike rol in die verheerliking van God en in die uitwerk van Sy plan. En hierdie hoë roeping kan slegs behoorlik tot uitdrukking kom as die gemeente, sover menslik moontlik, net uit ware en toegewyde gelowiges bestaan. Natuurlik sal die huigelaars, net soos die armes, altyd met ons wees, maar ons moet doen wat ons kan om die gemeente suiwer te hou. Wie kan ontken dat hierdie strewe 'n Nuwe Testamentiese prioriteit is? Is dit nie een van die groot motiverings vir gemeentelike dissipline en tug nie? Wie kan die sewe briewe van Op 2-3 lees en tot 'n ander slotsom kom?
Dis waarom hierdie gelowiges Baptiste is. Hulle weet dat die kinderdoop nog altyd 'n volkskerk gebaar het. En dít, glo hulle van harte, is nie net totaal vreemd aan die Skrifopenbaring soos dit in die Nuwe Testament kulmineer nie, dis ook male sonder tal aanleiding tot skreiende Godsontering. Daarom was hulle nog altyd bereid om die smaad en vervolging te dra wat dikwels met hulle standpunt saamgaan - eerder as om kompromie te maak wat kerkbeskouing betref.
Natuurlik is nie alle Baptiste reformatories nie. Reg van die begin af, in die vroeë sestienhonderds, toe die Baptiste ontstaan het, was daar twee strominge: die Calvinistiese (“Particular Baptists”) en die Arminiaanse (“General Baptists”). Laasgenoemde groep was nog nooit konfessioneel sterk nie, maar die Gereformeerde Baptiste het vroeg-vroeg reeds hulle geloof geformuleer ("The First London Confession of Faith" van 1644). Na 'n lang tyd van vervolging, kon hulle dit in 1689 hersien ("The Second London Confession of Faith"). Tot vandag toe is Die 1689 die belydenis wat Gereformeerde Baptiste oor die wêreld heen saambind.

Die Brampton Lectures was in vergange se dae prestigeryke akademiese lesings wat jaarliks in Engeland gelewer is. Ene G.H. Lurteis (ek hoop ek het die naam reg; my brondokument is iewat onduidelik) was verantwoordelik vir 1871 se lesings. Dit het in Anglikaanse kringe plaasgevind, en die tema was Dissent in its relation to the Church of England. Sy vierde lesing het oor The Baptists gehandel en is besonder veelseggend, as mens in gedagte hou dat die uitsprake gemaak word deur iemand wat die Baptiste waarskynlik nie baie goedgesind was nie (hoewel hy besliste akademiese integriteit openbaar). Onderstaande is 'n uittreksel uit die lesing:
"Their first formation as a separate community in England took place in 1633; when, under the influence of foreign ideas - derived from that teeming hotbed of confusion, the newly-enfranchised States of Holland, the former head-quarters of the Anabaptists in the previous century - certain very strict and pious members of the Independent body in London determined to secede, and to form a fresh communion of their own. In point of Church Polity, they still remained Independents. But there were three grand principles, for the sake of which they held themselves justified in making secession: (1) for the maintenance of a more strictly Calvinistic doctrine; (2) for the exercise of a more rigorous and exclusive discipline; (3) for the practice of a more literally Scriptural ritual - especially in the matter of Baptism.
Now all these three principles are closely connected together; and indeed they are all, fundamentally, one. And that one fundamental principle is - Puritanism. Yes, the Baptists are essentially 'Puritans'; and - I think it must be honestly confessed - they, and they only, are really consistent and logically unassailable Puritans. If Puritanism is true, the Baptist system is right. If Puritanism is a grand mistake, .... then the Baptist system falls to the ground of itself."

Ek is een van baie duisende oor die wêreld wat in die tweede helfte van die twintigste eeu weer die Puriteinse beweging en geskrifte van die sestiende en sewentiende eeue ontdek het. Van die bekendste Puriteine, soos John Owen (1616-1683), John Bunyan (1628-1688) en Thomas Watson (1620- 1686) (daar was egter nog talle reuse onder hulle), was min of meer tydgenote van Jan van Riebeeck. Op hulle beurt het hulle baie geleer by Johannes Calvyn, daardie reusefiguur, maar ook tragies misverstane man, oor wie meeste mense vandag net 'n verwronge karikatuur beet het.
Latere geslagte het ook hulle "Puriteine" opgelewer - mense soos George Whitefield, Jonathan Edwards, Charles Spurgeon, A.W. Pink, Martyn Lloyd-Jones en vele meer. Hoewel nie almal van hulle baptistiese oortuigings gehuldig het nie, adem hulle in hulle geskrifte dieselfde gees as die vroeëre Puriteine in die Britse Eilande en die Nuwe Wêreld van Amerika.
Na die Apostels van ons Here Jesus was daar eenvoudig nie 'n groepering wat hoër hoogtes bereik het as die Puriteine nie. Niemand se teologie was diepsinniger nie, niemand se prediking kragtiger, niemand se geskrifte ryker.
Vandag is daar Reformed Baptists op elke vasteland op aarde, hoewel die stroming sekerlik op sy getalrykste in die Engelssprekende wêreld is, veral die VSA. Dis belangrik om te beklemtoon dat 'n groot persentasie van hierdie mense hulleself nie in eksplisiete terme "Reformed Baptists" noem nie, maar dat hulle wel dieselfde oortuigings huldig en uitleef. Omdat hierdie oortuigings onder meer inhou dat elke plaaslike gemeente selfstandig is, is die groot verskeidenheid van onder meer benaminge en groeperinge geen probleem vir iemand wat die kerk Nuwe Testamenties verstaan nie. Dis net soos óns wat rustig saamleef met die feit dat ons 'n groot verskeidenheid name en vanne het. Wat wel saak maak is geloofsinhoud en -uitlewing, onderlinge liefde en respek, en goeie samewerking waar ter sprake. Wie is dit wat iets soos die volgende gesê het: "Call a rose by whatever name you want, it smells just as sweet?"
Ek ag myself bevoorreg om met dankbaarheid, selfs trots, deel te wees van hierdie wêreldwye oplewing.
In Afrika is daar 'n merkwaardige en dinamiese Reformed Baptist beweging. Veral in Zambia is dit verstommend gespierd en dinamies. Ek het die voorreg gehad om al twee keer daar te gaan preek, en ek kan eerlikwaar sê dat dit vir my 'n groot eer is om met van daardie gemeentes geassosiëer te wees en om van hulle leiers as persoonlike vriende te hê.
Hier in Suid-Afrika was dit my vreugde om 'n paar jaar gelede deel te kon hê aan die totstandkoming van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde Evangeliese gelowiges in Suidelike Afrika (almal uiteraard reformatories en baptisties gesind). Gemeentes in 8 lande suid van die ewenaar is tans deel van hierdie assosiasie. Let wel, dis nie 'n sinodale denominasie nie - dit sou totaal vreemd wees aan baptistiese kerkbeskouing en Skrifbegrip. Mense wat baptistiese oortuigings huldig, voel, soos gesê, sterk oor die selfstandigheid en eie-verantwoordelikheid van die plaaslike gemeente - om onder die hand van die Hoof van die kerk en volgens hulle eie oortuigings en situasies hulle roeping uit te leef. Natuurlik sal 'n helpende hand dikwels uitgestrek word na gemeentes in nood, maar as dit oor regeringskwessies gaan, sal ander gemeentes nie betrokke raak nie, behalwe op versoek van 'n gemeente wat nie meer self die mas kan opkom nie. Ten slotte, afgesien van gereelde onderlinge kontak en prediking, kom ons jaarliks byeen vir 'n paar dae op 'n slag - vir gemeenskap, bespreking, samewerkingsbeplanning en onderlinge opbou - dan in hierdie land, dan in daardie land.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.9 - GEBED : AANBIDDINGSVERWONDERING

HERE MY GOD
U is die allerhoogste in gesag
die alleen-heersende Vors van die ganse skepping
tydloos in U bestaan
verbysterend vindingryk in U skeppingsvernuf
volkome alleen-eienaar van alles wat is
Met eerbied is ek vervul as ek voor U staan
as ek U ontsagwekkende heiligheid bepeins
U majestieuse grootsheid
U glinsterende heerlikheid
U onbeperkte krag
U onbetwisbare soewereiniteit
Ek aanbid U oor U vlekkelose karakter
U oneindige kennis en wysheid
U onkreukbare geregtigheid
U onwankelbare getrouheid
U onuitputlike barmhartigheid
U weergalose genade
Maar ook U angswekkende toorn teen alle sonde
Ek buig my knieë en lê my hart voor U
as ek U verblindende skoonheid bedink
U steeds-bekorende persoonlikheid
U onbegryplike sagmoedigheid
U ondeurgrondelike begrip
U onpeilbare liefde
Ek erken dat 'n veel groter begrip en belewing van wie en wat U werklik is
my grootste nood is
Ek vra U om in genade ruim in hierdie behoefte te voorsien
In nederigheid, maar dringend, wil ek dus bid
"Leer my U weë, sodat ek U mag ken en guns in U oë mag hê."
In die Naam van Jesus Christus, my Middelaar, bid ek dit
AMEN JA AMEN
Nico van der Walt

KNIBBEL No.8 - DIE KANTELINGE VAN ONS TYD

"There is a tide in the affairs of men which, taken at the flood, leads on to fortune ..."
(William Shakespeare, in Julius Caesar)

DIE GESKIEDENIS WORD HOLDERSTEBOLDER EN TURBULENT VOORTGESTU DEUR 'N MAGDOM KOMPLEKSE KRAGTE: filosofies, religieus, sosiologies, ekonomies, polities en hoeveel meer. Soms werk hierdie kragte saam, sodat 'n besliste verskuiwing - 'n gety - met lotsbepalende effekte ontstaan. Daarom is niks so onstuitbaar soos 'n idee waarvan die tyd aangebreek het nie. En wie hierdie wentelinge betyds kan lees, sal in hierdie wêreld "goed doen vir homself".
Ons beleef die afgelope twee dekades so 'n kanteling hier in Suid-Afrika. En dis so dramaties soos enige student van die geskiedenis maar kan begeer. Nooit sal die suidpunt van Afrika en sy mense ooit weer wees wat dit voor die negentigerjare was nie.
Ons as Christene weet die beurende kragte is ingespan voor die wa van God se soewereine raadsplan. Tog is dit ook vir óns belangrik om die tye waarin ons leef te verstaan. Ons moet wees soos die seuns van Issaskar "wat die tekens van die tye verstaan het" (1Kron 12:32). Waarom? Wel, ook óns moet die gety van die oomblik ten beste benut. Is dit dalk die boodskap van die gelykenis van die oneerlike bestuurder? (Lk 16:1-13). Wat meer is, dis nodig om die mens te ken wie se oë ons moet oopmaak sodat hy hom van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer (Hd 26:18).
Nog 'n lewensbelangrike rede is die feit dat ons sonder hierdie insig vir seker deur die strome van die tyd meegesleur sal word. Daar is 'n sin waarin 'n Christen altyd stroom-op moet beur - altyd! Die ongelowige dryf rustig stroom-af in die rivier van hiedie wêreld se idees van wat dit beteken om te lewe. Dis egter 'n wêreld onder die toorn van God en die rivier eindig in die siedende waterval van die ewige verdoemenis. Wêreldgelykvormigheid is doodsake - in die volste sin van die woord fataal! (1Jh 2:15-17).
As 'n brander sterk terugtrek en jy kyk af, draai jou kop en wil jy neerslaan - al staan jy net enkeldiep. Maar sodra jy opkyk en jou oë vasnael op die vastigheid van die droë land, kan jy met gemak een-been staan. Hoe moet ons die Here nie dank vir die tydlose en onwankelbare bakens van Sy Woord nie! Iemand het eenkeer gesê: "Dat ons by die tye moet aanpas, sal die valse kerk se finale selfmisleiding wees."
Sien jy wat ek sien? Sien jy wat is aan 't gebeur in die kerklike wêreld? Leerstellige hoekpenne word geïgnoreer, "dogma" het 'n vloekwoord geword, en al hygende word agter die metodes en resepte van hierdie wêreld aangehardloop.En wat hierdie resepte so verraderlik maak, is dat hulle werk - soos 'n bom. Pas dit puntenerig toe, en dit sal by jou dreun van die mense. Maar is hierdie mense regtig, regtig dissipels van die Here Jesus Christus? Is jy nog besig met die ordes van God? Is die Hoof van die kerk die Outeur van jou sukses? Gaan jou werk die vuurtoets van 1Kor 3:9-23 deurstaan? Angazi! Ga ke itse!
Nico van der Walt

KNIBBEL No.7 - DIE NAWEEK TOE ONS RYK WAS

'N JAAR OF TWEE GELEDE GAAN EK EEN VRYDAGMIDDAG VOOR 'N LANGNAWEEK VIA INTERNET OP ONS BANKREK IN, net om te sien hoe sake staan. As my bankstaat op die skerm verskyn, kan ek my oë nie glo nie. Daar is R300 000 deur 'n anonieme skenker op ons rekening gedeponeer! Ek kyk weer en weer, maar dit bly daar staan. Met 'n stem wat van aandoening bewe en met papnat handpalms gaan roep ek Soniah en Ouma Darling. En ek moet bontstaan met nat waslappies, want die vrouens wil flou word. Ons is ryk, stinkryk!
Weliswaar is die geld nie dadelik beskikbaar nie - eers oor 'n week of wat. Maar dit maak nie saak nie. Dit gee ons kans om behoorlik te beplan. En daarmee begin ons onverwyld. Soniah dink aan nuwe nommertjies en huisverbeterings, Ouma begin droom oor 'n nuwe rolstoel met vere en skokbrekers, en ek ... wel, dis mý geheim. Saterdagoggend (en ook weer die middag en die aand) is alles onveranderd op my bankstaat. En Ouma se vlugsout is op. Sondag staan my bankstaat so vas soos die berge. Maandagoggend vroeg-vroeg ry ek en Soniah Worcester toe. Exclusive Books sal oop wees, al is dit 'n vakansiedag. Ek is op soek na Vacationing in the World's Most Exclusive Hotels. Op pad terug ry ons by Worcester BMW verby. Ons sê niks nie, maar loer skalks na mekaar. Maandag lag ons baie en gaan stap huppelend. Ouma protesteer kamtig, maar sy kraai soos lanklaas as ek haar rolstoel (steeds stampende) met skreeuende bande om die draaie stoot. Nooit het ons geweet dis só lekker om ryk te wees nie!
Dinsdagoggend gaan ek weer bankstaat toe. Jy sal dit nie glo nie. Daar staan nóg 'n R300 000 - 'n tweede inskrywing! Nou begin die poppe éérs dans!
Uitasem roep ek vir Soniah - dit hou net nie op nie! Sy is fyner as ek: "Wat beteken daai strepie voor die syfer? Is dit nie 'n minus-teken nie?"
Baie dankie Absa vir 'n wonderlike naweek! Ons sal jou nooit vergeet nie!
Net 'n laaste opmerking: die essensie van wat ek hierbo geskryf het, is waar, maar as jy die aandikkings glo, sal jy van my 'n oortreder van die negende gebod maak.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.6 - WAAROM ONS SONDER SALARIS WERK

ONDERSTAANDE WIL 'N GETUIENIS WEES OOR DIE GETROUHEID VAN DIE LEWENDE GOD AAN DIE BELOFTES IN SY WOORD. Nie alleen doen Hy wat Hy beloof het nie, Hy is 'n hoorder van gebed en Hy is intiem betrokke by die lewens en welsyn van Sy kinders. Hierdie getuienis moet asseblief nie gesien word as spoggery oor gewaande meerdere geestelikheid nie. Inteendeel, dit word aangebied deur twee doodgewone Christene wat male sonder tal misluk in hulle navolging van die Here Jesus. Ek en Soniah, my vrou, bied dit aan in diep dankbaarheid en verwondering oor die jarelange guns van God wat ons aanmekaar beleef het. Dis 'n dankbare getuienis oor een van die heel grootste avonture van ons lewe, want ons kan vir ure vertel van die mees kostelike, selfs onkonvensionele en dikwels komiese belewinge van materiële voorsiening. Hierdie wil 'n lofsang wees!
Tog word hierdie getuienis met versigtigheid gelewer. Niemand wat dit lees moet dit as 'n skimpery vir ondersteuning vertolk nie. Laat ons dus onmiddelik verklaar dat daar nog altyd ruimskoots voorsien is vir ons en dat ons aan niks gebrek het nie. Trouens, dikwels ontvang ons soveel dat dit dreig om vir ons 'n verleentheid te wees.
Sedert 1976 toe ek op dertigjarige ouderdom begin teologie swot het op Potchefstroom, leef ek en Soniah, my vrou, reeds vir omtrent 22 jaar "in die geloof" wat ons materiële behoeftes betref. Ek praat van 'n lewe sonder 'n formele en gereelde vergoeding deur 'n werkgewer of weldoener. Ek praat van 'n lewe van vertroue in ons Hemelse Vader om direk volgens Sy beloftes te voorsien in wat ons nodig het. In die 35 jaar sedert 1976 (tyd van skrywe 2011) het ons dus wel met tussenposes vir ongeveer 13 jaar in totaal 'n salaris ontvang - die laaste omtrent 12 jaar gelede.
As ons van geloof praat, dan moet dit gelóóf wees. Daarom maak ons so goed soos nóóit ons behoeftes aan enige mens, of kerkraad, of wie ook al bekend nie - selfs al word ons gevra om dit te doen. Ons vra nóóit bydraes nie. Ons ontwikkel nie borge nie. Ons poog in alle integriteit om nóóit enige skimpe vir donasies rond te strooi nie. Ons hang selfs nie ons lewenswyse aan die groot klok nie, tensy dit die Here se eer kan dien as ons daaroor praat. Ons pas ons harte op om nie enige finansiële kompensasie "vir dienste gelewer" te verwag nie. Wat diegene betref wat meer as ons het, of 'n hoër lewensstyl as ons handhaaf, waak ons oor ons harte om nie te verwyt of jaloers te wees nie. Sonder om te impliseer dat ons dit regkry soos ons moet, leef ons coram Deo - voor die aangesig van God, ons hemelse Vader. Hy bepaal ons lewensstandaard, uit en gedaan - en vir seker het Hy ons nog nooit afgeskeep nie; inteendeel. Terwyl ons die sogenaamde "prosperity gospel" as 'n ernstige dwaling beskou, vertrou ons die Here om ons te bewaar van 'n armmansmentaliteit. En ons het 'n broertjie dood aan die speel van 'n armmansrol om mense se simpatie te verwek sodat hulle beursies kan begin lewer.
Sonder om te impliseer dat dit altyd maklik is om op ons manier te leef, kan ons wel in absolute eerlikheid sê dat die Here ons oor die meer as twee dekades nog nóóit in die steek gelaat het nie. Beproef? Ja, dié het Hy al baie. Hoe sou ons anders geloofspiere kon ontwikkel? In elk geval, nog altyd het Hy ingegryp voordat dinge ‘n breekspul kon word.
Waarom leef ons so? Waarom voel ons so sterk daaroor? Waarom wil ons nooit anders leef nie?

Met betrekking tot die Woord van God

Geensins kan of wil ons sê dat die Skrif 'n formele salaris vir voltydse koninkrykswerkers verbied. Natuurlik nie! Maar daar is tog baie in die Woord wat ons aanspoor op óns oortuigingspad.
As die Here Jesus Sy dissipels uitstuur - eers die twaalf, dan die sewentig - is een van Sy konsekwente voorskrifte dat hulle nie geld en klere sal saamneem nie (Mt 10:9-10; Mk 6:8-9; Lk 9:3; 10:4). Natuurlik sê die Here Jesus in Mt 10:10 dat die arbeider geregtig is op sy onderhoud. Daaroor stry niemand nie. Maar hier is tog allermins sprake van 'n formele salaris. Nee, hulle moes die Here vertrou om hulle deur die spontane liefdesgawes van Sy kinders te versorg - of hoe ook al. Só het die Here Jesus en sy dissipels geleef (Lk 8:3). En later sê Paulus op verskeie plekke dat dit vir hom uiters belangrik is om die gemeentes gratis te dien (Hd 20:33-35; 1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Ts 2:8-12; 2Ts 3:7-9). Mens kry 'n soortgelyke gesindheid by Nehemia (5:14-19).
Die hele strekking van die Nuwe Testament sê vir mens die Here se uitspraak in Mt 10:8b is 'n koninkryksbeginsel: "Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet." Uitdeling, diensbaarheid, voetewas! Dis waaroor dit vir dissipels gaan. Dis die wêreld wat aandring op vergoeding vir dienste gelewer. In die wêreld is die reël, "koop en verkoop"; in die koninkryk van God is die beginsel, "gee en ontvang."
Die Skrif is vol beloftes dat die Vader Sy kinders se gebede verhoor en hulle materiëel versorg - te veel om op te noem. Miskien is die locus classicus Mt 6:19-34 - met as sentrale belofte: "... soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" (v.33).
Nog twee verse - beide in 'n "monetêre" konteks - is besonder kosbaar en het ons al dikwels in tye van noute bemoedig: Eerstens, 2Kor 9:8 met sy 5 Griekse "pantas": "En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk" (vgl. ESV). Tweedens, die Grieks van Hb 13:5 met sy 5 negatiewe: "Ek sal jou nie loslaat nie. Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie" (eie vertaling; vgl. Ampl).

Met betrekking tot God

God het 'n innige behae daarin as Sy kinders in alles biddend-afhanklik voor Hom leef - as 't ware uit Sy hand. Natuurlik moet en kan almal van ons so leef, of daar nou 'n vaste inkomste is, al dan nie. Maar ons ervaring is dat 'n mens se beoefening en belewing van hierdie afhanklikheid mettertyd afstomp as jou voorsiening bloot meganies en voorspelbaar opdaag. Al was ons al dikwels benoud, kies ek en Soniah weer en weer die bergpad van 'n meer intieme en opwindende wandel met ons Vader. Ons wil nie voorbarig wees, of onsself op die skouer klop nie, maar ons glo tog dat so 'n lewenswyse Hom behaag en Sy eer dien.
In hierdie wêreld is Mammon god. En min is hulle wat nie elke dag na sy pype dans nie. Nog meer Godonterend is die beheptheid met geld in groot dele van die hedendaagse kerk. Ons begeerte is dus dat ons lewenswyse 'n rigtingwyser mag wees - weg van Mammon af, na die ware God en na Sy koninkryksordes!
Die groot vraag in ons wêreld is nie óf daar 'n God is nie. Die wroeging van derduisende - sowel buite as binne die geïnstitusionaliseerde kerk - is die vraag of die ware God hoegenaamd by ons betrokke is. Die verdwaalde mens van ons dag smag hoopvol na 'n demonstrasie dat dit inderdaad tot in die fynste besonderhede die geval is en dat Hy 'n betroubare hoorder van gebed is. Praktiese deïsme loop immers bakarm en uitdagend onder ons rond. Daarom kan ons as Christene 'n siniese wêreld oor en oor probeer verseker dat God elke dag by ons is, maar as mense nie onweerlegbare bewyse daarvan sien nie, bly hulle skepties en ongelowig (ek weet dit gaan ten diepste oor die Heilige Gees se onweerstaanbare bekeringswerk, maar ons het dit nou oor óns verantwoordelikheid en rol in die proses). My en Soniah se ervaring is egter dat geldgedrewe spotters keer op keer met 'n mond vol tande staan as ons in opregtheid en waarheid God se bonatuurlike voorsiening op 'n onmiskenbare wyse demonstreer. Dit geld soveel te meer as hulle te staan kom voor die feit dat ons gewone mense van vlees en bloed is en dat ons lewenswyse nie bloot speel-speel is nie, maar 'n voete-op-die-grond werklikheid. Immers, as dit by geldsake kom, is ons op die rotsbodem van realiteit. Hier is geen moontlikheid van bluf of selfbedrog nie - jy het of jy het nie. Hier "byt die rubber teer". En wie weet dit beter as die mense van hierdie wêreld!
Dis ons oortuiging dat ál die Here se dissipels die grootse roeping het om só te leef dat skeptiese waarnemers tot die slotsom sal kom dat God nie net leef nie, maar inderdaad gebedsverhorend by ons betrokke is - dat Hy in ons midde is!

Met betrekking tot onsself

Ons is nie asketies nie, nog minder heroïes. Maar ons wil groei na die beeld van Christus.
Dit is ongelukkig 'n feit dat al die geriewe en sekuriteite van ons welvaartsgemeenskap mens al te dikwels hoog en droog uitlig bokant die vlakke waar God se waterpapier op sy beste poleer. 'n Lewe in direkte materiële afhanklikheid van die Vader plaas jou egter in 'n uitnemende posisie om na die beeld van Christus gevorm te word. Want oorvloed kan blitsvinnig omsit in die benoudheid van nie weet hoe jou huispaaiement betaal sal word nie; trouens, ons was al (weliswaar baie selde) onseker oor wat ons môre, oormôre gaan eet.
Daarbenewens bring so 'n lewe dimensies van geloofservaring en -avontuur wat help om jou te bewaar van 'n prosaïese en lou soort Christenskap, sonder enige romantiek in jou liefdeswandel met die Here. Natuurlik is geen avontuur net altyd lekker nie; trouens, dit het noodwendig heelwat oomblikke en seisoene van benoudheid en ontbering. So gaan dit met almal wat soos ons leef (en daar was deur die eeue derduisende!), maar later, weet ons, lewer dit 'n "vredevolle vrug van geregtigheid" (Hb 12:11).
So 'n lewensstyl verleen aan 'n mens getuieniskrag - veral as jy 'n prediker is. Jou gewete getuig dat jy jou oortuigings en verkondiging uitleef. Jy is nie bloot in 'n professie ter wille van sekuriteite en byvoordele nie. Voorts, soos reeds hierbo gesuggereer, verleen dit vrymoedigheid teenoor ongelowiges wat maar té geneig is om jou van sulke skewe motiewe te beskuldig.
Jou hemelse Vader bepaal en orkestreer jou inkomste en lewensstandaard. En wie sal beter weet wat goed is vir jou as Hý. Let op, dit gaan nie net oor afskaal nie; inteendeel. Daardie onvoorsiene piekuitgawes wat so met hierdie wêreld se salarisslawe die vloer kan vryf, is geen probleem vir die Een aan wie die vee op 'n duisend berge behoort nie. En in elk geval het Hy 'n vreugde daarin om, ten minste van tyd tot tyd, die vensters van die hemel oor Sy kinders oop te maak. Daarvan kan ons getuig.

Met betrekking tot die gemeente

Die mankement wat soveel gemeentes teister - die werkgewer-werknemer-sindroom - ontstaan moeilik as 'n pastor en sy vrou soos ons leef. Nee, dit bring in 'n gemeente 'n dinamiek mee van spontaniëteit en wedersydse waardering. Bydraes vir die voorganger en sy gesin is elke keer 'n persoonlike en ad hoc saak. Elke lidmaat besluit self daaroor - oor die óf, die wát, die hóé, die wánneer en die hóéveel. En elke keer as iets gegee word, spring daar 'n liefdesvonk. Dit gebeur moeilik as 'n salaris per debietorder betaal word! Selfs as bydraes anoniem gegee word - dikwels die uitnemende manier, en in ons geval die reël - is dit elke keer 'n klein geloofsavontuur vir sowel gewer as ontvanger. Kosbaar is dit as jy met 'n leë spens en 'n leë beursie in die oggend opstaan en daar is 'n naamlose koevert met 'n paar note in onder deur jou voordeur gestoot. Talle kere het ons dit al beleef - en variasies op die tema.
Geen voorganger kan ooit alles vir almal in die gemeente wees nie. Kry mens dan op die koop toe 'n groot salaris, het mense net minder geduld met jou gebreke - veral as hulle ook nog dink dat hulle 'n beduidende deel daarvan bydra. Dien mens egter die gemeente gratis, sit allerlei verwagtinge blitsvinnig om in waardering. Nou is daar net nie meer so 'n gunstige klimaat vir gesindheidsprobleme en spanninge nie. Elke bydrae wat nou vir die voorganger en sy gesin se onderhoud gegee word, is immers 'n vrywillige gawe wat na willekeur verstel of gestaak kan word.
So 'n lewenstyl help 'n pastor en sy vrou in hulle verhouding met die armes in die gemeente. Enersyds worstel jy nie met allerlei skuldgevoelens oor jou dik salaris, terwyl hulle - wat ook deel van dieselfde liggaam is - op die broodlyn moet leef nie. Andersyds verwyder dit 'n klomp struikelblokke in hulle verhouding met jou. Hulle weet jy is nie 'n "vet kat" nie (Eseg 34:7-10, 17-20). En hulle weet dat jy volledig met hulle ontberinge kan identifiseer.
Op hierdie wyse word 'n gemeente se lewe aansienlik vereenvoudig. Dit help om organisme te bly en om die suigkragte van toenemende institusionalisme te weerstaan. Die administrasie van begrotings, belastings, pensioene, mediese fondse, vakansierekords, telefoonrekenings, ensovoorts kan 'n logge saak raak. Dis waarom soveel kerkraadsvergaderings deur geld en administratiewe sake verswelg word - so totaal anders as wat dit waarskynlik destyds in 'n Nuwe Testamentiese gemeente gegaan het.

Ja, maar ...

Beveel God se Woord nie dat die kudde hulle herder(s) moet versorg nie? Natuurlik! Dit word op verskillende plekke duidelik geleer. Trouens, 1Tm 5:17 maak selfs voorsiening vir "dubbele erkenning" in die geval van uitnemende dienswerk - en vanuit die konteks lyk dit asof die apostel in die eerste instansie materiële versorging in gedagte het. Die vraag gaan dus nie oor die "of?" van versorging nie, maar oor die "hoe?" daarvan.
Doen mens dit op ons manier, is daar niks in enigeen se pad om getrou te bly aan God se opdrag nie. Al wat ons sê, is dat óns op niks aanspraak maak nie, en dat ons oë op ons versorgende Vader gevestig is. Dit was presies Paulus se benadering.
As óns lewenswyse algemene praktyk in die kerk van die Here sou word (ons verwag nie dat dit sommer sal gebeur nie), sal oornag ontslae geraak word van feitlik alle wolwe op kansels - en watter wonderlike seën sal dit nie wees nie! (laat ek net weer beklemtoon, geensins wil ek hier impliseer dat alle predikers wat 'n salaris kry, wolwe is nie - verre daarvandaan!). Want slegs ware geroepenes van die Here is in staat tot dit waarvan ons hier praat; vir 'n huurling is dit verreweg te dik vir 'n daalder.
Is daar nadele aan so 'n benadering verbonde? Eerder dalk enkele gevare.
'n Gemeente sou dalk laks kon raak in hulle finansiële bydraes. Sonder reuse salarisuitgawes, het die gemeentekas nie eintlik veel nodig nie, sou geredeneer kon word. Die oplossing is gewoon dat 'n gemeente hulle prioriteite regkry. Daar moet op die voorvoet gebly word met betrekking tot barmhartigheid en uitreiking. Mense se bydraes is immers in direkte verhouding met hulle gevoel dat hulle gee vir iets wat saak maak. En dis koninkryksnut en ewigheidsbetekenis wat vir ware gelowiges gewig dra.
Dalk kan hierdie benadering insekuriteite by lidmate veroorsaak: as ons voorganger nie deur 'n salaris en byvoordele gebind word nie, hoe weet ons hy dros nie môre nie? Dit mag 'n probleem wees as jy met 'n "huurling" (Jh 10:12) te doen het. Maar dan is dit in elk geval beter as hy sy ry kry. Iemand wat egter sy herdersroeping voor die aangesig van die Here uitleef, hoef nie deur wêreldse sekuriteite vasgebind te word om op sy pos te bly nie.
Kan so 'n werkswyse nie daartoe lei dat die leraar en sy vrou naderhand soveel finansiële kwellinge het dat hulle nie meer op hulle roeping kan konsentreer nie? Ons hoor almal waarsku altyd hierteen. Maar dis nie ons ervaring nie. Daarmee sê ons nie dis altyd 'n maklike pad nie. Maar dit weet ons, as daar dan tye van swaarkry kom, staan dit soos altyd in diens van meer gebed en geestelike verdieping. In elk geval is ons ervaring veel eerder die van genoeg en selfs oorvloed.

Nie verdienste nie, maar genade

Ons beklemtoon weer: ons dink nie ons is méér geestelik as ander omdat ons leef soos ons leef nie. En die Here versorg ons nie ómdat ons kwansuis so toegewyd en heilig is nie. Nee, die Here het beloof, en daarby staan Hy! Ons maak gewoon daarop staat. Sommige wat hier lees, mag nou dink dat ons 'n besonder "groot" geloof het. Glad nie! Laat ek weer sê, die Here het beloof, en daarby staan Hy! En ek en Soniah glo Hom gewoon; ons vat Hom op Sy woord.
Ons weet hoeveel tragiese gebrokenheid daar nog in ons lewens is! Maar die driemaal heilige God was en is ons genadig: ons is in Christus en met God die Vader versoen. Hy lewe, en is by ons betrokke as 'n hoorder van gebed. En Hy is oneindig goed en onkreukbaar getrou. En dis die rede waarom ons onder meer dag na dag kos op ons tafel het. Dis waarom ons elke maand ons huispaaiement kan betaal.

Gee en vir jou sal gegee word

Laat ek net 'n laaste baie belangrike saak aansny. Een van die vreugdes van ons wandel met die Here deur die jare was en is ons uitdelingsbediening. Dit is immers 'n integrale deel van die lewenswyse waaroor ons hier praat.. Luister na die Here Jesus: "Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word" (Lk 6:38). Presies so werk dit steeds vandag. Ons het al geleer, as dit finansiëel druk begin gaan met ons, moet ons nie ophou weggee nie; inteendeel. Volgens Jesus is uitdeling dikwels die manier om voorsieningverstoppings te deurbreek.
Is ons dalk hier by 'n belangrike rede waarom party mense "in die geloof" probeer leef, maar spoedig deur gebrek gedwing word om tou op te gooi? Ek vermoed dat baie van hierdie hartseer-gevalle die gevolg is van 'n armmansmentaliteit wat redeneer dat dit dwaas is om die bietjie wat jy het nog minder te maak deur iets daarvan weg te gee. Maar dis net hier waar die bal misgeslaan word - die koninkryk se somme werk nie so nie; dit werk presies anders om.
Dus, as jy ruimskoots versorg wil word, wees 'n uitbundige uitdeler. Ons groot Leraar en Vors het immers uitdruklik gesê dis hoe dit in Sý koninkryk werk.

Lewensavontuur

Dit waarvan hierdie getuienis praat, is 'n beduidende deel van my en Soniah se dissipelskap. Waarlik, dit het deur die jare baie bygedra om ons lewe in die voetspore van die Here Jesus 'n wonderlike avontuur te maak! Ons is diep dankbare en vervulde mense - en elke dag maar weer verwonderd dat ons só bevoorreg is.
Ek sluit af met Ps 16: 5-9
"Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig."

Nico van der Walt

KNIBBEL No.5 - DIE HISTORIESE CHRISTELIKE GELOOF

VAN DIE BEFAAMDE NEGENTIENDE EEUSE PREDIKER IN LONDEN, C.H. SPURGEON, SE LIDMATE HET OP 'N SLAG NA HOM TOE GEKOM MET 'N KWELVRAAG: "Mnr. Spurgeon, hoe kan ons weet die evangelie wat jý preek is die waarheid - as daar so baie ander predikers in hierdie stad is wat 'n ander boodskap verkondig?"
As dit destyds 'n brandende vraag was, hoeveel te meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur 'n duisend stemme wat elkeen daarop aanspraak maak dat hý die waarheid beet het. Verwarring en onsekerheid is aan die orde van die dag. Sommer nou die dag nog was Apartheid reg, en vroue-ouderlinge en kindernagmaal onbybels. Maar verskil hiervan vandag, en jy word beskou as bespotlik en fundamentalisties. Dan praat ons nie eers nie van die vraagtekens wat amper daagliks in ons media deur bekende teoloë oor Jesus se maagdelike geboorte, Sy wonders, Sy opstanding - en selfs Sy historisiteit geplaas word. Niks van die verlede is oënskynlik meer goed nie; elke geloofsbaken van vorige geslagte word verskuif.
Is dit 'n wonder dat die kerk (ek praat in algemene terme) in duisende gemoedere 'n patetiese voorwerp van bespotting is? Ons maak aanspraak daarop dat ons 'n boodskap van ewige heil verkondig, maar op ons pad daarheen is ons so deurmekaar soos 'n konfytblik vol erdwurms - want soveel hoofde, soveel sinne. Jy sê, die veragting wat ons ervaar moet mos verwag word - dis gewoon die vervolging wat Jesus se dissipels noodwendig in hierdie God-vyandiggesinde wêreld beleef. Nee, my vriend, daar is 'n groot verskil tussen veragting en vervolging. 'n Kerk wat waarlik kerk is, sal inderdaad altyd 'n mate van vervolging ken, maar eweneens sal Hd 2:47 'n werklikheid wees: die Geesvervulde gelowiges na die Pinksterdag was "in guns by die hele volk" (Hd 2:47, OAV).
Spurgeon se antwoord aan sy jongmense, in 'n tyd toe ongeloofsteologie net so aan die orde was in Europa as vandag hier by ons, getuig van nugtere wysheid: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand." En toe noem hy 'n hele rits name van bekende en gerespekteerde gelowiges deur die eeue en vanuit talle denominasies wie se teologie en arbeidsvrug vas bly staan het ten spyte van 'n duisternis aanslae.
Spurgeon het hom beroep op die kerk se oortuigings- en waarheidskonsensus deur die eeue. Hy het hom beroep op die historiese Christelike geloof! "Meet my aan die geskiedenis," het hy per implikasie gesê, "en kyk of ek iets nuuts verkondig." Hy het nie voorbarig en ambisieus sy eie teologiese wielletjie probeer ontwikkel nie. Hy was doodtevrede om presies dieselfde evangelie as die Puriteine en die Reformatore, die kerkvaders en die martelare, die Apostels en Jesus Christus te verkondig. Dis waarom Spurgeon ook 'n ander gesegde gehad het: "If it is true, it is not new; if it is new, it is not true!" Wat hy verstaan het, moet ons almal verstaan: al leef ons in 'n wêreld wat gedurig verander, is daar sekere dinge wat nooit verander nie. Dis vaster as die berge. God verander nooit nie, ook nie Sy waarheid nie. Die mens het sedert die sondeval moreel niks gevorder nie. Die vorige eeu het die bloedigste oorloë van alle tye opgelewer. En kyk maar na die wêreldtoneel vandag. Dis omdat mense se sonde en verlorenheid nie verander het nie. Dus het God se verlossingsplan en evangelie nie verander nie. En daarom verander die kerk se roeping en verlossingsboodskap ten diepste ook nie!

'n Paar belangrike perspektiewe

# Vryheid is een van dié karaktertrekke van die Christelike lewe. Tog is daar sekere ononderhandelbare absolutes waarsonder ware geloof, prediking en kerkwees ondenkbaar is. Terwyl daar dus duisende dinge in hierdie lewe is wat vir die Christen en sy Bybel totaal om 't ewe is, is daar sekere waarhede en norme wat ons kompromieloos moet vashou.

# Binne die groot spektrum van Bybeluitsprake is daar sekere dinge wat belangriker is as ander. Die Bybel is nie oor alles ewe duidelik nie. Maar op ander dinge dring die Skrif met groot nadruk aan - sodanig dat jy daarsonder nie 'n Christen of waarlik kerk kan wees nie. So, byvoorbeeld, spel die Skrif nie glashelder uit presies hoe die kerk georden en geregeer moet word nie. Maar oor God se verlossingsplan en die hóé van ons redding kan daar nie die minste twyfel of willekeur wees nie. Dit gebeur op één manier, en net so. Wyk slegs net effens daarvan af - en jy tuimel die donker dieptes van verlorenheid in!
Vir baie eeue reeds is daar 'n wonderlike gesegde in die kerk: In necessariis unitas; in nonnecessariis (dubiis) libertas; in omnibus caritas. Ons kan die Latyn vry soos volg vertaal: In die noodsaaklike dinge moet daar eenheid wees; in die nie-noodsaaklike of onsekere dinge, vryheid; en in alles liefde.

# Een van die merkwaardigste eienskappe van die evangelie is sy universele aanpasbaarheid en relevansie. Maak nie saak van watter eeu of kultuur jy is nie - die evangelie is vir jou. In die groeibodem van ryk en arm, geleerd en ongeleerd, oud en jonk ontkiem en groei die kerk ewe goed. Dis omdat die absolutes - die necessariis - van die geloof universeel en tydloos is. Dit spreek die nood en vrae van álle mense aan.

# Soos dit met fondamente gaan, lê ook die geloof se absolutes onder die oppervlak. Dit is dus nie altyd voor die hand liggend nie. Veral onvolwasse Christene sukkel om dit te sien; tewens, om dit behoorlik te verstaan, is een van dié merktekens van geestelike volwassenheid.
Soort soek soort in die wêreld. Maar die gemeente van Christus word deur Hóm gebou. En Hy verheerlik Homself dikwels deur 'n uiteenlopende verskeidenheid van mense by mekaar te voeg. Tot die mate wat sulke mense kan onderskei tussen die noodsaaklike en die nie-noodsaaklike, tot daardie mate sal hulle nie net in harmonie saamleef nie, maar ook die heerlikste gemeenskap geniet. As hulle egter dinge wat sekondêr is só begin opblaas dat dit wat eintlik saak maak, verdring word, is dit nag vir so 'n gemeente.

# Dis nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in plek vasbeton sal wees. Sonder vaste benchmarks weet ons eenvoudig nie hoe om hedendaagse leringe en praktyke te beoordeel nie. Sonder die onbeweeglike ankers van universele, absolute en objektiewe waarheid, is ons soos kurkproppe op die see van 'n duisend menslike opinies.

# Dekades se ryswater-prediking het die kerk in Suid-Afrika beswaarlik toegerus om die absolutes van ons geloof te ken, en om vanuit eerste beginsels te dink en te onderskei. Vaste Bybelse spyse kan selde verteer word. Mense is suspisieus, selfs vyandiggesind teenoor "dogma" - omdat hulle onseker is oor wat hulle moet glo en wat nie. In hulle wanhopige soeke lees hulle alles wat voorkom, en raak net meer en meer deurmekaar. Helaas is die tipiese Christen vandag allermins voorbereid om die relativisme van hedendaagse postmodernisme die hoof te bied. Dis tragies om te sien hoe honderde gemeentes en tienduisende Christene elke nuwe resep uitprobeer as dalk die allerantwoord op hulle insekuriteite. As jy vir niks staan nie, val jy immers vir alles

# Hoewel vandag akuut, was daar nog altyd 'n behoefte aan die duidelike verstaan van die hoekpenne van ons geloof. Daarom is daar van die vroegste tye af gepoog om dit te formuleer. Die necessariis moes van die nonnecessariis onderskei word. Dit was nodig om te weet wat kettery is en wat nie.
Die neerslag hiervan vind ons in die talle en talle belydenisskrifte wat deur die eeue ontstaan het. Wie hierdie konfessies aandagtig bestudeer, kom elke keer weer onder die indruk van die insig en versigtigheid waarmee dit verwoord is. Dit was waarlik die vadere se doel om die essensiële van die nie-essensiële te skei, en om eersgenoemde so akkuraat moontlik te definiëer.
Natuurlik moet steeds onthou word dat die belydenisskrifte menslike geskrifte is. Dit is dus feilbaar - en bly altyd toetsbaar aan die Woord van God as die enigste norm. Tog is hulle baie nuttig om ons te help om die eerste beginsels onder die knie te hê.
Lê die probleem nie juis hier nie? Is hierdie belydenisskrifte nie so uiteenlopend in hulle standpunte dat hulle meer bydra tot die verskeurdheid in die liggaam van Christus as iets anders nie? Hierdie algemene persepsie is die gevolg van onkunde! Die verskillende protestantse konfessies stem sekerlik 95% ooreen, hoewel dit verskillende woorde mag gebruik. Dit geld selfs van die wat aan verskillende kante van die spektrum lê - soos die Anglikane se 39 Articles enersyds, en die Baptiste se 1689 Belydenis andersyds. Eintlik loop die paaie net uiteen as dit oor kerkregering en die doop gaan.
Wat van die leer oor die laaste dinge? Dis betekenisvol - en onderstreep die vadere se wysheid - dat hulle eskatologiese detail as intra-konfessioneel beskou het. Omdat hulle verstaan het dat Bybelse gegewens oor die laaste tye verskillend vertolk kan word, het hulle hul beperk tot die groot lyne waaroor almal saamstem. Die fyner besonderhede is as non-necessariis beskou.

Drie neutedop formulerings

# Dit is baie nuttig om ons essensiële geloof in 'n neutedop te formuleer. Hoe kernagtig kan ons dit stel? Wat is die minimum vereistes vir regsinnigheid?
Onderstaande drie formules kan baie help om ons deur die doolhof te lei (oor hierdie onderwerp is natuurlik baie meer te sê):

# Belangrikste en omvangrykste is die vyf wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie:

Sola et tota Scriptura (alleen die Skrif, maar die hele Skrif); Sola gratia (alleen genade); Solus Christus (alleen Christus); Sola fide (alleen geloof); Soli Deo gloria (alleen die eer van God).

# Nog 'n formule fokus spesifiek op ons verlossing en die gevolge daarvan:

Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen, tot goeie werke, en daarom volgens goeie werke.

# Derdens is daar die volgende:

Ons geloof moet Woordgefundeerd, Godgesentreerd en Christusgefokus wees.

Enkele slotgedagtes

# Een van die kosbaarste lesse wat individuele Christene kan leer - selfs gemeentes - is om hierdie eenvoudige gesegde uit te leef: Major in God's majors, not in His minors! Tot die mate wat ons behep raak met sekondêre sake, tot daardie mate is ons geloof minder as wat dit moet wees en verspil ons tyd, energie en geld op dit wat nie regtig sentraal is in God se wil vir ons lewens nie. Dit is een van die grootste redes waarom Christene se dienswerk nie standhoudend is nie en spoedig in vlamme opgaan (1Kor 3:11-15). En baie dikwels is presies dit die rede waarom selfs ywerige gelowiges met mekaar twis kry.

# Veral predikers moet hierdie les ter harte neem. As hulle prediking nie Woordgefundeerd, Godgesentreerd en Christusgefokus is nie, hoe kan hulle verwag dat die Here dit moet seën en dat dit mense moet opbou in die allerheiligste geloof? Stories mag vermaak, mensgesentreerde sentimentaliteit mag tot trane beweeg, sambokprediking mag mense verskrik, kort ou prekies ("sermonettes") mag in vleeslike kerkgangers se kraam pas, omdat dit hulle gewetens troos - maar niks hiervan bekeer regtig nie en dit bou nie op nie, want dis nie Christus-prediking nie. En niks of niemand is meer sentraal, fundamenteel en noodsaaklik in God se Woord as Hý nie.
Jan Alleman assosiëer die woord "om te preek" met moets en moenies ("Moenie vir my préék nie!"). Hulle dink aan prediking in moralistiese terme. Waarom? Daar kan net een rede voor wees: dis hoe daar tipies gepreek word - nie net deur predikante nie, maar ook deur ouers en onderwysers. Maar dis alles behalwe wat die Nuwe Testament met die begrip bedoel. Prediking volgens die Skrif is om die groot dade van God te proklameer - veral Sy grootse verlossingswerk in Christus. En jy hou nie op nie, voordat mense nie van vensterbanke afval nie (Hd 20:9). Sê die apostel nie in 1Kor 2:2 nie: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde." En die Galasiërs word deur Paulus daaraan herinner dat hy Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het (OAV) sodat hulle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang (Gl 3:1).
Spurgeon se Christusgesentreerdheid blyk uit die eerste woorde wat hy in 'n nuut-geboude Metropolitan Tabernacle gesê het - die kerkgebou wat die skares moes akkommodeer wat na sy prediking kom luister het: "Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees. Ek is nooit skaam om te sê dat ek 'n Calvinis is nie; ek maak geen geheim daarvan dat ek 'n Baptis is nie; maar as iemand my vra wat my diepste geloofsoortuiging is, kan ek net één antwoord gee: Jesus Christus, en Hy alleen!"

# In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer van 'n rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Wanneer dit swaar sneeu, word die rif heeltemal bedek. Die bank sneeu bo-oor is dan ononderbroke en aaneenlopend. Die eenheid daarvan is egter net 'n illusie. Want die skerp rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, na die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, na die teenoorgestelde vallei.
Dit is egter nie al nie. Die een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die yskoue water van die Noordsee. Sneeu wat 'n tree daarvandaan smelt, beland egter in die Geneefse meer, daarna in die Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See - 'n duisend myl vanaf die Rynmonding.
Dis wat 'n waterskeiding doen - dit sny, dit verdeel, dit bepaal bestemmings. Waterskeidings is lotsbepalend.
Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is. Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit - tot geslagte ná ons. Maar wat van hierdie fundamentele saak geld, geld uiteraard ook van die ander absolutes van ons geloof. God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne dus net 'n halftree, versteur die benchmarks net effens - en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings van tallose mense ingrypend raak.
Laat ons nooit vergeet nie: die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm. 'n Enorme roeping rus op ons!

Enkele vrae vir bespreking

1. Vir watter waardes en waarhede is jy bereid om te sterf? Waar trek jy die streep?

2. Die begrip fundamentalisme het sy oorsprong aan die begin van die 20ste eeu, toe 'n aantal evangeliese kerkleiers en teoloë die fundamentele waarhede van die Christelike geloof in 'n reeks boeke uiteengesit het. Sedertdien het dit 'n baie negatiewe begrip geword. Wat verstaan jý vandag onder die begrip? Is die prediking in jou gemeente fundamentalisties of nie? Wat dink jy daarvan?

3. As jy na die kerk van ons dag kyk, wat dink jy daarvan? Wat doen jy daaraan?

4. Met sekere mense wat hulleself Christene noem, is dit baie moeilik om gemeenskap te ervaar. Waarom? Wat beskou jy as minimum vereistes vir in-diepte gemeenskap en eenheid?

5. Wat weet jy van die Postmodernisme - die lewens- en wêreldbeskouing wat toenemend ons samelewing beheers?

6. Wat doen jy om jou kinders toe te rus vir die uitdagings van môre? Hoe leer jy hulle die fundamentele waarhede van die Skrif, en om vanuit eerste beginsels te dink?

7. As ons dan moet oppas dat ons nie deur bloot moralistiese opvoeding van ons kinders klein Fariseërs maak nie, wat moet ons dan wel vir hulle leer?

Nico van der Walt