Wednesday, May 22, 2013

KNIBBEL No.56 - HEILIGMAKING

Ek is nie wat ek behoort te wees nie; ek is nie wat ek wil wees nie; ek is nie wat ek hoop om eendag te wees nie. Maar ek is ook nie wat ek was nie; en wat ek is, is ek deur die genade van God.
                                           Vrye vertaling van 'n sê-ding van John Newton (1725 - 1807)

KNIBBEL No.55 - 'N TRAGEDIE WAT ONS ORALS OM ONS SIEN

Dis onvermydelik dat reformatoriese kerke wat in dooie ortodoksie verval,  "liberaal" sal word. Dooie wortels vrot af, en dit maak so 'n kerk ankerloos. Voorts dui doodsheid op "Gees-loosheid"  -  en dit beteken kragteloosheid en mettertyd radeloosheid. Ankerloos en radeloos dryf so 'n kerk dan onafwendbaar in die rigting van pragmatisme (enigiets wat "werk")  -  die tweederangse oplossings van vals kerke en die wêreld.


KNIBBEL No.54 - DAAR IS TWEE DINGE IN DIE LEWE

Daar is twee dinge in die lewe: die volmaakte en die werklikheid.
Volwassenheid is om die volmaakte as ideaal te sien,
    maar om met die onvolmaakte as werklikheid saam te leef.
Om die werklikheid gelate te aanvaar
    en die volmaakte sinies af te skryf,
        is dwaas.
Om net die volmaakte te erken
    en die werklikheid te misken,
        is naïef.
Weier om vrede te maak met gebrokenheid,
    maar maak vrede met die feit van gebrokenheid
        -  dít is volwassenheid.

KNIBBEL No.53 - AL WAT REGTIG SAAK MAAK

God sien en God beloën; kan enigiets anders regtig saak maak?