Kenneth Scott Latourette, die bekende kerkhistorikus, praat van die onverklaarbare "Korean Christian phenomenon". Dis 'n baie kontemporêre fenomeen en as sodanig baie bemoedigend. Die evangelie het die eeue-oue Korea op 'n laat stadium bereik. Maar dit het in die Koreaanse hart 'n openheid en ontvanklikheid gevind soos selde in die sendinggeskiedenis. Oor die afgelope paar geslagte het die Koreane gevolglik beroemd geword vir gebedsvolharding, trou onder vervolging en verstommende kerkgroei. Tekens van die evangelie se impak is vandag orals in Suid-Korea te sien. Die hoofstad, Seoul (12 miljoen) het alleen na skatting meer as 2 000 kerkgeboue. Soggens teen vieruur, vyfuur - winter en somer - begin die klokke in die stede en dorpe beier om die Christene na hulle dagbreek-bidstondes te roep. Oor die afgelope dekades het die getal Christene elke tien jaar verdubbel, wat beteken dat die kerk omtrent vyf tot sewe maal vinniger as die bevolking gegroei het. 'n Beduidende deel van alle Suid-Koreane beskou hulleself vandag as Christene. En die persentasie is steeds besig om te groei.
Korea is 'n bergagtige skiereiland aan die suidoostelike kant van Oos-Asië. Dis min of meer gelykop verdeel: die noorde onder 'n kommunistiese regering; en die gebied onder ons vergrootglas, die kapitalistiese Republiek van Suid-Korea, in die suide (45 miljoen op 99 000 vk. km - soveel soos ons in Suid-Afrika, maar op 'n twaalfde van die oppervlakte).
'n Oorsig oor die land se geskiedenis
Korea se geskiedenis strek minstens vier millennia terug. Onder die eeue-oue Yi-dinastie was die land feitlik geslote vir buitelanders. Teen 1884 is dit egter oopgestel - en kon Westerse sendelinge dit gevolglik binnegaan.
Na die Russies-Japannese Oorlog word die land in 1910 deur Japan geannekseer. Die besetting duur tot 1945, as Japan deur die Geallieerdes verslaan word. Rusland maak op 'n deel van die buit aanspraak en kry uiteindelik beheer oor die noorde. Daarenteen word Suid-Korea op 15 Augustus 1948 'n onafhanklike staat.
Vrede is egter van korte duur. Die Kommuniste val die suide op 25 Junie 1950 binne en oorlog teister die Koreane vir 'n verdere 3 jaar. As die Verenigde Volke se magte mettertyd die oorhand kry, word die agt-en-dertigste breedtegraad die grens. Sedertdien leef die Suid-Koreane onder voortdurende bedreiging uit die noorde en is hulle dag en nag op 'n gereedheidsgrondslag.
In Noord-Korea, waar die Christene die getalrykste was, het daar oënskynlik niks van die institusionele kerk oorgebly nie. Derduisende gelowiges is vermoor. En van die oorblywendes het meeste na die suide gevlug.
Die tradisionele godsdienste van Korea is Boeddhisme en Confucianisme. Diep in die negentiende eeu, toe die evangelie die land bereik het, was hierdie gelowe se invloed reeds aan die taan. En vandag is min van die nie-Christene hoegenaamd godsdienstig. Aangesien die kerk jonk en dinamies is, en nie 'n klomp skandelike bagasie saamdra soos in groot dele van die Weste nie, bring dit mee dat die bevolking relatief ontvanklik is vir die evangelie.
Die vroeë kerkgeskiedenis
'n Jong Koreaan, Lee Seung-run, het in China onder Rooms-Katolieke invloed gekom en in 1784 begin om die evangelie in Korea te verkondig. Gou het 'n gemeente rondom hom ontstaan. Hy is later gevolg deur eers 'n Chinese en toe 'n Franse Rooms-Katoliek, maar beide het 'n marteldood gesterf. As gevolg van felle vervolgings was daar slegs 'n paar duisend Katolieke in Korea toe die eerste Protestantse sendelinge daar aangekom het.
Die eerste Protestant op Koreaanse bodem was Charles Gützlaff, 'n Duitser wat tydens 'n vlugtige besoek in 1832 'n klompie Chinese Bybels aan die ooskus versprei het. In 1866 het die Brit, Robert J. Thomas, nadat hy verneem het dat alle opgevoede Koreane Chinees kon lees, met 'n vrag Bybels vanaf China vertrek. Hy was passasier op die Amerikaanse skip, The General Sherman, wat 'n ontdekkingsvaart na Korea onderneem het. Die skip het in die Tai Tongrivier opgevaar en teenoor die meer as drieduisend jaar oue Pyongyang (die huidige hoofstad van Noord-Korea) op die rotse beland. Die Koreane het die vaartuig aan die brand gesteek en die hele bemanning vermoor. Thomas het met sy arms vol Bybels na die oewer gewaad, en terwyl hy doodgeslaan is, het hy sy kosbare vrag in die hande van sy aanvallers gedruk. Sy bloed was egter die saad van die toekomstige Koreaanse kerk, want die groot herlewing sou veertig jaar later in presies hierdie stad uitbreek!
Twee Skotte, John Ross en John McIntyre, het die eerste Koreaanse Protestante in 1876 in Mantsjoerye gedoop. Ook was hulle verantwoordelik vir die eerste Koreaanse Nuwe Testament tussen 1882 en 1887. So Sang-Yun, een van die bekeerlinge en helpers met die vertaling, het in 1883 na Korea teruggekeer en die evangelie begin verkondig. En spoedig het meer as 'n honderd van sy volksgenote tot die geloof gekom.
Die eerste sendelinge
In 1884 vestig die Presbiteriaan en mediese dokter, Dr. Horace N. Allen as eerste voltydse protestantse sendeling in Korea. Hy word 'n jaar later gevolg deur nog Amerikaners - Horace Underwood, 'n Presbiteriaan, en Henry Appenzeller, 'n Metodis. Die twee kerkgroepe werk van die begin af saam, maar besluit op twee verskillende arbeidsvelde. Hulle benaderings verskil in elk geval: die Presbiteriane laat die klem meer op evangelieverkondiging val; die Metodiste op Christelike skole.
Hierdie baanbrekers word binne die volgende twee dekades deur heelwat ander gevolg - nog Presbiteriane en Metodiste, maar ook Baptiste en Anglikane. Vanaf 1895 begin die Protestantse kerke in Korea dramaties groei. Veral word die Presbiteriane se werk in die noordweste van die land geseën, waar Dr. Samuel A. Moffett 'n prominente rol speel. Hoewel statistieke nie altyd 'n betroubare barometer vir ware kerkgroei is nie, is dit tog sprekend dat die getal Koreaanse lidmate en aanhangers (Christene wat nog nie gedoop is nie) van slegs 802 in 1895 tot 167 352 in 1910 toegeneem het.
Die Nevius-metode
In 1890 besoek die Amerikaanse sendeling, John L. Nevius, Korea op uitnodiging van sy Presbiteriaanse kollegas. Dit volg op die publikasie van sy epogmakende boek, The Planting and Development of Missionary Churches. Hoewel sy besoek maar twee weke duur, beskryf die sendingwetenskaplike, Peter Beyerhaus, dit as "one of the most momentous events in the whole history of missions". Waarom?
Nevius stel na sy besoek 'n verslag op waarin hy sekere aanbevelings doen ten opsigte van 'n sendingstrategie in Korea. Dit word deur die plaaslike sendelinge aanvaar en nougeset oor die daaropvolgende jare toegepas.
Daar is min twyfel dat die uitstaande kenmerke van die Koreaanse kerk tot vandag toe - soos sendingywer, offervaardigheid en Bybelkennis - grootliks te danke is aan Nevius se sendingbeginsels en die konsekwente toepassing daarvan deur die sendelinge.:
1. Selfvoortplanting. Die uitdra van die evangelie is die verantwoordelikheid van elke gelowige. Elkeen gee leiding aan 'n onlangs-bekeerde. En hy self leer by een wat beter as hy toegerus is.
2. Selfregering. Sendingkerke moet so gou as moontlik selfstandig word en dan as plaaslike kerke selfstandig bly.
3. Selfversorging. Elke inheemse kerk is finansieel verantwoordelik vir hulle eie plek van samekoms, asook die versorging van helpers en pastors uit eie midde. Geen bydraes tot hierdie basiese behoeftes word deur die sendende kerk gemaak nie.
4. Bybelstudie. Elke gelowige doen saam met ander sistematiese Bybelstudie onder leiding van 'n leier. Hierdie leiers leer op hulle beurt by 'n groepleier - wat saam met ander groepleiers weer leiding ontvang van die sendeling.
5. Dissipline. Streng dissipline en Bybelse tug word te alle tye gehandhaaf.
'n Dreigende krisis
Van die begin af was die sendende kerke daarop gesteld dat die jong kerke so gou moontlik selfstandig moes word. Aangesien die Nevius-beleid die proses baie sou vergemaklik en daar verwag is dat die eerste Koreaanse predikante in 1907 sou afstudeer, was dit die logiese tyd vir die totstandkoming van die Koreaanse Presbiteriaanse Kerk. Hiertoe het die sendelinge hulle dan ook vooraf verbind.
Maar in 1905 breek die Russies-Japannese Oorlog uit. Die magtelose Korea word deur Japan geannekseer en na die oorlog laat blyk die seëvierende Japannese geen voorneme om Korea te verlaat nie. 'n Intense Koreaanse patriotisme ontstaan oornag en dadelik word na die kerk as sterkste en invloedrykste "organisasie" opgesien om leiding in die vryheidstryd te neem. William Blair, 'n ooggetuie-sendeling, beweer dat massas die kerk sou binnegestroom het as enigsins afgewyk is van die streng beleid om nie by politiek betrokke te raak nie. Hy stel dit verder só: "I believe Korea, like the Roman Empire, would have adopted Christianity in a day, and I believe, too, we would have had another Roman church."
Dit het moed en wysheid van die sendelinge en Koreaanse kerkleiers geverg om die kerk deur hierdie krisis te stuur - om teen die golf van haat in, liefde en vergewingsgesindheid te verkondig. Wat die sendelinge se taak verder bemoeilik het, was Amerika se apatiese houding jeens Japan se imperialisme. Uiteraard het dit hewige anti-Amerikaanse gevoelens in Korea - en ook binne-in die kerk - ontketen.
Die Here slaan egter reguit houe met krom stokke. Hoewel interne spannings kort voor sy selfstandigwording dreig om die Koreaanse kerk uitmekaar te ruk, word dit juis die aanleiding tot Januarie 1907 se herlewing.
Die herlewing van 1907
In Augustus 1906 kom die sendelinge van die streek vir 'n week van Bybelstudie en gebed in Pyongyang bymekaar. Diep bewus daarvan dat hulle die hulp, wysheid en leiding van die Here nodiger as ooit het, kom hulle opnuut onder die besef dat daar maar een antwoord is: diep verootmoediging en gebed. Dis dan ook die boodskap wat elkeen na sy eie gemeente terugneem. En inderdaad word daar in die volgende maande intensief vir die situasie gebid.
Tydens Januarie 1907 word daar, soos gebruiklik, 'n weeklange Bybelklas in Pyongyang aangebied. Dit word bygewoon deur die sendelinge en ongeveer 1500 Koreaanse gelowiges van die omstreke. Die eerste byeenkomste lewer niks besonders op nie; tewens, 'n nat kombers van doodsheid versmoor omtrent die byeenkoms van Sondagaand, 13 Januarie. Maandag deur die dag bid die sendelinge en van die Koreaanse leiers soos nooit vantevore nie. En toe hulle die aand die saal binnestap, weet almal 'n wonderlike deurbraak het op hulle gedaag. Maandag, 14 Januarie, sal vir altyd met goue letters in die Koreaanse kerkgeskiedenis geskryf staan.
Na die preek neem die Heilige Gees eenvoudig besit van die mense. Heeltemal teen die gebruik in begin hulle gesamentlik hardop bid. Daar is egter geen wanorde nie. Dis asof die honderde gebede saamsmelt tot een magtige roepe na God. Spoedig neem 'n diep sondebesef van die vergadering besit en mense begin hulle skuld hardop en onder trane bely. En die res lê biddend op hulle gesigte. So hou dit aan tot twee-uur die oggend.
Hiervan sê Blair, 'n konserwatiewe Presbiteriaan: "We may have our theories of the desirability or undesirability of public confession of sin. I have had mine; but I know now that when the Spirit of God falls upon guilty souls, there will be confession, and no power on earth can stop it."
Die volgende aand is die laaste sessie van die konferensie. Weereens val die Heilige Gees op die vergadering van ver meer as 'n duisend. Blair beskryf dit so: "Then began a meeting the like of which I had never seen before, nor wish to see again unless in God's sight it is absolutely necessary. Every sin a human being can commit was publicly confessed that night. Pale and trembling with emotion, in agony of mind and body, guilty souls, standing in the white light of that judgement, saw themselves as God saw them. Their sins rose up in all their vileness, till shame and grief and self-loathing took complete possession; pride was driven out, the face of men forgotten. Looking up to heaven, to Jesus whom they had betrayed, they smote themselves and cried out with bitter wailing: 'Lord, Lord, cast us not away forever!' Everything else was forgotten, nothing else mattered. The scorn of men, the penalty of the law, even death itself seemed of small consequence if only God forgave."
Na die Bybelklas keer die Koreane terug na hulle tuisgemeentes en waar hulle ook al verslag doen, vat die herlewing vlam. Orals word restitusie gedoen en verhoudinge tussen mense herstel. En uit dit alles ontstaan 'n brandende sendingywer. Die gevolg is dat die evangelie wyd en syd uitgedra word.
Danksy deeglike Bybellering voor die herlewing, was daar min sprake van fanatisisme. Die ontsaglike hoeveelhede geestelike energie is ordelik gelei in regsinnige bane (Clark, A.D., A History of the Church in Korea, 1971, The Christian Literature Society of Korea). Hier lê grootliks die antwoord op die vraag waarom die Koreaanse herlewing so standhoudend is.
Selfstandigwording
Die herlewing het soos 'n veldbrand deur Korea versprei. Die kerk wat een oomblik nog op die punt was om te skeur, is feitlik oornag gesuiwer en gereed gemaak om sy selfstandigwording te aanvaar.
Die stigtingsvergadering van die Koreaanse Presbiteriaanse Kerk is op 17 September 1907 in Pyongyang gehou. Daar was 38 sendelinge en 40 Koreaanse ouderlinge teenwoordig. Die eerste 7 predikante, wat pas aan die teologiese skool afgestudeer het, is georden - en een van hulle is dadelik as sendeling na Cheiju-eiland gestuur, waar hy spoedig in lewensgevaar begin werk het.
In 1908 het geen predikante klaar gemaak nie, maar in 1909 was daar 'n verdere 8 gereed - van wie een as sendeling na Vladivostok in Siberië gestuur is.
Op Sondag, 1 September 1912, vergader die eerste sinode, bygewoon deur 52 predikante, 125 ouderlinge en 44 sendelinge. Weereens word heelwat aandag aan buitelandse sending gegee en 3 sendelinge word na China gestuur.
Die sendingywer van die Koreaanse kerk is dus van die begin af voorop. Is dit 'n wonder dat God se seën tot vandag toe só op hierdie land rus?
Die Bybel in Koreaans
Wat die Koreaanse Bybel betref, het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en die Amerikaanse Bybelgenootskap saam aan 'n amptelike vertaling gewerk. Die Nuwe Testament is in 1901 voltooi en 'n finale hersiening daarvan in 1904. Die Ou Testament kry finaal sy beslag in 1910.
Later, in 1925, het ook 'n private vertaling onder leiding van ene Ds. J.S. Gale verskyn. Dit was 'n poging om die Bybel in 'n meer verstaanbare spreektaal aan die massas beskikbaar te stel.
'n Seisoen van vervolging
Tydens die jare 1910-1945 is die kerkgeskiedenis van Korea oorheers deur die kerk se stryd teen die heidense Japannese oorheersers. Dit was gevolglik 'n tyd van rypwording en suiwering vir die kerk. Maar helaas lê die wortels van latere kerkskeurings ook in hierdie periode.
Op 22 Augustus 1910, na die Russies-Japannese Oorlog, kom 2000 jaar van onafhanklikheid vir Korea tot 'n einde. Japan annekseer die land formeel as kolonie. Hoewel die kerkleiers steeds poog om die kerk buite die politiek te hou, kan die Japannese vanuit hulle Shinto-agtergrond - wat godsdiens en politiek verweef - dit nie begryp nie. Hulle verdink daarom die buitelandse sendelinge van spioenasie en skryf die vinnige groei van die Koreaanse kerk aan ondergrondse politieke aktiwiteite toe.
Die eerste openlike vervolging breek in Oktober 1912 uit. Al die onderwysers en talle leerlinge van 'n Presbiteriaanse hoërskool in Seoul word in hegtenis geneem. Ook in Pyongyang en elders word mense gearresteer - onder meer talle Christene. Na verskriklike martelings word die gevangenes gedwing om "verklarings" te onderteken. Uiteindelik verskyn 125 mense in die hof, 98 van hulle Christene. Hulle word beskuldig van sameswering om die Japannese Goewerneur-Generaal te vermoor. Niks kan teen hulle bewys word nie, maar tog word meer as 'n honderd gevonnis. Na appèl word almal behalwe ses egter ontslaan. Nieteenstaande die ontberinge van die gevangenes, kom die saak tog die Christene ten goede, aangesien dit die Japannese wantroue teenoor die kerk en sendelinge grootliks laat bedaar.
In 1919 versprei 33 vooraanstaande Koreaanse leiers egter 'n verklaring oor politieke onafhanklikheid regdeur die land. Van hulle is 15 Christene. Dit lei tot wydverspreide, maar vreedsame betogings. Maar die Japannese onderdruk dit met brute geweld. Talle Koreane word doodgeskiet en met bajonette vermink. En die tronke word oornag gevul. Die volgende klompie jare is gevolglik 'n tyd van agterdog, martelings en hofsake.
Hoewel die sendelinge hulle uit die politiek hou, veroorsaak die lidmate se lewendige sosiale belangstelling en die feit dat amper die helfte van genoemde verklaring se ondertekenaars Christene was, dat die Japannese se suiwerings nou weer grootliks teen die kerk gerig word. In een dorp, byvoorbeeld, word 'n hele gemeente saam in hulle kerkgebou verbrand.
Keiseraanbidding
Vanaf 1930 begin die militêre party in Japan in krag toeneem. En hulle begin drome droom oor wêreldoorheersing. Die gevolg is wydverspreide magsuitbreiding in die verre Ooste.
Dit loop hand aan hand met 'n herlewing van tradisionele Sjintoïsme. Hiervolgens is die Japannese volk heilig. En die keisers word as goddelik beskou. Dit lei tot aanbidding van die keisers en hulle afgestorwe geeste in Sjintotempels.
Vanaf 1930 is daar toenemende druk op die Koreaanse volk om ook aan die Sjintoïsme deel te neem. Uiteraard verset die Christene hulle daarteen. Die Japannese teenargument is dat dit nie die kerk se geloof in die gedrang bring nie, maar bloot 'n politieke aangeleentheid is. Maar natuurlik besef die Christene dat daar 'n onmiskenbare en totaal onaanvaarbare geloofsdimensie in Sjinto-verering is.
Druk op die kerk neem toe. Dis meedoënloos en verskriklik subtiel. Japannese propaganda dring dag en nag daarop aan dat dit slegs oor patriotisme gaan. En ál wat hulle vra is 'n eenvoudige kniebuiging ter ere van die keiser (en natuurlik die afgestorwenes se geeste). Wat alles baie kompliseer, is dat ook skoolkinders hieraan moet meedoen - met swaar strawwe vir ongehoorsaamheid.
Geleidelik begin van die Christene dan rasionaliseer. Is dit soveel erger as die lê van 'n krans by 'n gedenkmonument in die weste? Is dit anders as saluering van die vlag?
Die sendelinge sien deur die misleiding, maar die Koreaanse Christene kry swaar. Hulle begin dan om sendingskole te sluit, eerder as om leerlinge aan Sjinto-verering te laat deelneem. Mettertyd vereis wetgewing dat selfs kerkvergaderings met 'n Sjinto-seremonie moet open. Oral is geheime agente en verraaiers. Laakbare metodes word gebruik om oortreders uit te rook. Tronktoestande is haglik. Marteling is aan die orde van die dag.
Uiteindelik raak dit onhoudbaar en omtrent al die sendelinge moet Korea verlaat. Veel erger is dat heelwat Christene onder die druk begin swig. 'n Klug-kerkvergadering besluit in 1938 om Sjinto-verering te wettig, wat sake soveel moeiliker maak vir diegene wat bly vasstaan.
Uiteindelik moet omtrent 200 kerke sluit. Meer as 3000 Christene dien gevangeneskap uit. Dosyne verhale oor die verskriklikste lyding word opgeteken. Ten minste 50 sterf 'n marteldood.
Die Kommunistiese regime
Die lyding van die kerk in die verenigde Korea voor die Tweede Wêreldoorlog was erg, maar dit was niks in vergelyking met wat op die kerk in die noorde van die land gewag het nie.
Na die oorlog het Rusland op sy deel van die buit aangedring. So word die Koreaanse skiereiland dan in 1948 in twee verdeel: die demokratiese Suid-Korea en die kommunistiese Noord-Korea. Laasgenoemde beslaan ongeveer 55% van die Koreaanse skiereiland.
Vir die eerste paar jaar het die uitgeslape Staliniste slegs subtiele druk op die kerk uitgeoefen. Maar hulle intimidasie het geleidelik toegeneem. Mettertyd is kerkdienste ontwrig, Christene is opgekommandeer om op Sondae by volksfeeste betrokke te wees, en kerkleiers is op grond van vals aanklagte in hegtenis geneem.
As 2000 kerke wat 300 000 lidmate verteenwoordig dan reageer met 'n beswaarskrif, word nog meer leiers gevang. Ook word die "Christelike Bond", onder leiding van 'n voormalige Presbiteriaanse predikant, in die lewe geroep om as frontorganisasie te dien in 'n poging om beheer van die kerk te verkry.
In 1950 val die Kommuniste die suide binne. Die Koreaanse Oorlog, waarby ook die Suid-Afrikaanse Lugmag as deel van die VV-magte betrokke is, duur tot 1953. Duisende Christene sterf - nie net in die oorlogsgeweld nie, maar ook vanweë doelbewuste moord deur die Kommuniste. In sommige gevalle word hele gemeentes uitgedelg. Derduisende gelowiges slaag egter daarin om tydens die oorlog suidwaarts te vlug. Uiteindelik is daar na die oorlog maar min van die Noord-Koreaanse kerk oor. Dit stel egter nie die Kommuniste tevrede nie. Met net nog meer vasbeslotenheid gaan hulle voort om die gemeente van Christus wortel en tak te probeer uitroei.
In die vrye wêreld is dit onbekend hoeveel van die ware evangelie en kerk in Noord-Korea oorgebly het. Die gesaghebbende Operation World skat egter dat daar sedert 1980 tog beduidende groei was, en raam die kerk in die noorde vandag op ten minste 'n halfmiljoen Christene, oftewel net meer as 2% van die bevolking.
Die afgelope klompie dekades
Spoedig na die Tweede Wêreldoorlog, na die verdrywing van die Japannese, ontstaan ernstige spanninge in die geledere van die kerk in Suid-Korea. Veral twee sake het hiertoe aanleiding gegee.
Eerstens het liberale teologie hier en daar begin kop uitsteek. En soos altyd die geval met dwaalleer, het dit mense uitmekaar begin dryf.
Tweedens was dit 'n brandende vraag of lidmate, en veral predikante, wat skuldig was aan Japannese Shinto-verering in die jare voor die oorlog en onder tug geplaas is, weer opgeneem en herstel kon word in die amp. Verskeie skeuringe vind dan ook in die vyftigerjare van die vorige eeu plaas. Die besonderhede daarvan is nie vir ons van belang nie.
Ten spyte van bogenoemde intriges, het die kerk fenomenaal gegroei oor die afgelope halfeeu. Hoewel die groeitempo oor die afgelope dekades ietwat afgeplat het, is dit teen effens meer as 4% per jaar steeds ongeveer vyf keer die bevolkingsaanwas van 0,83%. Amper 'n derde van die Koreane gaan deur as Christene. Die eerste Protestantse kerk is in 1884 geplant. 'n Honderd jaar later was daar meer as 30 000 gemeentes. En tans is daar minstens 60 000 of selfs meer.
Omdat een van die grootste kerke in die wêreld in Korea is, nl. dié van Paul Yongi-Chow, dink baie mense dat die kerkgroei eintlik in Charismatiese en Pinkster kringe plaasvind. Raadpleeg mens egter Patrick Johnstone se Operation World, blyk dit dat dit nie die geval is nie. Volgens hom is daar ongeveer 4 keer meer Evangelicals (die oorgrote meerderheid gereformeerdgesinde Presbiteriane) as Pinkster-Charismatiese Christene. Eersgenoemdes groei teen ongeveer 4% p.j., terwyl laasgenoemde groep oor die afgelope jare 'n negatiewe groeikoers gehad het.
Die uitstaande kenmerk van die Koreaanse kerk is sy gebedsywer. Meeste gemeentes het elke oggend vroeë gebedsbyeenkomste. Voorts word die meer as 10 000 Koreaanse sendelinge in 156 lande net deur die VSA oortref. En nêrens geniet opleiding van predikante en sendelinge meer aandag nie. Na raming is daar 280 teologiese inrigtings. Die Presbiteriane alleen het meer as 16 000 teologiese studente. Daarbenewens studeer duisende ander in dosyne lande regoor die wêreld. Trouens, daar is beswaarlik 'n moeite-werd Engelssprekende teologiese skool of seminarium vandag waar jy nie ten minste 'n Koreaan of meer sal aantref nie.
Mag komende hoofstukke in hierdie geskiedenis nóg heerliker wees - hoewel mens jou beswaarlik kan indink dat dit moontlik is!

Nico van der Walt
No comments:
Post a Comment