Thursday, July 5, 2012

KNIBBEL No.35 - ‛N WAARHEID WAT MY AL VIR BAIE JARE ONUITSPREEKLIKE VREUGDE GEE

Onderstaande waarheid lê aan die hart van ware Christene se redding. Vir baie jare al gee dit vir my onuitspreeklike vreugde. Tog, helaas, het ek my bedenkinge of meer as een of twee persent Christene dit onder die knie het. Jy sê, dis mos nie nodig om dit te weet om gered te word nie. Natuurlik nie  -  die misdadiger aan die kruis het g'n snars daarvan verstaan nie. Maar, vriend, dit gaan nie bloot oor ons redding nie, dit gaan oor die eer van God en die heerlikheid van Christus se volmaakte versoeningswerk. Word nou groot, man! Raak Godgesentreerd en Christusgefokus! Ware Christenskap gaan ten diepste oor die eer van God, nie oor die redding van jou bas nie.
    Ons heel eerste roeping is dankbare aanbiddingsverwondering! Jou redding is binnekort afgehandel, maar met aanbidding sal jy tot in ewigheid besig wees (as jy dan inderdaad gered is).
    Op Teologiese Skool moes ons asblikke vol akademiese irrelevanthede tot naarwordens toe afsluk  -  maar van onderstaande waarheid het ek nooit gehoor nie. Dis ‛n skande, om dit so sagkens as moontlik te stel. Is dit dalk die rede waarom die oorgrote meerderheid kansels hulle besig hou met moralistiese en sentimentele bog, maar soos die graf swyg oor dit waarin hulle eintlik moet jubel? Is dit dalk die rede waarom derduisende kerkmense elke jaar verkies om maar hoed te vat en eerder Sondagoggende langs die swembad te gaan lê? Is dit dalk die rede waarom al hoe meer Christene hulle eerder tot die internet en CD's wend om die geestelike kos te kry waarna hulle so smag?
    Maar laat ek ophou. My bloeddruk is besig om tot ‛n gevaarlike vlak te styg. Goed, wat is die waarheid waarna ek hierbo verwys? Ek stel dit so kernagtig in ‛n neutedop soos ek kan:

Geestelik lewend gemaak, stel ware Christene hulle geloofsvertroue in Christus en word hulle deur God "geregverdig" (die NAV se "vrygespreek" laat nie reg geskied aan die ryk en positiewe inhoud van hierdie begrip nie, soos hieronder sal blyk).
    Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor God het. 'n "Dubbelkuur" is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word.
    Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo. [As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Ef 2:8-9; Fil 1:29; 2Pt 1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rm 4 en 5). Laasgenoemde was 'n boekhouterm.
    Die Seun van God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Voorts, negatief is hulle sondeskuld aan Hom toegereken, "teen Sy rekening afgeskryf". Hy is dus met hulle skuld "gedebiteer". Dit is egter nie al nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy sondelose geregtigheid, Sy volmaakte gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle toegereken, "na hulle rekening oorgeboek". Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid "gekrediteer". Regverdiging is iets wat "in God se boeke" gebeur  - buite my! Ek beleef dit nie; ek beleef net die effekte daarvan. Maar ek omhels dit in die geloof.
    As God my opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder  -  maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir hierdie hopelose en hulpelose sondaar, sodat ek onskuldig voor God staan (Mt 20:28; Rm 3:25; 2Kor 5:21; Gl 3:13; Kol 2:13-15; 1Tm 2:5-6; 1Pt 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende geregtigheid maak óók dat ek in God se boeke die status het van iemand wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rm 1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9)  -  en wat as sodanig kwalifiseer vir die ewige lewe!

    Jesus Christus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir hulle die ewige saligheid.

Die bekende Amerikaanse teoloog, J. Gresham Machen, het hierdie waarheid baie goed verstaan toe sy laaste woorde was toe hy op 1 Januarie 1937 gesterf het: "I'm so thankful for the active obedience of Christ. No hope without it." [Ned B. Stonehouse: J. Gresham Machen, A Biographical Memoir, p.508.]
                                                                                                                                  Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment