Wednesday, April 24, 2013

KNIBBEL No.52 - BUITE DIE HUWELIK GELD DIE FORMULE:

Eroties + emosie = erosie

KNIBBEL No.51 - WIL JY VLIEG?

Die ongelowige meen dis sy "sekuriteite" wat keer dat hy val; die gelowige weet dis dikwels juis dáárdie "sekuriteite" wat keer dat hy vlieg.

KNIBBEL No.50 - OOR WAARHEID EN ERVARING

Waarheid is belangriker as ervaring, sommer baie. Maar waarheid sonder bevestigende ervaring, ontkom die twyfel nooit finaal nie. Maar as die waarheid deur ervaring bevestig word, agterhaal die twyfel dit nooit weer nie.

KNIBBEL No.49 - OPPAS VIR HÍÉRDIE LUIHEID

Tradisie is heel dikwels die uitdrukking van 'n luiheid wat dit makliker vind om die denke van die vaders te aanvaar, as om self te dink.

KNIBBEL No.48 - ONTHOU (EN VERGEET DIT NOOIT NIE) KOMPROMIE IS SKELMER AS WAT MEESTE MENSE BESEF

Dis reg, laat elke gelowige wat vir die Here brand in die kerk bly waarin hy of sy groot geword het. Maar wee hom as hy sy Christelike standaard, nee, God se standaard, een centimeter laat sak om aan te pas. In hierdie geval is enige afwaartse aanpassing kompromie en dus veragtering in die geloof (algemeen genoem, "backsliding").
    Sadrag, Mesag en Abednego kon bloot uiterlik voor die beeld gebuig het, maar in hulle harte tot God gebid het (per slot van rekening was hulle lewens op die spel), maar dit sou verloëning van God beteken het (Dn 3).

KNIBBEL No.47 - TRADISIE

Die algemene fout van een geslag word 'n aksioma vir die volgende een. Die kinders kanoniseer die foute van hulle vaders.

KNIBBEL No.46 - IS JY KLEINSERIG GENOEG?

Geen aanmerking behoort 'n Christen meer te kwets nie as: "Maar jy is dan niks anders as al die ander mense nie!"

KNIBBEL No.45 - NOG 'N LES WAT ONS MOET LEER

Wat ons nodig het, is nie krag nie, maar 'n dieper dood. Eers dán kan die Here ons met Sy krag vertrou.

KNIBBEL No. 44 - 'N LES WAT ONS SWAAR AAN LEER. MAAR LEER MÓÉT ONS DIT!

Geestelike duisternis kom te perd, maar dit wyk te voet. Daarom, as jy die blydskap en vrede van die Here het, waak en bid om dit te behou. Dit is 'n tengerige plantjie wat met toewyding versorg moet word (n.a.v. JC Ryle; Holiness).

KNIBBEL NO.43 - LEWENSBELANGRIK OM TE VERSTAAN

Christenskap begin nie met 'n groot "DOEN" nie, maar met 'n groot "GEDOEN".

KNIBBEL No.42 - WIL JY GELUKKIG EN VERGENOEGD WEES?

Word dan 'n man of vrou van gebed. God deel Sy beste gawes slegs digby by Sy troon uit; nooit versend Hy dit oor 'n afstand nie.

KNIBBEL No.41 - BESEF JY HÓÉ GOED DIE GOEIE NUUS VAN DIE EVANGELIE IS?

As God se geregtigheid nie absoluut was nie, as Hy nie volkome gehoorsaamheid aan Sy wet vereis het nie, as Hy Sy standaarde laat sak het en tevrede sou wees met óns beste pogings, sou Jesus Christus nie nodig gehad het om te kom nie. En dan sou ons self die mas moes opkom, of ......

KNIBBEL No.40 - DIE BOODSKAP VAN HEBREËRS IN 'N NEUTEDOP

Hebreërs is 'n pastorale vermaning wat die lesers wil oorreed om die sterk versoeking te weerstaan om aan die ontberinge te ontkom wat noodwendig saamhang met hulle Christelike geloof, belydenis en toewyding, deur ontvlugting te probeer vind in die skaduagtige en formalistiese godsdiens van die Ou Verbond. Nie alleen is hulle daarvan losgemaak toe hulle hulle laat doop het in die Naam van die Middelaar van die Nuwe Verbond nie, maar dis in elk geval vervul en die betekenis en legitimiteit daarvan het gevolglik verval met die vleeswording van Christus en die aanvang en voortgang van Sý volmaakte en ewige hoëpriesterskap.
    Die skrywer bring sy punt tuis deur enersyds aan te toon dat die ou stelsel inherent onvolmaak en daarom tydelik was, en deur andersyds die verhewe uitnemendheid van Christus en Sy enige, volmaakte en afgehandelde verlossingswerk daarteenoor te stel.
    Om hierdie volmaakte, genoegsame en unieke evangelie te misken, selfs net te vermeng of af te water, is om die heil wat dit bring te verbeur - en daarsonder is die verskriklike toorn van God 'n onontkombaarheid.

Sunday, April 14, 2013

KNIBBEL No.39 - TOT WIE MOET ONS BID?

Beste Dirk,
Dankie vir jou brief en jou vrymoedigheid om te vra.

1. Daar kan min twyfel oor wees dat ons in die eerste instansie - dus as ‘‘n reël - ons gebede tot die Vader moet rig. Sekerlik is die modelgebed die Ons Vader (““só moet julle bid””). Ook Paulus rig sy gebede meestal tot die Vader (Rm 1:8; 1Kor 1:4; Ef 3:14; 2Ts 1:11-12; Filemon 4vv). Die kroon van ons voorreg as Christene is dat ons met die Vader versoen is en dat ons vrymoedigheid mag hê om in die heiligdom in te gaan - deur die bloed van Jesus en op grond van Sy hoëpriesterskap (Hb 10:19vv).

2. Ek is egter oortuig daarvan dat dit nie verkeerd is nie om ook tot die Here Jesus te bid - al sou dit meer die uitsondering wees as die reël. Die dissipels het Hom meermale aanbid - veral na Sy opstanding (Mt 28:9; Lk 24:52; Jh 20:28). Ek is egter ongemaklik onder iemand se gebed wat nét tot die Here Jesus bid.

3. Daar is feitlik geen, indien enige, voorbeelde in die Skrif van gebed tot die Heilige Gees nie. Hy is egter ook volwaardig God en dit sou sekerlik nie verkeerd wees om per geleentheid die Heilige Gees in gebed aan te spreek nie - spesifiek wanneer dit gaan oor werk wat Hý doen. Maar dit sal die uitsondering wees. Die Gees het primêr gekom om Christus te verheerlik (Jh 16:14). Hy is as ‘t ware die skaam Persoon van die Drie-eenheid wat nie die aandag op Homself soek nie, maar op die Seun.

4. Uiteindelik moet ons “intelligent” bid. Elkeen van die drie Persone van die Drie-eenheid vervul ‘n bepaalde rol in die uitwerk van God se raads- en verlossingsplan. Weliswaar is Hulle al drie by alles betrokke, maar in ‘n spesifieke saak is een van die drie gewoonlik voorop. In die uitverkiesing is die Vader byvoorbeeld voorop - ons sal Hóm dus daarvoor dank. Dit geld ook ons versorging. Maar as dit gaan oor die hemelse voorspraak vir ons, is dit Christus wat dit doen - en gebede (veral dankgebede) wat daarmee verband hou sal tot Hom gerig word (maar natuurlik, dis die Vader wat verhoor!). Die punt is, ons moet volgens die geopenbaarde Skrifwaarheid bid. Dit moet begripvol, nugter en eg wees. Maar vir seker sal ons in die eerste instansie tot die Vader bid.

Ek hoop dit help so ‘n bietjie.
Hartlike groete,
Nico van der Walt

Wednesday, April 3, 2013

KNIBBEL NO.38 - MYMERINGE OOR DIE SKEPPING



My geleerde en gewaardeerde broer,


Ek antwoord kortliks op jou vriend se brief en reaksie op my preek (ek neem aan dis E54: Gaan in!). Natuurlik is jy welkom om hierdie antwoord ook vir hom aan te stuur.


1.         Waarom só reageer op die preek  -  wat myle weg is van die kwessies wat hy aansny? Dit laat my lont ruik. Is jou vriend 'n Christen? Ek bedoel wedergebore. Indien nie, is sy kwaai reaksie 'n goeie teken. Let op, ek praat nie van sy oortuigings nie, maar van sy reaksie, want dan dui dit waarskynlik op 'n gewete wat nie tot rus wil kom nie  -  en sulke mense is dikwels nie ver van die Koninkryk af nie. Maar genoeg hieroor.


2.         Ek is nie 'n fundamentalis nie (wel in die sin wat die woord ’n honderd jaar gelede gebruik is, maar nie in die sin wat dit vandag gebruik word nie). Terwyl ek met alles in my glo dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is, glo ek nie dat alles letterlik verstaan moet word nie. Sonder twyfel is daar talle gedeeltes wat beeldspraak/simboliek gebruik. Dis tog so duidelik soos daglig. Maar uiteraard pla dit my nie in die minste nie  -  ek lees die betrokke gedeeltes soos ek enige simboliek lees.

            Wat die eerste 11 hoofstukke van Genesis betref, kan niemand met finale sekerheid sê wie dit geskryf het, wanneer dit geskryf is, en hoeveel daarvan letterlik verstaan moet word nie  -  en dit geld by uitstek die eerste 3 hoofstukke.


3.         Daar is baie toegewyde en ware Christene wat Gen 1-3 nie letterlik lees nie, en ek het geen swaard met hulle te kruis nie; inteendeel. Hoe jy dit egter lees, hou uiteraard nie net implikasies in vir jou historiese oortuigings nie, maar ook vir jou siening van die geskape werklikheid om jou.


3.1       So aanvaar, byvoorbeeld, 'n briljante wetenskaplike en toegewyde Christen  -  Francis S. Collins, hoof van die "Human Genome Project"  -  evolusie. Dit beteken dat hy 'n baie ou skepping (biljoene jaar) aanvaar en dat God middelik geskep het. Sy boek "The Language of God" (uitgewers: Thomson Gale  -  Detroit, New York, London), is nie net baie interessant nie, maar ook hoogs insiggewend. Dit beteken nie dat ek dink hy is reg nie, maar van die tafel af kan 'n mens nie 'n man van sy statuur vee nie  (net die ewigheid hou vir ons finale antwoorde oor hierdie kwessie in). As jy nog nie sy boek gelees het nie, verkoop jou volstruisleerskoene en kry 'n kopie (ek is oortuig dit is steeds in druk).


3.2       Dan is daar diegene (en daar is baie van hulle, en ek voel myself nie ontuis in hulle geledere nie) wat glo dat daar wel ewolusie binne grense was (hulle onderskei dus tussen ewolusie, wat hulle aanvaar, en ewolusionisme, wat hulle as 'n  spekulatiewe filosofie beskou  -  en hulle is vir seker reg). Hulle glo dus dat die grense tussen die 4 ryke van stof, plant, dier en mens nie oorgesteek is nie (en ek dink nie die wetenskap kon nog ooit afdoende bewys dat dit wel gebeur het nie; dit is bloot 'n aanname  -  wat "hook, line and sinker" gesluk word deur naïewe miljoene). 'n Moeite-werd boek oor hierdie standpunt, is Norman L. Geisler en Frank Turek; I don't have enough faith to be an Atheist; Crossway, 2004. Ook dié boek is steeds in druk. Verkoop jou flannelbroek en kry hom in die hande, as jy hom nog nie het nie.

            Hierdie standpunt aanvaar dus ook 'n baie ou skepping, met Gn 1-3 se skeppingsdae as baie lang tydperke. En is dit regtig 'n ketterse siening? Die argumente van sewe-kalenderdae-Christene, hoewel nie sonder gewig nie, kan waarskynlik almal, meen ek, beantwoord word. In elk geval gaan die letterlike verstaan van Gn 1-3 gebuk onder enorme probleme  -  waarvan die botsing met die getuienis van verantwoordelike wetenskap en voor-die-hand-liggende-waarneming nie die geringste is nie. Per slot van rekening is algemene en besondere openbaring in volkome harmonie. En dit sal uiteraard in ons denke ook die geval wees, mits ons beide openbarings van God aan die mens reg verstaan.


4.             Die voordeel (en dis enorm) van bg. twee beskouings, is dat dit toelaat dat geloof en verantwoordelike wetenskap heel gemaklik hand-om-die-lyf loop. Te veel onkundige en kwaadwillige nie-Christene dink dat Bybelgelowiges hulleself noodwendig kop-in-die-sand bluf. Terwyl dit dalk waar is van baie naïewe Christene, wil ek graag glo dat dit nie van my geld nie  -  wat as 28-jarige kwasi-natuurwetenskaplike en windgat-ingenieurtjie 'n uit-die-bloute en lewensveranderende ontmoeting met die opgestane Christus gehad het en na byna 40 jaar steeds kinderlik-gelowig (maar ook gevul met die vrese van die Here) my uitstrek na die dag as ek die almagtige en ewige Skepper van hemel en aarde van aangesig tot aangesig sal ontmoet. Of daar geleentheid vir vrae sal wees, weet ek nie, maar ek sal nogal graag wil weet presies hoe die kosmos ontstaan het, en oor hoe 'n lang tydperk. En ek sal myself staal vir ’n antwoord wat dalk nooit deur iemand hier en nou bedink is nie. Maar laat ons gladnie verbaas wees as al hierdie nuuskierigheid op daardie stadium verdwyn het nie, met die enigste vraag wat oorbly  -  hoe ons Hom beter en beter kan ken en verheerlik.


Groetnis.

jbiC

Nico