Tuesday, June 28, 2011

KNIBBEL No.28 - DIE ARBEIDSVERORDENING

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip." (Gn 1:28).
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (Gn 2:15).

DIE ARBEIDSVERORDENING LÊ PER IMPLIKASIE IN DIE SABBATSVERORDENING - en spesifiek in die opdrag om gereeld te rus (Gen2:2-3). Om uit te span het immers geen betekenis as dit nie teen die agtergrond van arbeid verstaan word nie. Maar in die eerste instansie berus die arbeidsinstelling op die uitdruklike opdragte wat Adam ontvang het. Die mens is in die tuin geplaas om te werk.
Volgens Gen 2:15 moes die mens die tuin bewerk en oppas. Laasgenoemde moet verstaan word in die sin van versorg, omsien na, in stand hou - en nie in die sin van bewaak teen bedreigings nie. So iets is tog ondenkbaar in die volmaakte wêreld voor die sondeval. Die NIV se, "to take care of", is in die kol.
Die arbeidsopdrag het volledig by die mens se verhewe status en waardigheid gepas. Dit was nie 'n straf of 'n las nie; inteendeel, dit was deel van God se seën oor die mens. Arbeidadel! Arbeidsgenot!
Hierdie feit moet ons as gelowiges waarsku teen die wêreld se negatiewe instelling met betrekking tot arbeid. Werk is nie gegee as deel van die vloek nie. Dit was en bly 'n skeppingsverordening. Dis deel van die mens se basiese samestelling en roeping om te wil en te kan werk. Daarsonder boet hy lewenskwaliteit in, raak hy die sin van sy bestaan byster, verloor hy sy menswaardigheid.
Dit moet ons ook waarsku teen die veragting van nederige handewerk wat eweneens so voorop is in ons samelewing. Dis 'n onbybelse mentaliteit. Laat ons nie vergeet wat die Here Jesus vir die helfte van Sy lewe hier op aarde gedoen het nie. Vir seker het Hy nie die bleek, maer hande van middeleeuse skilderye gehad nie. Hy het groot, sterk werkershande gehad - skrynwerkershande. En waarskynlik sterk voorarms en skouers - dit was voor die dae van elektriese kraggereedskap.
Die opdrag van Gen 1:28 is baie betekenisvol - veral die opdrag om die aarde te onderwerp (OAV). Sonder twyfel dui dit op die ontwikkeling en benutting van al die basiese grondstowwe en potensialiteite waarvan ons wêreld so oorlopens vol is. Dit impliseer nie net die aanwending van energie nie, maar ook ontdekkende denke en navorsing. Dit impliseer ontleding en samevoeging, verwerking en raffinering, ontwikkeling en kanalisering.
Soos die mens nie vir die Sabbat gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens; so is die mens ook nie vir die aarde gemaak nie, maar die aarde vir die mens. Hy moet daaroor heers en dit - dis vir sy versorging, welsyn, genot en bevrediging gegee!
Daar is natuurlik 'n nog meer verhewe rede waarom die mens die aarde moes (en steeds moet!) verken en onderwerp - die verheerliking van God, die Skepper. Die aarde behoort aan die Here in sy totaliteit, en is vol van Sy heerlikheid. Ontdekking van sy Maker se almag, goedheid en menigvuldige wysheid, was voor die sondeval die ongevalle mens se primêre motivering en aansporing om die skepping te ondersoek en te benut. So is sy dae gevul met oorstelpte lof.
In die volmaakte staat was daar dus geen konflik tussen plig en plesier, geen teenstelling tussen heelhartige spontaniëteit en hardwerkende gehoorsaamheid nie. In gehoorsaamheid lê die mens se hoogste vervulling immers.
Selfs die gevalle mens vind dat daar min dinge is wat hom so fassineer en vasgevang hou as wetenskaplike navorsing. Ongelukkig gaan dit so dikwels gepaard met eiebelang en selfbevrediging. Dit beteken egter nie dat die herskepte mens moet wegbly van die laboratorium, die fabriek en die konstruksieterreinnie nie. Inteendeel. Maar hy moet seker maak hy word deur die regte motivering gedring. Die Christenwetenskaplike en gelowige ondernemer se leuse word in Ps104:24 verwoord: "U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep."
Hoeveel vreugde bring die embrionale realiteite van die nuwe skepping nie nou al vir die gelowige nie! Hoeveel vervulling put ons nie uit dienswerk vir die Here nie! Ps119 is vol van hierdie ekstase: "U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet. Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe." (v.54-56).
Ons herskepping is egter nog onderweg. Teenoor ons hart van harte, beur die vlees steeds weg van plig en gehoorsaamheid af. En dis die oorsaak van soveel van ons pynlikste frustrasies - ons onvermoë om God te behaag soos ons regtig wil. Ons is herskep om inspanningloos te sweef, maar die grawitasiekragte van oorblywende sonde dwing ons weer en weer grond toe. Ek het die hart van 'n arend, maar die vlerke van 'n flap!
Daar kom egter 'n dag van afronding, 'n oomblik van vervolmaking. Dan sal die reste van gevallenheid en die smet van sonde, finaal iets van die verlede wees! En ons sal ons Maker dien met ongebreidelde oorgawe - op 'n nuwe aarde. Ons sal werk en ontdek, ons sal navors en bou - onvermoeid. Tot in ewigheid sal ons nie genoeg kry nie. Want ons sal die Here al hoe meer leer ken. En Sy lof sal ons hoogste vreugde wees.
Nico van der Walt

Thursday, June 23, 2011

KNIBBEL No.27 - 'N STUK LEWENSWYSHEID

DAAR IS TWEE DINGE IN DIE LEWE: DIE VOLMAAKTE EN DIE WERKLIKHEID.
Volwassenheid is om die volmaakte as ideaal te sien,
maar om met die onvolmaakte as werklikheid saam te leef.
Om die werklikheid gelate te aanvaar,
en die volmaakte sinies af te skryf,
is dwaas.
Om net die volmaakte te erken,
en die werklikheid te misken,
is kinderagtig en naïef.
Weier dus om vrede te maak met gebrokenheid,
maar maak vrede met die feit van gebrokenheid
- dit is volwassenheid.
Nico van der Walt

KNIBBEL No.26 - GEBED - VERLANGE NA 'N HEILIGE LEWE

O HERE, MY GOD,
Vir my is die hoogste goed om U te behaag
en om te wees wat U wil hê ek moet wees.
Ag! As ek maar heilig kon wees soos U heilig is,
vlekkeloos soos Christus,
volmaak soos die Heilige Gees.
Die roeping om heilig te lewe, is waarlik die uitnemendste opdrag in U Woord!
En tog, helaas, breek ek hierdie bevel van U weer en weer.
Moet dit waarlik nog die res van my lewe in hierdie wêreld voortduur?
Is dit regtig nodig? Onontkombaar?
O, ek is 'n sondaar!
Ek bedroef U, die Algoeie God - U wat oneindig is in U goedheid en genade!
As U my maar vir elke oortreding wou straf,
sou dit nie so seergemaak het wanneer ek U beledig nie.
Maar hoewel ek oor en oor sondig,
betoon U oor en oor U goedheid aan my.
Ek sou enige prys betaal om nou al van sonde ontslae te raak - indien dit maar moontlik was.
O, as ek net kon ophou om U, die God van heerlikheid, te onteer!
Wat kan ek tog doen om U, die allerhoogste, allerheerlikste Wese te aanbid soos dit moet?
- om U te verheerlik soos dit hoort?
O, as ek maar myself sonder enige beperkinge volmaak kon toewy aan U diens.
O, as ek myself maar só vir U kon opoffer
dat ek nooit weer eiebelang en selfverheffing sou najaag nie,
dat ek nooit weer begeertes en emosies sou hê wat strydig met U wil is nie!
Maar, helaas, ek kry dit nie reg om te lewe sonder om te sondig nie!
Ten minste verheerlik die éngele U - onophoudelik en vir ewig;
ten minste buig húlle steeds laer voor U, die heerlike Hemelkoning.
En, kort voor lank, sal ook mý stem en lewe suiwer en harmonieus by hulle aanbidding inval!
Die apostel is reg: "Uit genade is julle gered!"
Al sou ek vir ewig alles doen wat ek kan,
sal ek bloot 'n breukdeeltjie van die hulde bring
wat die allerhoogste, algoeie en driemaal heilige God toekom.
Here, verruim tog my kapasiteit om U te ken en U te dien.
O, vul tog my hart steeds meer en meer met U goddelike, hemelse liefde!
AMEN.

Vry vertaal uit "The Valley of Vision - A Collection of Puritan Prayers & Devotions", p.128.

KNIBBEL No.25 - GEORGE WHITEFIELD SE YWER VIR DIE HERE

AS DAAR GESOEK WORD NA 'N VOORBEELD VAN APOSTOLIESE YWER VIR DIE UITDRA VAN DIE EVANGELIE, MOET GEORGE WHITEFIELD (1714-1770) SEKER AS EEN VAN DIE GROOTSTES BESKOU WORD. Hy het gereeld skares van tot 30 000 toegespreek - sonder moderne klanktoerusting! En as ook sy informele prediking in ag geneem word, tel die aantal boodskappe van sy leeftyd tussen 30 000 en 40 000. Sy prediking het 'n baie breë appél gehad - gesofistikeerde Engelse aristokrasie, Kingswood myners, Londen se agterbuurt-bewoners, asook Amerikaanse slawe en Indiane, is almal ewe veel daardeur aangegryp. Sy laaste aand op aarde is 'n treffende voorbeeld van hoe hy homself tot die uiterste toe gegee het vir die evangelie van God se genade in Christus vir sondaars:
Dis 29 September 1770. Hy reis deur die dorpie Exeter onderweg na Boston (Amerika). Hy het nie beplan om daar te preek nie. Daarvoor is hy te gedaan. Almal kan dit sien. Een sê: "Meneer, jy hoort in 'n bed, nie op 'n preekstoel nie!" Maar die mense honger na die woord. Hulle het hom ingewag en 'n platform op 'n oop stuk grond aanmekaar getimmer. Hy preek vir 2 uur met passie en krag oor 2Kor 13:5: "Ondersoek julleself of julle in die geloof is ...". Onder meer sê hy: "Oh, thought divine! I shall soon be in a world where time, age, pain and sorrow are unknown. My body fails, my spirit expands. How willingly would I live to preach Christ! But I die to be with Him."
Daarvandaan reis hy verder en kom teen die aand aan by Jonathan Parsons, Presbiteriaanse predikant in Newburyport. Die gesin eet, maar Whitefield wil reguit bed toe gaan. As hy halfpad teen die trap op is, bars die voordeur oop en 'n klomp mense stroom in. Hy móét eenvoudig vir hulle preek. Net daar, kers in die hand, begin hy dan om Christus te verkondig. Uiteindelik flikker die kers, uitgebrand. Dis simbolies van sy sterwende liggaam.
Twee-uur die oggend word Whitefield wakker. Hy is benoud en papnat gesweet. Hy slaap weer, maar vieruur strompel hy na die venster om vars lug te kry. Hulle laat roep die dokter, maar as hy opdaag is dit duidelik dat die evangelis sterwende is. Sondagoggend, 30 September om 07:00 skei sy liggaam en sy gees. Sy wedloop is verby. Hy betree die land waarvoor God se genade hom oor baie jare voorberei het, die land waarna hy so dikwels verlang het, die land waarheen hy derduisende aangepor het. Ook op hom kan Bunyan se gevleuelde woorde van toepassing gemaak word: "En aan die ander kant is hy met trompetfanfares verwelkom!"
Die Dinsdag is Whitefield vanuit die First Presbyterian Church of Newburyport begrawe. Die graf kan steeds daar op die terrein besoek word. Ook in Engeland was daar 'n gedenkdiens - gelei deur John Wesley, soos Whitefield vooraf versoek het.
Verwerk uit: Arnold Dallimore; George Whitefield -
Evangelist of the 18th-Century Revival; Wakeman; 1990.
(Die lees van hierdie biografie is 'n móét vir elke Christen)
Nico van der Walt

Friday, June 17, 2011

KNIBBEL No.24 - GEBED : AANBIDDINGSVERWONDERING OOR GOD DRIE-ENIG

Drie in een, Een in drie, God van my verlossing;
Hemelse Vader, Ewige Middelaar-Seun, Heilige Gees,
ek bewonder en aanbid U as één Wese, één God - in drie Persone!
O, dat Ú Uself aan sóndaars openbaar en hulle inlyf in U Koninkryk!
Vader, U het my liefgehad en die Here Jesus gestuur om my te verlos.
Here Jesus, U het my liefgehad en my natuur aangeneem;
U het U bloed gestort om my sonde weg te was;
U het alle geregtigheid volbring - ten einde my mislukkings te bedek.
Heilige Gees, U het my liefgehad en in my kom woon;
U het God se saad in my kom plant;
U openbaar die heerlikheid van die Here Jesus toenemend aan my.
O Drie-enige God, ek loof en dank U vir 'n liefde,
so onverdienstelik, onbeskryflik, onpeilbaar,
- so kragtig dat dit verdorwenes red en hulle in heerlikheid in verhoog.
O Vader, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my aan U Seun, die Here Jesus Christus gegee het
om 'n skaap in Sy kudde te wees, 'n kleinood in Sy hand.
O Christus, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my aangeneem het, my as U kosbare rentmeesterskap aanvaar het.
O Heilige Gees, ek dank U dat U in oorvloedige genade
my blinde oë geopen het om die heil in Christus te sien;
my weerspannige hart oorweldig het;
my trotse eiegeregtigheid in geloof laat ontvlam het;
my vir ewig met die Hoof van die nuwe mensheid verenig het.
O Vader, U heers in 'n ontoeganklike lig; tog hoor en verhoor U my gebede.
O Here Jesus, U hand is uitgestrek om my smekinge aan die Vader deur te gee.
O Heilige Gees, U help my om
in plaas van kleingelowig en traag, vurig en afwagtend te bid;
in plaas van kleinlik kortsigtig, in die lig van die ewigheid te pleit.
O Drie-enige God wat die heelal met U woord tot stand gebring het,
U het my geroep en beveel om ook in gebed U medewerker te wees.
Leer my dus al hoe meer verstaan waarop dit werklik aankom!

[Vry vertaal en verwerk uit "The Valley of Vision", p.3]
Nico van der Walt

Thursday, June 16, 2011

KNIBBEL No.23 - LAAT ONS JESUS CHRISTUS SE EWIGHEIDSGERIGTHEID NAVOLG

VAN DIE HERE JESUS SÊ DIE HEBREËRSKRYWER: "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ... " (Hb 12:2). Ook Hy was dus ingestel op die loon wat na kruis en opstanding op Hom gewag het.
Hierin het Paulus sy Here nagevolg: "Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie" (1Kor 9:25-27). As hy in die voorafgaande vers sê dat net een die prys in 'n gewone wedloop ontvang, en dat ons só moet hardloop dat ons sekerlik die prys sal kry, moet ons hom nie verkeerd verstaan nie. Hy bedoel nie daarmee dat net één van Jesus se dissipels uiteindelik bekroon gaan word nie. Hy bedoel dat ons met dieselfde gesindheid moet hardloop as 'n atleet wat alles in die stryd werp om die prys te kry. In die Comrades-maraton wil die meeste atlete net klaar maak, maar enkeles is amper fanaties daarop ingestel om dalk te wen, of om ten minste 'n goue medalje te kry. Wat Paulus hier sê, is dat elkeen van ons die gesindheid moet hê van iemand wat "gaan vir goud". En inderdaad was die lourierkrans deurgaans in die apostels se visier.
Om in die lig van die ewigheid te leef, is volgens die Nuwe Testament een van die uitstaande kenmerke van 'n ware gelowige se lewe. Matteus 24-25 staan bekend as die Here Jesus se profetiese rede. Onder meer praat Hy oor die wederkoms en hoe ons as Sy dissipels dit moet tegemoet gaan. Wat Hy sterk beklemtoon, is dat niemand vooraf sal weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Daarom moet ons altyd waaksaam en gereed lewe. Hy sluit dan af met vier gelykenisse wat so 'n lewe van waaksaamheid belig. Hoewel elkeen sy eie fokuspunt het, sou mens kon sê dat die oorkoepelende tema dít is: leef in die lig van die ewigheid!
Die groot Amerikaanse prediker en teoloog, Jonathan Edwards, het gereeld gebid: "Lord, please stamp eternity on my eyeballs!"
Nico van der Walt

KNIBBEL No.22 - GOD KAN DIE LOTGEVALLE VAN NASIES VERANDER

HOE BEMOEDIGEND IS DIE BRITSE GESKIEDENIS VAN DIE 18DE EEU NIE VIR ONS NIE! Deur die prediking van mense soos George Whitefield (1714-1770), John Wesley (1703-1791) en talle ander het die Here 'n moreel verdorwe Engeland binne enkele dekades verander tot 'n land wat vir die volgende twee eeue die geestelike toon sou aangee in die wêreld. Wat sending betref, was hulle by verre op die voorpunt. En, onnodig om te sê, die moraliteit van miljoene het ingrypend ten goede verander.
Wat ons nou moet bemoedig, is die feit dat daardie herlewing gekom het ten spyte van verskriklike samelewingsverrotting voor die tyd. 'n Algehele kerklosheid het geheers, asook onbeskryflike losbandigheid en immoraliteit.
Om drankmisbruik te beperk, word 'n verbod geplaas op die invoer van sterk drank. Mense begin gevolglik hulle eie brousels stook. Gou-gou is elke sesde huis in Londen 'n sjebien. Beskonkenheid neem epidemiese afmetings aan. Kinders word in dronkenskap verwek, gebore en grootgemaak.
Daar ontstaan ook 'n geweldige kloof tussen ryk en arm. Te wyte aan luiheid en drankmisbruik verarm al hoe meer mense. Groot dele van Londen word slums - morsig en vol onbeskryflike ellende. Misdaad is deel van elke dag se lewe. Bendes voer 'n skrikbewind. Oorvol tronke is donker, verstikkende rioolputte. In 'n poging om misdaad hok te slaan, word soveel soos 160 oortredings tot halsmisdade verklaar. Beswaarlik gaan 'n dag verby sonder talle teregstellings op die twee publieke galgplatforms in Londen - tot vermaak van jillende skares wat hulleself daarin staan en verlekker.
Intussen baai 'n skatryk adelstand hulleself in weelde. Hulle perversiteit en sedeloosheid steek die een behoorlikheidsgrens na die ander oor.
Dan, in 1737, begin 'n stem onverwags in Engeland soos 'n klok beier!
'n Twee-en-twintigjarige prediker begin in Londen só preek dat geen kerkgebou die skares kan huisves nie - en geen "ordentlike kerkganger" dit kan uithou nie. George Whitefield word 'n brandende fakkel vir die eer van God, die waarheid van die Bybel en die reddende krag van die evangelie. En spoedig sluit John en Charles Wesley, asook talle ander, hulle by hom aan. Vir die volgende halfeeu spoel 'n vloedgolf van reddende genade oor die Britse Eilande.
Binne enkele jare verander die hele geestesgesteldheid van die Engelse samelewing. Die kerk begin weer lewe. Nuwe ywer vir morele waardes ontspring orals. Algemene gedrag en die publikasiewese word gesuiwer. Naasteliefde begin die tronke hervorm, slawehandel word opgeskort, en publieke skole vir een en almal begin oraloor ontstaan."
Laat dit ons bemoedig. Wat eenmaal gebeur het, kan weer gebeur. Moet asseblief nie moeg word om vir herlewing te bid nie.
o0o
Wie meer hieroor wil lees, word verwys na die tweede hoofstuk van Arnold Dallimore se biografie: George Whitefield, The life and times of the great evangelist of the 18th century revival - Vol 1; Banner of Truth Trust.
Nico van der Walt