Beste Jan (denkbeeldige naam),
Dankie vir jou brief. Ek kan nie anders as om jou reguit en eerlik te antwoord nie. Maar moenie dink ek praat vanuit die hoogte nie. Die teendeel is waar - want na amper 40 jaar op die pad van heiligmaking (en in mý geval was dit maar dikwels 'n pad van mislukking) - is ek só fyn en flenters gemaal dat hovaardigheid, skynheiligheid of trots van my 'n patetiese huigelaar sou maak.
As daar een ding soos 'n paal bo water staan, dan is dit die realiteit van die sondeval. Almal van ons worstel daarmee - die een só, die ander sus; die een meer, die ander minder. Ons is almal gebroke; ons het almal ons achilleshiele. Maar Christus het gekom om die skepping, met die mens as hoof daarvan, tot sy eertydse heerlikheid te herstel (trouens, om dit verder te voer). Hy is die tweede mens, die laaste Adam (1kor 15:45, 47), en Hy het die fondament daarvan eens en vir altyd, onomkeerbaar en volmaak in posisie geplaas. Maar die bouwerk van die bostruktuur is 'n lang, moeisame en gewelddadige proses, om dit sagkens te stel. Waarom so lank en moeisaam weet ek nie. Maar vir Hom is 'n duisend jaar soos een dag, en omgekeerd. In die proses roep Hy mense as medewerkers. Vir hulle sê Hy: "the kingdom of heaven has been forcefully advancing, and forceful men lay hold of it" (Mt 11:12, NIV). Hy sê voorts ons moet elke dag ons kruis opneem en Hom volg. Onder meer moet ons die teenwoordigheid van die koninkryk aan 'n gevalle wêreld demonstreer met 'n heilige lewe - wat basies inhou dat ons 'n lewe moet leef in harmonie met die komende nuwe skepping. Aangesien dit meteen ook 'n terugkeer is na die volmaakthede van die eerste skepping, word ons onder meer geroep om die oorspronklike skeppingsverordeninge uit te leef. En dis waar ons worstelinge inkom - ons wat ons kruis opgeneem het, wat onsself ge-commit het om die prys van dissipelskap te betaal.
Ek leef in 'n wêreld waar daar elke jaar honderde, dalk duisende babas met alkohol-sindroom gebore word. Afgesien van sekere gestremdhede wat sulke persone mag hê, het hulle waarskynlik ook 'n (aangebore) geneigdheid tot alkoholisme. Dit op sigself is hoegenaamd nie diskwalifiserend vir redding nie - God red immers sondaars, as sondaars. Baie van hulle getuig dan ook van God se reddende genade in Christus, en hulle lewenstyl getuig dienooreenkomstig. Maar soos almal van ons word ook hulle geroep om in die geloof Christus en Sy verdienste vas te gryp - en om dan in gehoorsaamheid aan hulle Verlosser die heiligmaking na te jaag as demonstrasie van die realiteit van die koninkryk in hulle lewens en dat hulle onderweg is na die vervolmaking van hul verlossing (Hb 12:14). Geheelonthouding is vir seker die pad wat húlle moet stap, anders speel hulle met vuur. Dis húlle kruis wat hulle moet dra, nie myne nie (alkohol is vir my geen probleem nie). Is dit maklik vir hulle? Inteendeel, inteendeel! Noodsaaklik? Absoluut, absoluut! "Mense wat hulle kragtig inspan, kry dit (die koninkryk) in besit" (Mt 11:12, NAV). Het mens simpatie met hulle? Jou hart breek!
Dit bring my uiteindelik by jóú situasie.
Laat ek dit allereers en onomwonde stel: as dit oor seksuele oriëntasie en lewenstyl gaan, aanvaar ek dit as aksiomaties dat God die mens oorspronklik heteroseksueel geskape het, en dat Hy die huwelik ingestel het as 'n lewenslange en eksklusiewe liefdesverhouding tussen een man en een vrou. Ek het waardering daarvoor dat jy ook 'n premie plaas op die permanensie van jou verhouding met jou lewensmaat. Maar, en dis die vraag, is die feit dat hy van dieselfde geslag as jy is in harmonie met God se skeppingsverordeninge? Is dit in orde vir 'n Christen om in 'n gay-verhouding te leef - ongeag hoe onderling getrou dit ook al mag wees? Hoe sou 'n mens so 'n lewenstyl rym met die talle Skrifuitsprake wat hulle (wat my betref sonder twyfel) sterk teen soiets uitspreek?
Ek glo dat sommige mense gebore word met 'n gay-geneigdheid of oriëntasie. Ek ken 'n paar volwasse gays reeds vanaf hulle geboorte, en in die geval van sekere van hulle was dit reeds in hulle peuterstadium onmiskenbaar duidelik dat hulle verskil van ander seuntjies. Ek kan dus nie anders as om te aanvaar dat daar 'n aangebore geneigdheid tot gay-wees in hulle geval was nie. Maar dit verander niks aan die problematiek nie. Ék is gebore met 'n baie sterk aangetrokkenheid tot elke mooi vrou, maar dit gee my geen vrypas om my aan haar te vergryp nie - selfs al was ek nie getroud nie (verskoon as ek dit ietwat kru uitdruk). Natuurlik dink ek nie hierdie aangebore geneigdheid tot dieselfde geslag geld vir almal wat 'n gay-lewenstyl volg nie, maar vir 'n sekere persentasie wel.
Een van die skeppingsverordeninge het te doen met die seksuele, die verhouding tussen geslagte en die huwelik. Híér, waarskynlik veel meer as in die geval van enige van die ander verordeninge, lê jou worsteling. Ekself is hetero-seksueel, en is bevoorreg om getroud te wees. Maar moenie dink dat ek geen stryd op hierdie gebied het nie. Ek was nie altyd getroud nie. En nog steeds sê die Here vir my dat ek reeds met 'n vrou egbreek gepleeg het as ek na haar kyk om haar te begeer. En laat ek jou verseker, 'n mooi vrou het nie minder mooi vir my geraak vandat ek getroud is nie. En helaas lyk dit nie vir my die probleem gaan weg soos ek ouer word nie. My punt is dít, al sit die aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag in my gene, het ek my eie stryd om te stry (soms intens) - ten spyte daarvan dat ek getroud is. Maar jy ís darem getroud, sê jy. Ja, dis waar; jou punt is gemaak. Maar wat van die derduisende heteroseksuele mans wat vir jare nie in 'n huwelik is nie - oujongkêrels, wewenaars, geskeides, gestremdes? Het hulle 'n vrypas om die sewende gebod geweld aan te doen?
Vir geen oomblik kan ek aanvaar dat 'n gay se seksuele drange sterker is as die van 'n hetero-seksueel nie.
Laat daar geen onduidelikheid oor wees nie, elke mens het sy eie pak om te dra. Ja, dit wissel van persoon tot persoon - in aard en in intensiteit - maar almal van ons se weerstand teen die sonde is meermale 'n stryd om lewe of dood (Hb 12:4).
Kortom gestel: as ek God se Woord op sigwaarde lees, nes dit daar staan, lyk dit vir my duidelik dat Hy iemand wat 'n aangetrokkenheid tot dieselfde geslag ervaar, en nie tot die teenoorgestelde geslag nie (al is hy of sy so gebore), roep om selibaat te lewe. So 'n persoon moet hom dan onder die soewereine en kragtige hand van God verneder en sy lot in oorgawe aanvaar - ongeag hoe oneindig hartseer en moeilik dit ook al mag wees. Ander van ons is lelik gebore, of dom, of kruppel, of met 'n aangebore siekte, of wat ook al. En dit is dan waarmee so 'n persoon moet vrede maak.
Ek wens ek kon dit sagter stel. Ek wens ek kon dit kwalifiseer. Maar integriteit in my omgang met God se Woord en my gewete laat my eenvoudig nie toe nie. Sê ek wat ek sê uit die hoogte en sonder simpatie? Sê ek dit veroordelend? Die Here weet dat dit nie so is nie! Daarvoor is ek té bewus van my eie strompelings en struikelings op die pad onderweg na gelykvormigheid aan Christus.
Wat is die bottom line? Elkeen van ons moet met sy eie gewete saamleef. Elkeen van ons moet in integriteit met God se vasstaande Woord omgaan. Elkeen van ons moet verantwoordelikheid vir homself aanvaar (Eseg 18). Elkeen van ons gaan uiteindelik vir homself aan God verantwoording moet doen. En elkeen van ons sal eenvoudig Sý beoordeling van ons lewens moet aanvaar - asook dit wat Hy as Groot Regter vir ons vir die ewigheid uitmeet.
Mag die Here ons help om elke dag ons kruis op te neem op die steil en nou pad van Jesus Christus wat na die ewige lewe lei.
Hartlike groete,
Nico van der Walt

No comments:
Post a Comment