Wednesday, June 1, 2011

KNIBBEL No.6 - WAAROM ONS SONDER SALARIS WERK

ONDERSTAANDE WIL 'N GETUIENIS WEES OOR DIE GETROUHEID VAN DIE LEWENDE GOD AAN DIE BELOFTES IN SY WOORD. Nie alleen doen Hy wat Hy beloof het nie, Hy is 'n hoorder van gebed en Hy is intiem betrokke by die lewens en welsyn van Sy kinders. Hierdie getuienis moet asseblief nie gesien word as spoggery oor gewaande meerdere geestelikheid nie. Inteendeel, dit word aangebied deur twee doodgewone Christene wat male sonder tal misluk in hulle navolging van die Here Jesus. Ek en Soniah, my vrou, bied dit aan in diep dankbaarheid en verwondering oor die jarelange guns van God wat ons aanmekaar beleef het. Dis 'n dankbare getuienis oor een van die heel grootste avonture van ons lewe, want ons kan vir ure vertel van die mees kostelike, selfs onkonvensionele en dikwels komiese belewinge van materiële voorsiening. Hierdie wil 'n lofsang wees!
Tog word hierdie getuienis met versigtigheid gelewer. Niemand wat dit lees moet dit as 'n skimpery vir ondersteuning vertolk nie. Laat ons dus onmiddelik verklaar dat daar nog altyd ruimskoots voorsien is vir ons en dat ons aan niks gebrek het nie. Trouens, dikwels ontvang ons soveel dat dit dreig om vir ons 'n verleentheid te wees.
Sedert 1976 toe ek op dertigjarige ouderdom begin teologie swot het op Potchefstroom, leef ek en Soniah, my vrou, reeds vir omtrent 22 jaar "in die geloof" wat ons materiële behoeftes betref. Ek praat van 'n lewe sonder 'n formele en gereelde vergoeding deur 'n werkgewer of weldoener. Ek praat van 'n lewe van vertroue in ons Hemelse Vader om direk volgens Sy beloftes te voorsien in wat ons nodig het. In die 35 jaar sedert 1976 (tyd van skrywe 2011) het ons dus wel met tussenposes vir ongeveer 13 jaar in totaal 'n salaris ontvang - die laaste omtrent 12 jaar gelede.
As ons van geloof praat, dan moet dit gelóóf wees. Daarom maak ons so goed soos nóóit ons behoeftes aan enige mens, of kerkraad, of wie ook al bekend nie - selfs al word ons gevra om dit te doen. Ons vra nóóit bydraes nie. Ons ontwikkel nie borge nie. Ons poog in alle integriteit om nóóit enige skimpe vir donasies rond te strooi nie. Ons hang selfs nie ons lewenswyse aan die groot klok nie, tensy dit die Here se eer kan dien as ons daaroor praat. Ons pas ons harte op om nie enige finansiële kompensasie "vir dienste gelewer" te verwag nie. Wat diegene betref wat meer as ons het, of 'n hoër lewensstyl as ons handhaaf, waak ons oor ons harte om nie te verwyt of jaloers te wees nie. Sonder om te impliseer dat ons dit regkry soos ons moet, leef ons coram Deo - voor die aangesig van God, ons hemelse Vader. Hy bepaal ons lewensstandaard, uit en gedaan - en vir seker het Hy ons nog nooit afgeskeep nie; inteendeel. Terwyl ons die sogenaamde "prosperity gospel" as 'n ernstige dwaling beskou, vertrou ons die Here om ons te bewaar van 'n armmansmentaliteit. En ons het 'n broertjie dood aan die speel van 'n armmansrol om mense se simpatie te verwek sodat hulle beursies kan begin lewer.
Sonder om te impliseer dat dit altyd maklik is om op ons manier te leef, kan ons wel in absolute eerlikheid sê dat die Here ons oor die meer as twee dekades nog nóóit in die steek gelaat het nie. Beproef? Ja, dié het Hy al baie. Hoe sou ons anders geloofspiere kon ontwikkel? In elk geval, nog altyd het Hy ingegryp voordat dinge ‘n breekspul kon word.
Waarom leef ons so? Waarom voel ons so sterk daaroor? Waarom wil ons nooit anders leef nie?

Met betrekking tot die Woord van God

Geensins kan of wil ons sê dat die Skrif 'n formele salaris vir voltydse koninkrykswerkers verbied. Natuurlik nie! Maar daar is tog baie in die Woord wat ons aanspoor op óns oortuigingspad.
As die Here Jesus Sy dissipels uitstuur - eers die twaalf, dan die sewentig - is een van Sy konsekwente voorskrifte dat hulle nie geld en klere sal saamneem nie (Mt 10:9-10; Mk 6:8-9; Lk 9:3; 10:4). Natuurlik sê die Here Jesus in Mt 10:10 dat die arbeider geregtig is op sy onderhoud. Daaroor stry niemand nie. Maar hier is tog allermins sprake van 'n formele salaris. Nee, hulle moes die Here vertrou om hulle deur die spontane liefdesgawes van Sy kinders te versorg - of hoe ook al. Só het die Here Jesus en sy dissipels geleef (Lk 8:3). En later sê Paulus op verskeie plekke dat dit vir hom uiters belangrik is om die gemeentes gratis te dien (Hd 20:33-35; 1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Ts 2:8-12; 2Ts 3:7-9). Mens kry 'n soortgelyke gesindheid by Nehemia (5:14-19).
Die hele strekking van die Nuwe Testament sê vir mens die Here se uitspraak in Mt 10:8b is 'n koninkryksbeginsel: "Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet." Uitdeling, diensbaarheid, voetewas! Dis waaroor dit vir dissipels gaan. Dis die wêreld wat aandring op vergoeding vir dienste gelewer. In die wêreld is die reël, "koop en verkoop"; in die koninkryk van God is die beginsel, "gee en ontvang."
Die Skrif is vol beloftes dat die Vader Sy kinders se gebede verhoor en hulle materiëel versorg - te veel om op te noem. Miskien is die locus classicus Mt 6:19-34 - met as sentrale belofte: "... soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" (v.33).
Nog twee verse - beide in 'n "monetêre" konteks - is besonder kosbaar en het ons al dikwels in tye van noute bemoedig: Eerstens, 2Kor 9:8 met sy 5 Griekse "pantas": "En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk" (vgl. ESV). Tweedens, die Grieks van Hb 13:5 met sy 5 negatiewe: "Ek sal jou nie loslaat nie. Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie" (eie vertaling; vgl. Ampl).

Met betrekking tot God

God het 'n innige behae daarin as Sy kinders in alles biddend-afhanklik voor Hom leef - as 't ware uit Sy hand. Natuurlik moet en kan almal van ons so leef, of daar nou 'n vaste inkomste is, al dan nie. Maar ons ervaring is dat 'n mens se beoefening en belewing van hierdie afhanklikheid mettertyd afstomp as jou voorsiening bloot meganies en voorspelbaar opdaag. Al was ons al dikwels benoud, kies ek en Soniah weer en weer die bergpad van 'n meer intieme en opwindende wandel met ons Vader. Ons wil nie voorbarig wees, of onsself op die skouer klop nie, maar ons glo tog dat so 'n lewenswyse Hom behaag en Sy eer dien.
In hierdie wêreld is Mammon god. En min is hulle wat nie elke dag na sy pype dans nie. Nog meer Godonterend is die beheptheid met geld in groot dele van die hedendaagse kerk. Ons begeerte is dus dat ons lewenswyse 'n rigtingwyser mag wees - weg van Mammon af, na die ware God en na Sy koninkryksordes!
Die groot vraag in ons wêreld is nie óf daar 'n God is nie. Die wroeging van derduisende - sowel buite as binne die geïnstitusionaliseerde kerk - is die vraag of die ware God hoegenaamd by ons betrokke is. Die verdwaalde mens van ons dag smag hoopvol na 'n demonstrasie dat dit inderdaad tot in die fynste besonderhede die geval is en dat Hy 'n betroubare hoorder van gebed is. Praktiese deïsme loop immers bakarm en uitdagend onder ons rond. Daarom kan ons as Christene 'n siniese wêreld oor en oor probeer verseker dat God elke dag by ons is, maar as mense nie onweerlegbare bewyse daarvan sien nie, bly hulle skepties en ongelowig (ek weet dit gaan ten diepste oor die Heilige Gees se onweerstaanbare bekeringswerk, maar ons het dit nou oor óns verantwoordelikheid en rol in die proses). My en Soniah se ervaring is egter dat geldgedrewe spotters keer op keer met 'n mond vol tande staan as ons in opregtheid en waarheid God se bonatuurlike voorsiening op 'n onmiskenbare wyse demonstreer. Dit geld soveel te meer as hulle te staan kom voor die feit dat ons gewone mense van vlees en bloed is en dat ons lewenswyse nie bloot speel-speel is nie, maar 'n voete-op-die-grond werklikheid. Immers, as dit by geldsake kom, is ons op die rotsbodem van realiteit. Hier is geen moontlikheid van bluf of selfbedrog nie - jy het of jy het nie. Hier "byt die rubber teer". En wie weet dit beter as die mense van hierdie wêreld!
Dis ons oortuiging dat ál die Here se dissipels die grootse roeping het om só te leef dat skeptiese waarnemers tot die slotsom sal kom dat God nie net leef nie, maar inderdaad gebedsverhorend by ons betrokke is - dat Hy in ons midde is!

Met betrekking tot onsself

Ons is nie asketies nie, nog minder heroïes. Maar ons wil groei na die beeld van Christus.
Dit is ongelukkig 'n feit dat al die geriewe en sekuriteite van ons welvaartsgemeenskap mens al te dikwels hoog en droog uitlig bokant die vlakke waar God se waterpapier op sy beste poleer. 'n Lewe in direkte materiële afhanklikheid van die Vader plaas jou egter in 'n uitnemende posisie om na die beeld van Christus gevorm te word. Want oorvloed kan blitsvinnig omsit in die benoudheid van nie weet hoe jou huispaaiement betaal sal word nie; trouens, ons was al (weliswaar baie selde) onseker oor wat ons môre, oormôre gaan eet.
Daarbenewens bring so 'n lewe dimensies van geloofservaring en -avontuur wat help om jou te bewaar van 'n prosaïese en lou soort Christenskap, sonder enige romantiek in jou liefdeswandel met die Here. Natuurlik is geen avontuur net altyd lekker nie; trouens, dit het noodwendig heelwat oomblikke en seisoene van benoudheid en ontbering. So gaan dit met almal wat soos ons leef (en daar was deur die eeue derduisende!), maar later, weet ons, lewer dit 'n "vredevolle vrug van geregtigheid" (Hb 12:11).
So 'n lewensstyl verleen aan 'n mens getuieniskrag - veral as jy 'n prediker is. Jou gewete getuig dat jy jou oortuigings en verkondiging uitleef. Jy is nie bloot in 'n professie ter wille van sekuriteite en byvoordele nie. Voorts, soos reeds hierbo gesuggereer, verleen dit vrymoedigheid teenoor ongelowiges wat maar té geneig is om jou van sulke skewe motiewe te beskuldig.
Jou hemelse Vader bepaal en orkestreer jou inkomste en lewensstandaard. En wie sal beter weet wat goed is vir jou as Hý. Let op, dit gaan nie net oor afskaal nie; inteendeel. Daardie onvoorsiene piekuitgawes wat so met hierdie wêreld se salarisslawe die vloer kan vryf, is geen probleem vir die Een aan wie die vee op 'n duisend berge behoort nie. En in elk geval het Hy 'n vreugde daarin om, ten minste van tyd tot tyd, die vensters van die hemel oor Sy kinders oop te maak. Daarvan kan ons getuig.

Met betrekking tot die gemeente

Die mankement wat soveel gemeentes teister - die werkgewer-werknemer-sindroom - ontstaan moeilik as 'n pastor en sy vrou soos ons leef. Nee, dit bring in 'n gemeente 'n dinamiek mee van spontaniëteit en wedersydse waardering. Bydraes vir die voorganger en sy gesin is elke keer 'n persoonlike en ad hoc saak. Elke lidmaat besluit self daaroor - oor die óf, die wát, die hóé, die wánneer en die hóéveel. En elke keer as iets gegee word, spring daar 'n liefdesvonk. Dit gebeur moeilik as 'n salaris per debietorder betaal word! Selfs as bydraes anoniem gegee word - dikwels die uitnemende manier, en in ons geval die reël - is dit elke keer 'n klein geloofsavontuur vir sowel gewer as ontvanger. Kosbaar is dit as jy met 'n leë spens en 'n leë beursie in die oggend opstaan en daar is 'n naamlose koevert met 'n paar note in onder deur jou voordeur gestoot. Talle kere het ons dit al beleef - en variasies op die tema.
Geen voorganger kan ooit alles vir almal in die gemeente wees nie. Kry mens dan op die koop toe 'n groot salaris, het mense net minder geduld met jou gebreke - veral as hulle ook nog dink dat hulle 'n beduidende deel daarvan bydra. Dien mens egter die gemeente gratis, sit allerlei verwagtinge blitsvinnig om in waardering. Nou is daar net nie meer so 'n gunstige klimaat vir gesindheidsprobleme en spanninge nie. Elke bydrae wat nou vir die voorganger en sy gesin se onderhoud gegee word, is immers 'n vrywillige gawe wat na willekeur verstel of gestaak kan word.
So 'n lewenstyl help 'n pastor en sy vrou in hulle verhouding met die armes in die gemeente. Enersyds worstel jy nie met allerlei skuldgevoelens oor jou dik salaris, terwyl hulle - wat ook deel van dieselfde liggaam is - op die broodlyn moet leef nie. Andersyds verwyder dit 'n klomp struikelblokke in hulle verhouding met jou. Hulle weet jy is nie 'n "vet kat" nie (Eseg 34:7-10, 17-20). En hulle weet dat jy volledig met hulle ontberinge kan identifiseer.
Op hierdie wyse word 'n gemeente se lewe aansienlik vereenvoudig. Dit help om organisme te bly en om die suigkragte van toenemende institusionalisme te weerstaan. Die administrasie van begrotings, belastings, pensioene, mediese fondse, vakansierekords, telefoonrekenings, ensovoorts kan 'n logge saak raak. Dis waarom soveel kerkraadsvergaderings deur geld en administratiewe sake verswelg word - so totaal anders as wat dit waarskynlik destyds in 'n Nuwe Testamentiese gemeente gegaan het.

Ja, maar ...

Beveel God se Woord nie dat die kudde hulle herder(s) moet versorg nie? Natuurlik! Dit word op verskillende plekke duidelik geleer. Trouens, 1Tm 5:17 maak selfs voorsiening vir "dubbele erkenning" in die geval van uitnemende dienswerk - en vanuit die konteks lyk dit asof die apostel in die eerste instansie materiële versorging in gedagte het. Die vraag gaan dus nie oor die "of?" van versorging nie, maar oor die "hoe?" daarvan.
Doen mens dit op ons manier, is daar niks in enigeen se pad om getrou te bly aan God se opdrag nie. Al wat ons sê, is dat óns op niks aanspraak maak nie, en dat ons oë op ons versorgende Vader gevestig is. Dit was presies Paulus se benadering.
As óns lewenswyse algemene praktyk in die kerk van die Here sou word (ons verwag nie dat dit sommer sal gebeur nie), sal oornag ontslae geraak word van feitlik alle wolwe op kansels - en watter wonderlike seën sal dit nie wees nie! (laat ek net weer beklemtoon, geensins wil ek hier impliseer dat alle predikers wat 'n salaris kry, wolwe is nie - verre daarvandaan!). Want slegs ware geroepenes van die Here is in staat tot dit waarvan ons hier praat; vir 'n huurling is dit verreweg te dik vir 'n daalder.
Is daar nadele aan so 'n benadering verbonde? Eerder dalk enkele gevare.
'n Gemeente sou dalk laks kon raak in hulle finansiële bydraes. Sonder reuse salarisuitgawes, het die gemeentekas nie eintlik veel nodig nie, sou geredeneer kon word. Die oplossing is gewoon dat 'n gemeente hulle prioriteite regkry. Daar moet op die voorvoet gebly word met betrekking tot barmhartigheid en uitreiking. Mense se bydraes is immers in direkte verhouding met hulle gevoel dat hulle gee vir iets wat saak maak. En dis koninkryksnut en ewigheidsbetekenis wat vir ware gelowiges gewig dra.
Dalk kan hierdie benadering insekuriteite by lidmate veroorsaak: as ons voorganger nie deur 'n salaris en byvoordele gebind word nie, hoe weet ons hy dros nie môre nie? Dit mag 'n probleem wees as jy met 'n "huurling" (Jh 10:12) te doen het. Maar dan is dit in elk geval beter as hy sy ry kry. Iemand wat egter sy herdersroeping voor die aangesig van die Here uitleef, hoef nie deur wêreldse sekuriteite vasgebind te word om op sy pos te bly nie.
Kan so 'n werkswyse nie daartoe lei dat die leraar en sy vrou naderhand soveel finansiële kwellinge het dat hulle nie meer op hulle roeping kan konsentreer nie? Ons hoor almal waarsku altyd hierteen. Maar dis nie ons ervaring nie. Daarmee sê ons nie dis altyd 'n maklike pad nie. Maar dit weet ons, as daar dan tye van swaarkry kom, staan dit soos altyd in diens van meer gebed en geestelike verdieping. In elk geval is ons ervaring veel eerder die van genoeg en selfs oorvloed.

Nie verdienste nie, maar genade

Ons beklemtoon weer: ons dink nie ons is méér geestelik as ander omdat ons leef soos ons leef nie. En die Here versorg ons nie ómdat ons kwansuis so toegewyd en heilig is nie. Nee, die Here het beloof, en daarby staan Hy! Ons maak gewoon daarop staat. Sommige wat hier lees, mag nou dink dat ons 'n besonder "groot" geloof het. Glad nie! Laat ek weer sê, die Here het beloof, en daarby staan Hy! En ek en Soniah glo Hom gewoon; ons vat Hom op Sy woord.
Ons weet hoeveel tragiese gebrokenheid daar nog in ons lewens is! Maar die driemaal heilige God was en is ons genadig: ons is in Christus en met God die Vader versoen. Hy lewe, en is by ons betrokke as 'n hoorder van gebed. En Hy is oneindig goed en onkreukbaar getrou. En dis die rede waarom ons onder meer dag na dag kos op ons tafel het. Dis waarom ons elke maand ons huispaaiement kan betaal.

Gee en vir jou sal gegee word

Laat ek net 'n laaste baie belangrike saak aansny. Een van die vreugdes van ons wandel met die Here deur die jare was en is ons uitdelingsbediening. Dit is immers 'n integrale deel van die lewenswyse waaroor ons hier praat.. Luister na die Here Jesus: "Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word" (Lk 6:38). Presies so werk dit steeds vandag. Ons het al geleer, as dit finansiëel druk begin gaan met ons, moet ons nie ophou weggee nie; inteendeel. Volgens Jesus is uitdeling dikwels die manier om voorsieningverstoppings te deurbreek.
Is ons dalk hier by 'n belangrike rede waarom party mense "in die geloof" probeer leef, maar spoedig deur gebrek gedwing word om tou op te gooi? Ek vermoed dat baie van hierdie hartseer-gevalle die gevolg is van 'n armmansmentaliteit wat redeneer dat dit dwaas is om die bietjie wat jy het nog minder te maak deur iets daarvan weg te gee. Maar dis net hier waar die bal misgeslaan word - die koninkryk se somme werk nie so nie; dit werk presies anders om.
Dus, as jy ruimskoots versorg wil word, wees 'n uitbundige uitdeler. Ons groot Leraar en Vors het immers uitdruklik gesê dis hoe dit in Sý koninkryk werk.

Lewensavontuur

Dit waarvan hierdie getuienis praat, is 'n beduidende deel van my en Soniah se dissipelskap. Waarlik, dit het deur die jare baie bygedra om ons lewe in die voetspore van die Here Jesus 'n wonderlike avontuur te maak! Ons is diep dankbare en vervulde mense - en elke dag maar weer verwonderd dat ons só bevoorreg is.
Ek sluit af met Ps 16: 5-9
"Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig."

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment