Wednesday, June 1, 2011

KNIBBEL No.5 - DIE HISTORIESE CHRISTELIKE GELOOF

VAN DIE BEFAAMDE NEGENTIENDE EEUSE PREDIKER IN LONDEN, C.H. SPURGEON, SE LIDMATE HET OP 'N SLAG NA HOM TOE GEKOM MET 'N KWELVRAAG: "Mnr. Spurgeon, hoe kan ons weet die evangelie wat jý preek is die waarheid - as daar so baie ander predikers in hierdie stad is wat 'n ander boodskap verkondig?"
As dit destyds 'n brandende vraag was, hoeveel te meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur 'n duisend stemme wat elkeen daarop aanspraak maak dat hý die waarheid beet het. Verwarring en onsekerheid is aan die orde van die dag. Sommer nou die dag nog was Apartheid reg, en vroue-ouderlinge en kindernagmaal onbybels. Maar verskil hiervan vandag, en jy word beskou as bespotlik en fundamentalisties. Dan praat ons nie eers nie van die vraagtekens wat amper daagliks in ons media deur bekende teoloë oor Jesus se maagdelike geboorte, Sy wonders, Sy opstanding - en selfs Sy historisiteit geplaas word. Niks van die verlede is oënskynlik meer goed nie; elke geloofsbaken van vorige geslagte word verskuif.
Is dit 'n wonder dat die kerk (ek praat in algemene terme) in duisende gemoedere 'n patetiese voorwerp van bespotting is? Ons maak aanspraak daarop dat ons 'n boodskap van ewige heil verkondig, maar op ons pad daarheen is ons so deurmekaar soos 'n konfytblik vol erdwurms - want soveel hoofde, soveel sinne. Jy sê, die veragting wat ons ervaar moet mos verwag word - dis gewoon die vervolging wat Jesus se dissipels noodwendig in hierdie God-vyandiggesinde wêreld beleef. Nee, my vriend, daar is 'n groot verskil tussen veragting en vervolging. 'n Kerk wat waarlik kerk is, sal inderdaad altyd 'n mate van vervolging ken, maar eweneens sal Hd 2:47 'n werklikheid wees: die Geesvervulde gelowiges na die Pinksterdag was "in guns by die hele volk" (Hd 2:47, OAV).
Spurgeon se antwoord aan sy jongmense, in 'n tyd toe ongeloofsteologie net so aan die orde was in Europa as vandag hier by ons, getuig van nugtere wysheid: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand." En toe noem hy 'n hele rits name van bekende en gerespekteerde gelowiges deur die eeue en vanuit talle denominasies wie se teologie en arbeidsvrug vas bly staan het ten spyte van 'n duisternis aanslae.
Spurgeon het hom beroep op die kerk se oortuigings- en waarheidskonsensus deur die eeue. Hy het hom beroep op die historiese Christelike geloof! "Meet my aan die geskiedenis," het hy per implikasie gesê, "en kyk of ek iets nuuts verkondig." Hy het nie voorbarig en ambisieus sy eie teologiese wielletjie probeer ontwikkel nie. Hy was doodtevrede om presies dieselfde evangelie as die Puriteine en die Reformatore, die kerkvaders en die martelare, die Apostels en Jesus Christus te verkondig. Dis waarom Spurgeon ook 'n ander gesegde gehad het: "If it is true, it is not new; if it is new, it is not true!" Wat hy verstaan het, moet ons almal verstaan: al leef ons in 'n wêreld wat gedurig verander, is daar sekere dinge wat nooit verander nie. Dis vaster as die berge. God verander nooit nie, ook nie Sy waarheid nie. Die mens het sedert die sondeval moreel niks gevorder nie. Die vorige eeu het die bloedigste oorloë van alle tye opgelewer. En kyk maar na die wêreldtoneel vandag. Dis omdat mense se sonde en verlorenheid nie verander het nie. Dus het God se verlossingsplan en evangelie nie verander nie. En daarom verander die kerk se roeping en verlossingsboodskap ten diepste ook nie!

'n Paar belangrike perspektiewe

# Vryheid is een van dié karaktertrekke van die Christelike lewe. Tog is daar sekere ononderhandelbare absolutes waarsonder ware geloof, prediking en kerkwees ondenkbaar is. Terwyl daar dus duisende dinge in hierdie lewe is wat vir die Christen en sy Bybel totaal om 't ewe is, is daar sekere waarhede en norme wat ons kompromieloos moet vashou.

# Binne die groot spektrum van Bybeluitsprake is daar sekere dinge wat belangriker is as ander. Die Bybel is nie oor alles ewe duidelik nie. Maar op ander dinge dring die Skrif met groot nadruk aan - sodanig dat jy daarsonder nie 'n Christen of waarlik kerk kan wees nie. So, byvoorbeeld, spel die Skrif nie glashelder uit presies hoe die kerk georden en geregeer moet word nie. Maar oor God se verlossingsplan en die hóé van ons redding kan daar nie die minste twyfel of willekeur wees nie. Dit gebeur op één manier, en net so. Wyk slegs net effens daarvan af - en jy tuimel die donker dieptes van verlorenheid in!
Vir baie eeue reeds is daar 'n wonderlike gesegde in die kerk: In necessariis unitas; in nonnecessariis (dubiis) libertas; in omnibus caritas. Ons kan die Latyn vry soos volg vertaal: In die noodsaaklike dinge moet daar eenheid wees; in die nie-noodsaaklike of onsekere dinge, vryheid; en in alles liefde.

# Een van die merkwaardigste eienskappe van die evangelie is sy universele aanpasbaarheid en relevansie. Maak nie saak van watter eeu of kultuur jy is nie - die evangelie is vir jou. In die groeibodem van ryk en arm, geleerd en ongeleerd, oud en jonk ontkiem en groei die kerk ewe goed. Dis omdat die absolutes - die necessariis - van die geloof universeel en tydloos is. Dit spreek die nood en vrae van álle mense aan.

# Soos dit met fondamente gaan, lê ook die geloof se absolutes onder die oppervlak. Dit is dus nie altyd voor die hand liggend nie. Veral onvolwasse Christene sukkel om dit te sien; tewens, om dit behoorlik te verstaan, is een van dié merktekens van geestelike volwassenheid.
Soort soek soort in die wêreld. Maar die gemeente van Christus word deur Hóm gebou. En Hy verheerlik Homself dikwels deur 'n uiteenlopende verskeidenheid van mense by mekaar te voeg. Tot die mate wat sulke mense kan onderskei tussen die noodsaaklike en die nie-noodsaaklike, tot daardie mate sal hulle nie net in harmonie saamleef nie, maar ook die heerlikste gemeenskap geniet. As hulle egter dinge wat sekondêr is só begin opblaas dat dit wat eintlik saak maak, verdring word, is dit nag vir so 'n gemeente.

# Dis nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in plek vasbeton sal wees. Sonder vaste benchmarks weet ons eenvoudig nie hoe om hedendaagse leringe en praktyke te beoordeel nie. Sonder die onbeweeglike ankers van universele, absolute en objektiewe waarheid, is ons soos kurkproppe op die see van 'n duisend menslike opinies.

# Dekades se ryswater-prediking het die kerk in Suid-Afrika beswaarlik toegerus om die absolutes van ons geloof te ken, en om vanuit eerste beginsels te dink en te onderskei. Vaste Bybelse spyse kan selde verteer word. Mense is suspisieus, selfs vyandiggesind teenoor "dogma" - omdat hulle onseker is oor wat hulle moet glo en wat nie. In hulle wanhopige soeke lees hulle alles wat voorkom, en raak net meer en meer deurmekaar. Helaas is die tipiese Christen vandag allermins voorbereid om die relativisme van hedendaagse postmodernisme die hoof te bied. Dis tragies om te sien hoe honderde gemeentes en tienduisende Christene elke nuwe resep uitprobeer as dalk die allerantwoord op hulle insekuriteite. As jy vir niks staan nie, val jy immers vir alles

# Hoewel vandag akuut, was daar nog altyd 'n behoefte aan die duidelike verstaan van die hoekpenne van ons geloof. Daarom is daar van die vroegste tye af gepoog om dit te formuleer. Die necessariis moes van die nonnecessariis onderskei word. Dit was nodig om te weet wat kettery is en wat nie.
Die neerslag hiervan vind ons in die talle en talle belydenisskrifte wat deur die eeue ontstaan het. Wie hierdie konfessies aandagtig bestudeer, kom elke keer weer onder die indruk van die insig en versigtigheid waarmee dit verwoord is. Dit was waarlik die vadere se doel om die essensiële van die nie-essensiële te skei, en om eersgenoemde so akkuraat moontlik te definiëer.
Natuurlik moet steeds onthou word dat die belydenisskrifte menslike geskrifte is. Dit is dus feilbaar - en bly altyd toetsbaar aan die Woord van God as die enigste norm. Tog is hulle baie nuttig om ons te help om die eerste beginsels onder die knie te hê.
Lê die probleem nie juis hier nie? Is hierdie belydenisskrifte nie so uiteenlopend in hulle standpunte dat hulle meer bydra tot die verskeurdheid in die liggaam van Christus as iets anders nie? Hierdie algemene persepsie is die gevolg van onkunde! Die verskillende protestantse konfessies stem sekerlik 95% ooreen, hoewel dit verskillende woorde mag gebruik. Dit geld selfs van die wat aan verskillende kante van die spektrum lê - soos die Anglikane se 39 Articles enersyds, en die Baptiste se 1689 Belydenis andersyds. Eintlik loop die paaie net uiteen as dit oor kerkregering en die doop gaan.
Wat van die leer oor die laaste dinge? Dis betekenisvol - en onderstreep die vadere se wysheid - dat hulle eskatologiese detail as intra-konfessioneel beskou het. Omdat hulle verstaan het dat Bybelse gegewens oor die laaste tye verskillend vertolk kan word, het hulle hul beperk tot die groot lyne waaroor almal saamstem. Die fyner besonderhede is as non-necessariis beskou.

Drie neutedop formulerings

# Dit is baie nuttig om ons essensiële geloof in 'n neutedop te formuleer. Hoe kernagtig kan ons dit stel? Wat is die minimum vereistes vir regsinnigheid?
Onderstaande drie formules kan baie help om ons deur die doolhof te lei (oor hierdie onderwerp is natuurlik baie meer te sê):

# Belangrikste en omvangrykste is die vyf wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie:

Sola et tota Scriptura (alleen die Skrif, maar die hele Skrif); Sola gratia (alleen genade); Solus Christus (alleen Christus); Sola fide (alleen geloof); Soli Deo gloria (alleen die eer van God).

# Nog 'n formule fokus spesifiek op ons verlossing en die gevolge daarvan:

Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen, tot goeie werke, en daarom volgens goeie werke.

# Derdens is daar die volgende:

Ons geloof moet Woordgefundeerd, Godgesentreerd en Christusgefokus wees.

Enkele slotgedagtes

# Een van die kosbaarste lesse wat individuele Christene kan leer - selfs gemeentes - is om hierdie eenvoudige gesegde uit te leef: Major in God's majors, not in His minors! Tot die mate wat ons behep raak met sekondêre sake, tot daardie mate is ons geloof minder as wat dit moet wees en verspil ons tyd, energie en geld op dit wat nie regtig sentraal is in God se wil vir ons lewens nie. Dit is een van die grootste redes waarom Christene se dienswerk nie standhoudend is nie en spoedig in vlamme opgaan (1Kor 3:11-15). En baie dikwels is presies dit die rede waarom selfs ywerige gelowiges met mekaar twis kry.

# Veral predikers moet hierdie les ter harte neem. As hulle prediking nie Woordgefundeerd, Godgesentreerd en Christusgefokus is nie, hoe kan hulle verwag dat die Here dit moet seën en dat dit mense moet opbou in die allerheiligste geloof? Stories mag vermaak, mensgesentreerde sentimentaliteit mag tot trane beweeg, sambokprediking mag mense verskrik, kort ou prekies ("sermonettes") mag in vleeslike kerkgangers se kraam pas, omdat dit hulle gewetens troos - maar niks hiervan bekeer regtig nie en dit bou nie op nie, want dis nie Christus-prediking nie. En niks of niemand is meer sentraal, fundamenteel en noodsaaklik in God se Woord as Hý nie.
Jan Alleman assosiëer die woord "om te preek" met moets en moenies ("Moenie vir my préék nie!"). Hulle dink aan prediking in moralistiese terme. Waarom? Daar kan net een rede voor wees: dis hoe daar tipies gepreek word - nie net deur predikante nie, maar ook deur ouers en onderwysers. Maar dis alles behalwe wat die Nuwe Testament met die begrip bedoel. Prediking volgens die Skrif is om die groot dade van God te proklameer - veral Sy grootse verlossingswerk in Christus. En jy hou nie op nie, voordat mense nie van vensterbanke afval nie (Hd 20:9). Sê die apostel nie in 1Kor 2:2 nie: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde." En die Galasiërs word deur Paulus daaraan herinner dat hy Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het (OAV) sodat hulle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang (Gl 3:1).
Spurgeon se Christusgesentreerdheid blyk uit die eerste woorde wat hy in 'n nuut-geboude Metropolitan Tabernacle gesê het - die kerkgebou wat die skares moes akkommodeer wat na sy prediking kom luister het: "Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees. Ek is nooit skaam om te sê dat ek 'n Calvinis is nie; ek maak geen geheim daarvan dat ek 'n Baptis is nie; maar as iemand my vra wat my diepste geloofsoortuiging is, kan ek net één antwoord gee: Jesus Christus, en Hy alleen!"

# In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer van 'n rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Wanneer dit swaar sneeu, word die rif heeltemal bedek. Die bank sneeu bo-oor is dan ononderbroke en aaneenlopend. Die eenheid daarvan is egter net 'n illusie. Want die skerp rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, na die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, na die teenoorgestelde vallei.
Dit is egter nie al nie. Die een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die yskoue water van die Noordsee. Sneeu wat 'n tree daarvandaan smelt, beland egter in die Geneefse meer, daarna in die Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See - 'n duisend myl vanaf die Rynmonding.
Dis wat 'n waterskeiding doen - dit sny, dit verdeel, dit bepaal bestemmings. Waterskeidings is lotsbepalend.
Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is. Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit - tot geslagte ná ons. Maar wat van hierdie fundamentele saak geld, geld uiteraard ook van die ander absolutes van ons geloof. God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne dus net 'n halftree, versteur die benchmarks net effens - en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings van tallose mense ingrypend raak.
Laat ons nooit vergeet nie: die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm. 'n Enorme roeping rus op ons!

Enkele vrae vir bespreking

1. Vir watter waardes en waarhede is jy bereid om te sterf? Waar trek jy die streep?

2. Die begrip fundamentalisme het sy oorsprong aan die begin van die 20ste eeu, toe 'n aantal evangeliese kerkleiers en teoloë die fundamentele waarhede van die Christelike geloof in 'n reeks boeke uiteengesit het. Sedertdien het dit 'n baie negatiewe begrip geword. Wat verstaan jý vandag onder die begrip? Is die prediking in jou gemeente fundamentalisties of nie? Wat dink jy daarvan?

3. As jy na die kerk van ons dag kyk, wat dink jy daarvan? Wat doen jy daaraan?

4. Met sekere mense wat hulleself Christene noem, is dit baie moeilik om gemeenskap te ervaar. Waarom? Wat beskou jy as minimum vereistes vir in-diepte gemeenskap en eenheid?

5. Wat weet jy van die Postmodernisme - die lewens- en wêreldbeskouing wat toenemend ons samelewing beheers?

6. Wat doen jy om jou kinders toe te rus vir die uitdagings van môre? Hoe leer jy hulle die fundamentele waarhede van die Skrif, en om vanuit eerste beginsels te dink?

7. As ons dan moet oppas dat ons nie deur bloot moralistiese opvoeding van ons kinders klein Fariseërs maak nie, wat moet ons dan wel vir hulle leer?

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment