Wednesday, April 3, 2013

KNIBBEL NO.38 - MYMERINGE OOR DIE SKEPPING



My geleerde en gewaardeerde broer,


Ek antwoord kortliks op jou vriend se brief en reaksie op my preek (ek neem aan dis E54: Gaan in!). Natuurlik is jy welkom om hierdie antwoord ook vir hom aan te stuur.


1.         Waarom só reageer op die preek  -  wat myle weg is van die kwessies wat hy aansny? Dit laat my lont ruik. Is jou vriend 'n Christen? Ek bedoel wedergebore. Indien nie, is sy kwaai reaksie 'n goeie teken. Let op, ek praat nie van sy oortuigings nie, maar van sy reaksie, want dan dui dit waarskynlik op 'n gewete wat nie tot rus wil kom nie  -  en sulke mense is dikwels nie ver van die Koninkryk af nie. Maar genoeg hieroor.


2.         Ek is nie 'n fundamentalis nie (wel in die sin wat die woord ’n honderd jaar gelede gebruik is, maar nie in die sin wat dit vandag gebruik word nie). Terwyl ek met alles in my glo dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is, glo ek nie dat alles letterlik verstaan moet word nie. Sonder twyfel is daar talle gedeeltes wat beeldspraak/simboliek gebruik. Dis tog so duidelik soos daglig. Maar uiteraard pla dit my nie in die minste nie  -  ek lees die betrokke gedeeltes soos ek enige simboliek lees.

            Wat die eerste 11 hoofstukke van Genesis betref, kan niemand met finale sekerheid sê wie dit geskryf het, wanneer dit geskryf is, en hoeveel daarvan letterlik verstaan moet word nie  -  en dit geld by uitstek die eerste 3 hoofstukke.


3.         Daar is baie toegewyde en ware Christene wat Gen 1-3 nie letterlik lees nie, en ek het geen swaard met hulle te kruis nie; inteendeel. Hoe jy dit egter lees, hou uiteraard nie net implikasies in vir jou historiese oortuigings nie, maar ook vir jou siening van die geskape werklikheid om jou.


3.1       So aanvaar, byvoorbeeld, 'n briljante wetenskaplike en toegewyde Christen  -  Francis S. Collins, hoof van die "Human Genome Project"  -  evolusie. Dit beteken dat hy 'n baie ou skepping (biljoene jaar) aanvaar en dat God middelik geskep het. Sy boek "The Language of God" (uitgewers: Thomson Gale  -  Detroit, New York, London), is nie net baie interessant nie, maar ook hoogs insiggewend. Dit beteken nie dat ek dink hy is reg nie, maar van die tafel af kan 'n mens nie 'n man van sy statuur vee nie  (net die ewigheid hou vir ons finale antwoorde oor hierdie kwessie in). As jy nog nie sy boek gelees het nie, verkoop jou volstruisleerskoene en kry 'n kopie (ek is oortuig dit is steeds in druk).


3.2       Dan is daar diegene (en daar is baie van hulle, en ek voel myself nie ontuis in hulle geledere nie) wat glo dat daar wel ewolusie binne grense was (hulle onderskei dus tussen ewolusie, wat hulle aanvaar, en ewolusionisme, wat hulle as 'n  spekulatiewe filosofie beskou  -  en hulle is vir seker reg). Hulle glo dus dat die grense tussen die 4 ryke van stof, plant, dier en mens nie oorgesteek is nie (en ek dink nie die wetenskap kon nog ooit afdoende bewys dat dit wel gebeur het nie; dit is bloot 'n aanname  -  wat "hook, line and sinker" gesluk word deur naïewe miljoene). 'n Moeite-werd boek oor hierdie standpunt, is Norman L. Geisler en Frank Turek; I don't have enough faith to be an Atheist; Crossway, 2004. Ook dié boek is steeds in druk. Verkoop jou flannelbroek en kry hom in die hande, as jy hom nog nie het nie.

            Hierdie standpunt aanvaar dus ook 'n baie ou skepping, met Gn 1-3 se skeppingsdae as baie lang tydperke. En is dit regtig 'n ketterse siening? Die argumente van sewe-kalenderdae-Christene, hoewel nie sonder gewig nie, kan waarskynlik almal, meen ek, beantwoord word. In elk geval gaan die letterlike verstaan van Gn 1-3 gebuk onder enorme probleme  -  waarvan die botsing met die getuienis van verantwoordelike wetenskap en voor-die-hand-liggende-waarneming nie die geringste is nie. Per slot van rekening is algemene en besondere openbaring in volkome harmonie. En dit sal uiteraard in ons denke ook die geval wees, mits ons beide openbarings van God aan die mens reg verstaan.


4.             Die voordeel (en dis enorm) van bg. twee beskouings, is dat dit toelaat dat geloof en verantwoordelike wetenskap heel gemaklik hand-om-die-lyf loop. Te veel onkundige en kwaadwillige nie-Christene dink dat Bybelgelowiges hulleself noodwendig kop-in-die-sand bluf. Terwyl dit dalk waar is van baie naïewe Christene, wil ek graag glo dat dit nie van my geld nie  -  wat as 28-jarige kwasi-natuurwetenskaplike en windgat-ingenieurtjie 'n uit-die-bloute en lewensveranderende ontmoeting met die opgestane Christus gehad het en na byna 40 jaar steeds kinderlik-gelowig (maar ook gevul met die vrese van die Here) my uitstrek na die dag as ek die almagtige en ewige Skepper van hemel en aarde van aangesig tot aangesig sal ontmoet. Of daar geleentheid vir vrae sal wees, weet ek nie, maar ek sal nogal graag wil weet presies hoe die kosmos ontstaan het, en oor hoe 'n lang tydperk. En ek sal myself staal vir ’n antwoord wat dalk nooit deur iemand hier en nou bedink is nie. Maar laat ons gladnie verbaas wees as al hierdie nuuskierigheid op daardie stadium verdwyn het nie, met die enigste vraag wat oorbly  -  hoe ons Hom beter en beter kan ken en verheerlik.


Groetnis.

jbiC

Nico


1 comment:

  1. Skitterend, eerlik en gebalanseerd. Baie dankie.

    groete
    Johannes

    ReplyDelete