20 November 1999
Prof. J.C. Coetzee
Molenstraat 123
Potchefstroom
2531
Geagte Professor,
U sal verbaas wees oor hierdie brief - indien u my nog kan onthou. Ek dink darem so. Ek het in 1981 graad gekry by die Teologiese Skool, nadat my kandidaatstudie die vorige jaar deur die Kuratorium opgeskort is.
U sal vra waarom ek na amper 2 dekades van my laat hoor. Ek weet nie eintlik nie, behalwe dat ek besef ek moes dit lank, lank gelede reeds gedoen het. Na 'n dol jaar kon ek uiteindelik geleentheid vind om bietjie weg te breek. Ek sit tans soos my vinger iewers in die voetheuwels van die Drakensberg, en soos dit gaan as jy in afsondering is en soggens kan slaap totdat jy vanself wakker word, begin jy spoedig voorraad opneem van jou lewe. Nostalgie is 'n snaakse ding. Vanmôre word ek toe wakker met 'n verlange na die Doppers en na Potchefstroom. En ek wens ek kan 'n teologiese probleem waarmee ek stoei met u bespreek.
Dit daar gelaat. Maar twee dinge wil ek vir u sê:
1. Baie dankie vir die insette wat u destyds - oor jare heen, selfs al van Stellenbosch se dae af - in my lewe, denke en oortuigings gemaak het. Ek was 11 jaar voltyds op universiteit en het baie uitstaande dosente gehad, maar geeneen van hulle se klasse het ek meer geniet en meer waardeer nie. U het kop en skouers bo almal uitgestaan. Tot vandag toe, as ek diep verwondering en genot put uit die oopgrawe van openbarings-historiese verbande, onthou ek by wie ek geleer het hoe om dit te doen.
2. Ek is baie jammer oor die verleentheid - selfs smarte - wat ek u destyds aangedoen het tydens my krisis by die Teologiese Skool. U was immers die Rektor van die TS en moes uiteraard midde-in die hele saak staan - en dit terwyl u nie sonder 'n sekere begrip en empatie was nie (so het ek nog altyd geglo). Ek onthou steeds met ontroering u trane toe u die dag in u kantoor die brief van skorsing vir my gegee het - hoe ons saam staan en huil het aan weerskante van u lessenaar. Maar daar was groter kragte as ons aan die werk. Wat myself betref, kan ek die volgende sê: die Kuratore was sonder twyfel reg - ek sou liederlike skade as Gereformeerde predikant gedoen het! Ek het net eenvoudig baie meer hitte as lig gehad, en as die twee dinge nie in balans is nie, is jy as predikant 'n ramp wat soek om te gebeur in 'n gemeente.
Maar ten spyte van alles was dit die Here se manier om my uit te haal uit 'n sisteem waarin ek sou versmoor het. Ek bedoel dit nie negatief nie; dis ék wat die jukskeibreker was (en is?). Tot vandag toe is ek Hom dankbaar dat Hy my halstarrigheid en dwaasheid geduld het (kan dit wees dat party mense eers in hulle middeljare begin groot word!) toe ek ver en wyd en wild rondgehardloop het. Sekere van ons leer oënskynlik net deur skades en skandes! Hoe ook al, uiteindelik kan ons net alle eer aan ons Hemelse Vader gee, want dis Hý wat alles in Sy uitverkorenes se lewens na die goeie toe laat heenwerk - naamlik gelykvormigheid aan Sy Seun (dit was nog u wat die dinamiek in Rm 8 se Grieks onder my aandag gebring het).
U kan seker aan my trant hoor dat ek geen bitterheid oor destyds se gebeure het nie. Aanvanklik was daar soms iets van 'n bitsigheid (soos die van 'n hond wat onder 'n kar beland het), maar algaande het dit plek gemaak vir 'n diep dankbaarheid oor die Here se goedheid in my en Soniah se lewens. Dit beteken nie dat ek nie dikwels intens terugverlang nie. Dit was immers 'n ingrypende verplanting destyds.
Weliswaar het ek teologies teruggekeer na my wortels. Na 'n klompie ongemaklike jare in die Charismatiese Beweging het ek en my vrou ons uiteindelik in 1990 totaal daarvan losgemaak. Sekere gebeure het ons gedwing om doelbewus te begin vra na die eerste beginsels en ononderhandelbare hoekpenne van ons geloof - na die necessariis. Naas ons aanvanklike bekering was dit die mees lewensveranderende ervaring wat ons ooit gehad het. Na 6 maande se wroeginge was ons deur en deur gereformeerd in ons oortuigings - nee, gewoon Bybels, Godgesentreerd, Christusgefokus! Eintlik was dit tot 'n groot mate al voor die tyd van ons waar - dis waarom ons square pegs in die Charismatiese Beweging was. Maar nou was daar definisie en 'n aangekome klarigheid.
Vérder kan ek helaas nie terugkeer nie. Ek is steeds 'n oortuigde baptis. Baie dink mens kan nie meteen gereformeerd en baptisties wees nie. Dis egter nie waar nie - nie teologies nie, en ook nie histories nie. Vanaf die 1630's vloei daar 'n ononderbroke Reformed Baptist -stroom, veral in die Engelse wêreld (maar ook vandag toenemend in die derde wêreld, oftewel die twee-derdes kerk). Seker die bekendste Reformed Baptist was Charles Haddon Spurgeon. En saam met hom kan ek net van harte sê: "I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, 'It is Jesus Christ!'".
En dan is ek evangelies. Ek glo en preek dus van harte dat álle mense (ook my eie kinders) nodig het om wedergebore te word, en dat die evangelie die krag van God tot redding is. Ek dink nog altyd dat die wydverspreide idee van "verbondskinders se veronderstelde wedergeboorte" 'n vernietigende doodsteek is in Afrikaans-gereformeerde geledere. Nooit kan ek die Here genoeg dank dat Hy ses-en-twintig jaar gelede herskeppend op hiérdie selfgenoegsame en selfgesentreerde huigelaar beslag gelê het nie!
Ek wil u nie verder vermoei met persoonlike besonderhede nie, maar moet net meld dat ek en Soniah, na jare in die Vaaldriehoek, deur daardie gemeente na Pretoria gestuur is met die oog op gemeenteplanting (ja, die Afrikaners is vinnig besig om sendingobjekte te raak). Ons woon nou amper 6 maande hier. Dis 'n voorreg, maar ook 'n enorme uitdaging. Hier is honderde - nee, derduisende - kerklik ontnugterdes. Baie het slegte ervaringe in die Charismatiese Beweging gehad, talle het net moeg geword vir vormgodsdiens, en toenemend baie is totaal verward en bykans sonder geloof te wyte aan die modernistiese en mensgesentreerde teologie wat ook al hoe meer in Afrikaanse kerklike kringe 'n vastrapplek begin kry. Meeste van hierdie mense noem hulleself nog Christene, maar baie behoort nie meer aan gemeentes nie. En hulle kinders raak kerklos, kerkloos en post-christelik groot. Dis 'n tragedie wat mens nie onder woorde kan bring nie. As ons iets kan doen om van hierdie verdwaaldes weer op die pad van die waarheidsevangelie te bring, sal dit óns pad van skade en skande oor en oor die moeite werd maak.
Om Christus die Gekruisigde en die evangelie van God se vrye genade by elke geleentheid te preek, is die grootste voorreg van my lewe. Ek het oneindige vreugde in my roeping!
Ek vertrou dat dit met u en u gesin goed gaan. Mag die Here u ryklik seën - u wat 'n seën vir soveel ander was, en sekerlik steeds is.
Hartlike groete in Jesus Christus,
Nico van der Walt
No comments:
Post a Comment