Friday, May 27, 2011

KNIBBEL No.15 - DIE TRAGEDIE VAN FRANKRYK

DIE LOSBANDIGE EN WELLUSTIGE UITSPATTIGHEID VAN DIE KONINGS HET NA DIE ARISTOKRASIE OORGESPOEL, EN VAN HULLE AF WEER NA DIE GEWONE MENSE. Godsdiensbeoefening het veeleerder 'n massa korrupsie geword. Die kloosters was neste van sedelose onheiligheid. Onkunde was wydverspreid en selfs afstootlik. Net die adel was effens geletterd. Selfs kon baie van die priesters nie lees of skryf nie. Anargie was orals en die verrotting van wellewendheidstandaarde weersinwekkend. Die samelewing het uitmekaar geval. En die kerk was onreformeerbaar. So was Frankryk aan die begin van die 1500's.
Maar toe kom Luther. En protestantse idees het van Duitsland af begin oorspoel. En toe begin Johannes Calvyn in Parys werk. Maar gou-gou moes hy vir sy lewe vlug. Hoewel hy nooit weer na sy vaderland sou terugkeer nie, sou niemand die Franse reformasie méér beïnvloed as hy nie. In die Here se genade was hy die man wat die Hugenote - want so is die Franse Christene genoem - se geloof gerig en onder woorde gebring het. En in Geneve, Calvyn se werksplek, is die Hugenote se predikante opgelei. Hy het altyd vir hulle gesê, "Stuur vir ons stokke, en ons stuur vir julle pyle terug."
Binne enkele jare is 88 predikers uit Geneve na Frankryk gestuur. Hierdie manne moes in die nag reis, dikwels langs obskure paadjies. Bedags moes hulle wegkruip - in solders, agter vals mure, in hooimiedens. Baie het nooit hulle bestemmings bereik nie. Jare se opleiding het meermale, voordat vrugbare werk gedoen kon word, op 'n brandstapel geëindig. Diegene wat wel hulle eindpunte bereik het, het hulle by groepies ondergrondse protestante gevoeg - wat uiteraard maar te dankbaar was vir opgeleide mense wat hulle dieper in God se Woord, waarhede en weë kon inlei. Hierdie gemeentes het onder die seënende hand van die Here verstommend gedy, ten spyte van die feit dat alles teen hulle getel het. Die enkele protestantse gemeentes in 1555 het binne 8 jaar tot 2150 vermeerder. 'n Konserwatiewe skatting wil dat 3 miljoen van Frankryk se 20 miljoen mense vroeg in die 1560's reeds lidmate van hierdie gemeentes was. Sommige historici skat die syfer veel hoër.
Frankryk het begin gloei met die lig en vrymaking en ondernemingsgees wat die Godgesentreerde geloof altyd meebring. Kort voor lank het die Hugenote bekend begin raak vir hulle hardwerkendheid en onkreukbare morele waardes. 'n Spreekwoord het in die samelewing ontstaan: "So eerlik soos 'n Hugenoot." Baie van hulle was vakmanne wat net die beste werk gelewer het en deur almal vertrou is oor hulle integriteit.
Wat die Puriteine in Engeland was, en die Covenanters in Skotland, was die Hugenote in Frankryk. Dat die Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde geloof elke keer hierdie kwaliteit mense voortgebring het, is waarlik 'n getuienis vir die veredelende krag van die ware evangelie.
Maar die vervolging, wat van die begin af fel was, het toegeneem in intensiteit. Sondag, 24 Augustus 1572, staan bekend as St. Bartlomeasdag. Gewetenloos en geslepe is groot getalle protestante in Parys uitgemoor. En in die volgende dae het die slagting in die res van Frankryk voortgeduur. Die bekende historikus, Philip Schaff, skat dat 30 000 protestante in die bloedige paar dae gesterf het.
Dit het meegebring dat 'n paar honderdduisend Franse uit die land gevlug het - tot so ver soos Amerika. Uiteindelik - heelwat later - het 'n klomp van hulle ook aan die Kaap geland en ons volkslewe wonderlik verryk.
Die verlies vir Frankryk was onherstelbaar. Die groot historikus, Lecky, 'n klipharde ongelowige, skryf: "The destruction of the Huguenots ... was the destruction of the most solid, the most modest, the most virtuous, the most generally enlightened element in the French nation, and it prepared the way for the inevitable degradation of the national character, and the last serious bulwark was removed that might have broken the force of that torrent of skepticism and vice which, a century later, laid prostrate, in merited ruin, both the altar and the throne."
Warburton skryf: "The best blood of France deluged the battlefield, the brightest genius of France was suffered to lie neglected and starving in prison, and the noblest characters which France ever possessed were hunted like beasts ...".
Só vinnig het die reformatoriese geloof, voor 1572 en St. Bartlomeasdag, regoor die land gespoel, dat dit begin lyk het of die ganse Franse volk spoedig voor die evangelie en sy verheffende effekte sou swig. Maar helaas ...
Smiles, in sy "Huguenots in France", skryf: "It is curious to speculate on the influence which the religion of Calvin, himself a Frenchman, might have exercised on the history of France, as well as on the individual character of the Frenchman, had the balance of forces carried the nation bodily over to Protestantism, as was very nearly the case ..."
Vandag weet ons dat dit in God se raadsplan anders uitgewerk het. En ons weet dat Frankryk sedertdien net dieper en dieper in 'n blinde heidendom ingesink het. Minder as 1% van die bevolking is vandag min of meer evangeliese gelowiges. Mag die Here in Sy oneindige genade die ontbinding stuit en selfs omkeer - soos Hy al meermale in ander gevalle gedoen het.
In Suid-Afrika beleef ons geen noemenswaardige vervolging nie. Maar die magte van die bose se aanslag teen die ware evangelie is ewe fel, weliswaar op 'n ander manier. Hoe gaan kerkhistorici oor 'n honderd jaar vandag beoordeel? Wat sal hulle van ons sê, ons wat onsself Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde Christene noem? Dat ons heroïes ons staan gestaan het en opgetree het soos ons moes, of dat ons soos paddas was in 'n pot wat op 'n vuur gesit is om te kook? Wat gaan ons kinders en kleinkinders by ons erf?
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment