Friday, May 27, 2011

KNIBBEL No.16 - ENKELE GREPE UIT DIE RUSSIESE KERKGESKIEDENIS

'N SKOT, ENE MELVILLE - IN RUSLAND BEKEND AS VASSILIJ IVANOVITCH - was 'n agent van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. Hy het 60 jaar van sy lewe gewy aan Bybelverspreiding in die omgewing van die Kaukasiese Gebergtes en die suidelike streke van Rusland. Hy het ook boeke versprei en die evangelie-inhoud verduidelik oral waar hy getrek het. Hy het gekies om ongetroud te bly ten einde die uitdra van die evangelie in daardie onbereikte gebiede sy enigste lewenstaak te maak. Verskeie ander kolporteurs het in sy voetspore gevolg en na ander dele van Rusland uitgereik.
    'n Ander sendeling vanaf die Britse Eilande se werk was gans anders, maar nie minder vrugbaar en aangrypend nie. Lord Radstock het Engeland in 1866 verlaat, die evangelie in verskeie lande verkondig, en uiteindelik in St. Petersburg aangekom. Daar het hy Bybelstudies gelei in sommige van die aristokrasie se huise. Die Heilige Gees het dit ryklik geseën en talle vooraanstaandes het tot bekering gekom onder sy eenvoudige en op die man af prediking. Selfs mense in die koninklike familie het tot geloof gekom. Hierdie gelowiges het die Bybel met kinderlike gehoorsaamheid begin uitleef. Hulle het hulle laat doop en gereeld die Nagmaal gevier. En in hulle weelderige wonings het arm, eenvoudige en ongeletterde Christene sy aan sy met van die land se rykste en magtigste mense gesit - saamgebind deur die band van hulle gemeenskaplike lewe in Christus.
    Een van die bekeerlinge was 'n skatryk grondbaron, Kolonel Vassilij Alexandrovitch Paschkov. Hy het die danssaal van sy paleis beskikbaar gestel vir byeenkomste en self die evangelie oral verkondig - in tronke, hospitale en Christelike byeenkomste. Sy rykdom het hy aangewend om die Bybel te versprei, om boeke en traktate te druk, om die armes te help en om die Koninkryk van God op elke denkbare manier te bevorder. Uiteindelik word Paschkov in 1880 deur die Russies Ortodokse Kerk verbied om byeenkomste in sy huis te hou. Hy hou egter daarmee vol en word dan onder invloed van die Heilige Sinode eers uit St. Petersburg verban, en later uit Rusland. Meeste van sy eiendom is gekonfiskeer.
*   *   *

'N KLEINBOER WAT OP DIE PLATTELAND NOORD VAN OMSK GEWOON HET, IS OPGEROEP OM IN DIE JAPANESE OORLOG TE GAAN VEG. Hy kry 'n Nuwe Testament van 'n mede-soldaat en by die lees daarvan kom hy tot bekering. Die eertydse drinker en geweldenaar het 'n nuwe mens geword. Nugterheid, eerlikheid en vrede het sy lewe begin kenmerk.
    Terug by die huis na die oorlog het die veranderinge in hom sy vriende opgeval. Veral verstommend was sy rugdraai op die godsdienstige seremonies van die Ortodokse Kerk. En in sy huis het nie 'n enkele ikoon oorgebly nie. Daarenteen het hy gereeld die Nuwe Testament saam met 'n vriend gelees. Kort voor lank het ook dié tot geloof gekom.
    Die plaaslike priester kon dit nie langer duld nie en onder sy aanmoediging is die nuwe Christen deur sy pa en broers flenters geslaan. As sy vrou hom nie met groot sorg verpleeg het nie, sou hy dit gewis nie oorleef het nie.
    Intussen het nog mense by aanhoor van die Nuwe Testamentiese boodskap Jesus Christus begin volg. By elke moontlike geleentheid het die nuwe dissipels bymekaargekom om uit die Skrif te lees. Een van die dinge wat hulle spoedig raakgesien het, was dat die vroeë kerk sonder uitsondering nuwe gelowiges gedoop het. Die oud-soldaat het gevolglik sy nuwe broers en susters begin doop in die Irtishrivier wat by hulle dorpie verbyloop. 'n Nuwe Testamentiese gemeente het ontstaan. Elkeen het sy mede-gelowiges gedien met die gawes wat die Here gegee het, en spoedig is ouderlinge bevestig. Week na week, op die Dag van die Here, het hulle in eenvoud bymekaargekom - onder meer om die Here se dood te herdenk in die Nagmaal.
    Vervolging het nie uitgebly nie. Die Christene se huise en ander eiendom is verniel. En self is hulle gereeld aangerand. Maar hulle het die vernedering, verwerping en skade met waardigheid en sonder weerwraak verdra. Soos dit altyd gaan, het steeds meer mense egter die Here aangeneem - totdat die helfte van die inwoners naderhand tot geloof gekom het. Die Ortodokse Kerk se weerstand het gekwyn. En in hierdie dorpie was niks ooit weer dieselfde nie.
*   *   *

WAT BEGRYP DIE MEESTE VAN ONS VAN DIE PRYS WAT SOMMIGE VIR HULLE GEHOORSAAMHEID AAN DIE HERE MOET BETAAL? Onderstaande kykie na die lotgevalle van 'n negentiende eeuse Russiese gesin is nie net hartverskeurend nie, maar ook 'n streng aanklag teen die murmureringe wat so maklik oor ons lippe kom.
    'n Arbeider en sy gesin in die suide van Rusland was ywerige lidmate van die Nuwe Testamentiese gemeentetjie in hulle dorp. Die gelowiges het baie gely vir hulle geloof. Een nag het gewapende polisie ook by hierdie man se huisie ingebreek. Nadat hy, sy swanger vrou en hulle kinders mishandel is, is hy in hegtenis geneem. Die vrou het in kraam gegaan en moeder en baba is altwee oorlede. Vier kinders het agter gebly - die oudste 'n dogter van dertien.
    Om hulle pa so gou moontlik op te spoor en weer met hom verenig te raak, het nou vir hierdie kinders 'n obsessie geword. Spoedig het hulle gehoor dat hy verban is na Vladikavkas in die Kaukasiese gebied. Vasbeslote om by hom aan te sluit, het hulle die lang en moeisame tog oor die uitgestrekte steppe aangepak. Soms het hulle gelowiges raakgeloop wat hulle gehelp het, ander kere moes hulle bedel om te oorleef.
    By hulle bestemming aangekom moes hulle verneem dat hulle pa verder aangestuur is na Tiflis. Totdat hulle sterk genoeg was om verder te trek, het die plaaslike gemeente hulle versorg. Uiteindelik kon hulle die lang en steil pad oor die Kaukasiese Gebergtes aanpak. In Tiflis is hulle hartlik deur die Christene ontvang. Maar terselfdertyd moes hulle die hartverskeurende nuus hoor dat hulle hul vader net gemis het en dat hy ver weg gestuur is - na 'n afgeleë gebied digby die Persiese grens. Verder kon hulle eenvoudig nie. Maar hulle ontroosbare hartseer het twee van die broeders so in die hart gegryp dat hulle onderneem om die pa te gaan soek. Hulle sou vir hom proviand neem, asook die nuus dat sy kinders veilig en versorg is.
    Helaas, toe die twee manne na 'n baie lang trek by hulle bestemming aankom, is die verbysterende nuus aan hulle meegedeel dat die man by sy aankoms eenvoudig op sy bed gaan lê het om aan 'n gebroke hart te sterf.
Nico van der Walt
Bron : E.H.Broadbent, The Pilgrim Church, p. 327-334

No comments:

Post a Comment