Monday, June 6, 2011

KNIBBEL No.18 - DIE STOFFIE IN GOD SE HAND

"As ek U hemel aanskou,
die werk van U vingers,
die maan en die sterre
waaraan U 'n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?"
(Ps 8:4-5)

HOE GROOT IS GOD? WAT IS SY KRAG? WIE IS ONS SKEPPER? Met wie het ons te doen? Aan wie moet ons eendag verantwoording doen - almal van ons?
Hy het Homself aan ons geopenbaar in sowel algemene as besondere openbaring, in sowel natuur as skriftuur.
Natuurlik is Sy Woord vol uitsprake oor Sy almag, maar dikwels raak ons afgestomp daarvoor. Dis dan dat 'n nugtere besinning oor die grootheid van Sy skepping ons weer help om tot ons sinne te kom - om weer ons plek as skepsele te ken. En in ons wandel met God is daar beswaarlik iets belangriker as dit.
Wat meer is, skrywer hiervan het al male sonder tal in sy binnekamer gevind hoe 'n paar oomblikke se bepeinsing oor die algemene openbaring hom help wanneer sy geloof in die besondere openbaring - die Woord - begin dof raak het. Almal van ons beleef God soms as onwerklik wanneer ons in gebed tot Hom moet nader. Dan kan die waarnemings van die wetenskap soos 'n lens dien om ons Skepper weer in geloofsfokus te bring.
Kom ons dink dus vir 'n paar minute na oor die duiselingwekkende grootheid van die heelal om ons - aan die hand van 'n klompie benaderde en afgeronde syfers.

Die aarde

Die wêreld se hoogste berge toring ongeveer 9 000 m (9 km) bo seevlak uit. Op sy diepste is die oseaanbedding 10 000 m (10 km) onder seevlak.
Die aarde se middellyn is 'n stuk of 13 000 km, wat beteken dat die omtrek by die ewenaar so 'n 40 000 km is.
Hierdie bol wat eeu in en eeu uit deur die ruimtes dryf, het 'n massa van 6 000 miljoen miljoen miljoen ton.
Dit bied tans 'n tuiste aan 6 000 miljoen mense (waarskynlik selfs meer) - elkeen met sy eie storie, lewensomstandighede, aktiwiteite, begeertes en ambisies. As hierdie mense sy aan sy in rye van 3 000 sou staan, en elke ry 1 m uitmekaar is, sal die kolom mense van ongeveer 3 km breed vanaf Beitbrug tot in die Kaap strek.

Die son

Sy middellyn is 108 maal dié van die aarde, naamlik 1,4 miljoen km. Dit beteken dat meer as 'n miljoen aardbolletjies in die son ingepak sou kon word.
Die maan beweeg om die aarde in 'n sirkel met 'n middellyn van 774 000 km. As mens die son sou kon uithol, was dit net nodig om vanaf sy middelpunt 'n raps meer as halfpad na die oppervlakte toe te grawe ten einde genoeg spasie vir die aarde én sy maan te maak.
Die son se vlamme bereik hoogtes van 800 000 km. Dis tweemaal die afstand hiervandaan maan toe, en 20 keer rondom die aardbol.
Hierdie ligbron van ons straal soveel energie uit dat dit elke sekonde 4 miljoen ton ligter word. Dis genoeg energie per sekonde om die aarde teen huidige behoeftes vir 'n miljoen jaar te voorsien. Dit laat mens wonder hoe lank die son nog gaan skyn. Maar bekommernis is onnodig, aangesien hy genoeg skop oor het vir nog baie miljoene jare.

Die sonnestelsel

Dit bestaan uit 9 planete wat met hulle stuk of 30 mane om die son roteer. Die aarde is een van die klein planeetjies. Jupiter is die grootste. Mens sou 1 300 aardbolletjies daarin kon pak.
Hoe groot is alles? Naaste aan die son is Mercurius - so ongeveer 60 miljoen km daarvandaan. Die aarde is 150 miljoen km vanaf die son. En die verste planeet, Pluto, dwaal amper 6 000 miljoen km vanaf ons vuurbal rond (deesdae word gewonder of Pluto inderdaad 'n planeet is).
Dis syfers wat mens se denke laat duisel. Kom ons bou dus 'n skaalmodel iewers op 'n groot Vrystaatse vlakte. In die middel parkeer ons 'n groot vragmotor se voorhaker of perd. Laat dit die son verteenwoordig. Tree dan 300 lang eenmeter-treë af, en sit daar 'n albaster-ghoen neer. Dis die aarde. Hou dan aan stap tot jy so 'n 1 500 m van die trok af is. Daar word Jupiter - die grootste van ons planete - dan deur 'n groot strandbal verteenwoordig. Hou verder aan stap en sit 'n ertjie by die 12 km merk neer. Dis Pluto.
Elkeen van hierdie planete beweeg in sy eie wentelbaan teen 'n snelheid veel groter as die van 'n koeël uit 'n geweer. Hulle handhaaf hulle afstande van mekaar en elkeen bly met matematiese akkuraatheid op sy bepaalde skedule. Dit geld natuurlik ook vir die mane wat om die planete wentel.

Snelhede en afstande

Tot nou toe kon ons met kilometers regkom. Maar as ons verder die ruimtes wil in, het ons iets meer nodig - baie meer.
Lig beweeg teen 300 000 km/sekonde. Dis 7½ maal om die aarde elke sekonde. Hieruit het sterrekundiges 'n lengtemaat ontwikkel. 'n Ligsekonde is dan 300 000 km; 'n ligminuut 60 maal verder; en 'n ligjaar gevolglik 10 miljoen miljoen kilometer. Hiervolgens is die maan 1⅓ ligsekondes van ons af; die son 8½ ligminute; en Pluto 5½ ligure. En ons naaste ster? Alfa Centauri is 4⅓ ligjaar van ons af!

Die melkweg

Ons sonnestelsel is deel van 'n groter sterrestelsel of galaksie - die Melkweg. Dis die breë gordel sterre wat mens op 'n helder aand van horison tot horison kan sien strek.
Dit bestaan uit minstens 'n 100 000 miljoen sterre soos ons son (sommige reken daar is baie meer). En ons son is gladnie een van die grotes of warmes nie. Antares is 97 miljoen keer groter as ons ligbron. En Sirus - 9 ligjaar weg - is so warm dat die aarde sou smelt en in damp opgaan indien dit so naby as die son aan ons sou kom.
Hoeveel is 100 000 miljoen? Dis die aantal sekondes in 3 000 jaar, die tyd wat sedert Koning Dawid se lewe tot vandag toe verloop het! Dis die aantal letters in 30 000 Afrikaanse Bybels!
Hoe groot is die Melkweg? Met 100 000 miljoen sterre sou mens dink dat daar nie meer plek vir 'n muis is nie. Allermins. Die gemiddelde afstand tussen die Melkweg se sterre is ongeveer 30 ligjare (300 miljoen miljoen kilometer). Óns sonnestelsel lê so twee derdes na die rant toe - so 'n 33 000 ligjaar vanaf die Melkweg se middelpunt.
Die Melkweg is nie bolvormig nie, maar lyk eerder soos twee pierings wat omgekeerd op mekaar neergesit is. Die deursnit daarvan is 100 000 ligjaar, en die "hoogte" op sy dikste ongeveer 20 000 ligjaar.
Die Melkweg roteer as 'n geheel! Hoe vinnig? As mens van 'n omtreksnelheid sou kon praat, is dit in die orde van 1,5 miljoen km/uur, oftewel 420 km/sekonde. Wie se verstand kan dit verwerk? En waarom slinger ons nie almal hoenderkop op hierdie tollende skyf rond nie? Wel, mens word nie eintlik dronk met 'n omwentelingsperiode van 225 miljoen jaar nie!
Nog is dit nie die einde nie. Galaksies kom tipies in groepe voor. Ons eie Melkweg is deel van 'n tros van ongeveer 30 galaksies. Weliswaar is die Melkweg een van die grootstes - waarskynlik tweede na M31, wat twee maal ons dimensies het, en dubbeld soveel sterre. Die afstand na M31 is in die orde van tweemiljoen ligjaar.
Ons weet nie hoeveel sulke galaksie-trosse in die heelal is nie, maar sterrekundiges meen ons moet in terme van baie miljoene dink!

Die heelal

Hoe groot is die skepping? Geen mens weet nie! Met ons teleskope het ons al ruimtes verken waarin ver meer as 'n 100 000 miljoen melkweë sou kon inpas. Wat ons wel weet is dat die heelal besig is om teen 'n ontsagwekkende tempo groter te word. Dit dy uit soos 'n ballon wat opgeblaas word. Dis moontlik om die spoed te meet waarmee sterrestelsels van ons af wegbeweeg - en in sommige gevalle is dit so hoog soos 80 000 km/sekonde.
Gee die heelal nog steeds geboorte aan nuwe ruimtes? Is God steeds besig om te skep?

Die Hubble-teleskoop

Hierdie teleskoop wat in die ruimte ingestuur is, het oor die afgelope paar jaar talle verbysterende foto's teruggesein aarde toe. Daarvan word van tyd tot tyd gepubliseer. Een van die mees aangegrypende verskyn onder meer op die voorblad van Gideon Joubert se boek, Die Groot Gedagte. Dis 'n foto van M16 (die Arend-newel) in die konstellasie van Serpens (die Slang) - 7 000 ligjaar hiervandaan. Hubble het dit op die eerste April 1995 aarde toe gestuur.
Die foto vertoon drie massiewe pilare gas (glo digte molekulêre waterstof) wat soos geweldige hoë donderwolke lyk. In elkeen van hulle is ontelbaar baie sterre aan 't vorm. Bo-op elke wolk steek klein, klein "vingertjies" uit, wat volgens Joubert elkeen groter as die sonnestelsel is!
Die Beeld van 15 November 1995 sê dat die grootste van hierdie drie sterrewolke ongeveer een ligjaar hoog is. Gestel jy sou van hierdie wolk afval en tuimel teen dieselfde snelheid as wanneer mens hier op aarde uit 'n vliegtuig val, sal dit meer as 5 miljoen jaar duur voor jou liggaam onder aankom. Of as 'n passasierstraler teen togsnelheid van bo na onder sou duik, sal dit hom net meer as 'n miljoen jaar neem.
En dis net die wolk. Hiervandaan soontoe is 7000 maal verder! En anderkant M16? Nog en nog en nog "wolke" - miljoene der miljoene!

Waarlik,
ek is 'n stoffie hier op aarde,
wat 'n stoffie in die sonnestelsel is,
wat 'n stoffie in die Melkweg is,
wat 'n stoffie in die heelal is,
wat 'n stoffie in die palm van God se hand is.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment