Wednesday, June 1, 2011

KNIBBEL No.7 - DIE NAWEEK TOE ONS RYK WAS

'N JAAR OF TWEE GELEDE GAAN EK EEN VRYDAGMIDDAG VOOR 'N LANGNAWEEK VIA INTERNET OP ONS BANKREK IN, net om te sien hoe sake staan. As my bankstaat op die skerm verskyn, kan ek my oë nie glo nie. Daar is R300 000 deur 'n anonieme skenker op ons rekening gedeponeer! Ek kyk weer en weer, maar dit bly daar staan. Met 'n stem wat van aandoening bewe en met papnat handpalms gaan roep ek Soniah en Ouma Darling. En ek moet bontstaan met nat waslappies, want die vrouens wil flou word. Ons is ryk, stinkryk!
Weliswaar is die geld nie dadelik beskikbaar nie - eers oor 'n week of wat. Maar dit maak nie saak nie. Dit gee ons kans om behoorlik te beplan. En daarmee begin ons onverwyld. Soniah dink aan nuwe nommertjies en huisverbeterings, Ouma begin droom oor 'n nuwe rolstoel met vere en skokbrekers, en ek ... wel, dis mý geheim. Saterdagoggend (en ook weer die middag en die aand) is alles onveranderd op my bankstaat. En Ouma se vlugsout is op. Sondag staan my bankstaat so vas soos die berge. Maandagoggend vroeg-vroeg ry ek en Soniah Worcester toe. Exclusive Books sal oop wees, al is dit 'n vakansiedag. Ek is op soek na Vacationing in the World's Most Exclusive Hotels. Op pad terug ry ons by Worcester BMW verby. Ons sê niks nie, maar loer skalks na mekaar. Maandag lag ons baie en gaan stap huppelend. Ouma protesteer kamtig, maar sy kraai soos lanklaas as ek haar rolstoel (steeds stampende) met skreeuende bande om die draaie stoot. Nooit het ons geweet dis só lekker om ryk te wees nie!
Dinsdagoggend gaan ek weer bankstaat toe. Jy sal dit nie glo nie. Daar staan nóg 'n R300 000 - 'n tweede inskrywing! Nou begin die poppe éérs dans!
Uitasem roep ek vir Soniah - dit hou net nie op nie! Sy is fyner as ek: "Wat beteken daai strepie voor die syfer? Is dit nie 'n minus-teken nie?"
Baie dankie Absa vir 'n wonderlike naweek! Ons sal jou nooit vergeet nie!
Net 'n laaste opmerking: die essensie van wat ek hierbo geskryf het, is waar, maar as jy die aandikkings glo, sal jy van my 'n oortreder van die negende gebod maak.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment