Tuesday, June 28, 2011

KNIBBEL No.28 - DIE ARBEIDSVERORDENING

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip." (Gn 1:28).
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (Gn 2:15).

DIE ARBEIDSVERORDENING LÊ PER IMPLIKASIE IN DIE SABBATSVERORDENING - en spesifiek in die opdrag om gereeld te rus (Gen2:2-3). Om uit te span het immers geen betekenis as dit nie teen die agtergrond van arbeid verstaan word nie. Maar in die eerste instansie berus die arbeidsinstelling op die uitdruklike opdragte wat Adam ontvang het. Die mens is in die tuin geplaas om te werk.
Volgens Gen 2:15 moes die mens die tuin bewerk en oppas. Laasgenoemde moet verstaan word in die sin van versorg, omsien na, in stand hou - en nie in die sin van bewaak teen bedreigings nie. So iets is tog ondenkbaar in die volmaakte wêreld voor die sondeval. Die NIV se, "to take care of", is in die kol.
Die arbeidsopdrag het volledig by die mens se verhewe status en waardigheid gepas. Dit was nie 'n straf of 'n las nie; inteendeel, dit was deel van God se seën oor die mens. Arbeidadel! Arbeidsgenot!
Hierdie feit moet ons as gelowiges waarsku teen die wêreld se negatiewe instelling met betrekking tot arbeid. Werk is nie gegee as deel van die vloek nie. Dit was en bly 'n skeppingsverordening. Dis deel van die mens se basiese samestelling en roeping om te wil en te kan werk. Daarsonder boet hy lewenskwaliteit in, raak hy die sin van sy bestaan byster, verloor hy sy menswaardigheid.
Dit moet ons ook waarsku teen die veragting van nederige handewerk wat eweneens so voorop is in ons samelewing. Dis 'n onbybelse mentaliteit. Laat ons nie vergeet wat die Here Jesus vir die helfte van Sy lewe hier op aarde gedoen het nie. Vir seker het Hy nie die bleek, maer hande van middeleeuse skilderye gehad nie. Hy het groot, sterk werkershande gehad - skrynwerkershande. En waarskynlik sterk voorarms en skouers - dit was voor die dae van elektriese kraggereedskap.
Die opdrag van Gen 1:28 is baie betekenisvol - veral die opdrag om die aarde te onderwerp (OAV). Sonder twyfel dui dit op die ontwikkeling en benutting van al die basiese grondstowwe en potensialiteite waarvan ons wêreld so oorlopens vol is. Dit impliseer nie net die aanwending van energie nie, maar ook ontdekkende denke en navorsing. Dit impliseer ontleding en samevoeging, verwerking en raffinering, ontwikkeling en kanalisering.
Soos die mens nie vir die Sabbat gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens; so is die mens ook nie vir die aarde gemaak nie, maar die aarde vir die mens. Hy moet daaroor heers en dit - dis vir sy versorging, welsyn, genot en bevrediging gegee!
Daar is natuurlik 'n nog meer verhewe rede waarom die mens die aarde moes (en steeds moet!) verken en onderwerp - die verheerliking van God, die Skepper. Die aarde behoort aan die Here in sy totaliteit, en is vol van Sy heerlikheid. Ontdekking van sy Maker se almag, goedheid en menigvuldige wysheid, was voor die sondeval die ongevalle mens se primêre motivering en aansporing om die skepping te ondersoek en te benut. So is sy dae gevul met oorstelpte lof.
In die volmaakte staat was daar dus geen konflik tussen plig en plesier, geen teenstelling tussen heelhartige spontaniëteit en hardwerkende gehoorsaamheid nie. In gehoorsaamheid lê die mens se hoogste vervulling immers.
Selfs die gevalle mens vind dat daar min dinge is wat hom so fassineer en vasgevang hou as wetenskaplike navorsing. Ongelukkig gaan dit so dikwels gepaard met eiebelang en selfbevrediging. Dit beteken egter nie dat die herskepte mens moet wegbly van die laboratorium, die fabriek en die konstruksieterreinnie nie. Inteendeel. Maar hy moet seker maak hy word deur die regte motivering gedring. Die Christenwetenskaplike en gelowige ondernemer se leuse word in Ps104:24 verwoord: "U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep."
Hoeveel vreugde bring die embrionale realiteite van die nuwe skepping nie nou al vir die gelowige nie! Hoeveel vervulling put ons nie uit dienswerk vir die Here nie! Ps119 is vol van hierdie ekstase: "U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet. Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe." (v.54-56).
Ons herskepping is egter nog onderweg. Teenoor ons hart van harte, beur die vlees steeds weg van plig en gehoorsaamheid af. En dis die oorsaak van soveel van ons pynlikste frustrasies - ons onvermoë om God te behaag soos ons regtig wil. Ons is herskep om inspanningloos te sweef, maar die grawitasiekragte van oorblywende sonde dwing ons weer en weer grond toe. Ek het die hart van 'n arend, maar die vlerke van 'n flap!
Daar kom egter 'n dag van afronding, 'n oomblik van vervolmaking. Dan sal die reste van gevallenheid en die smet van sonde, finaal iets van die verlede wees! En ons sal ons Maker dien met ongebreidelde oorgawe - op 'n nuwe aarde. Ons sal werk en ontdek, ons sal navors en bou - onvermoeid. Tot in ewigheid sal ons nie genoeg kry nie. Want ons sal die Here al hoe meer leer ken. En Sy lof sal ons hoogste vreugde wees.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment